Die wenners van die KKNK se Kunste Onbeperk-pryse gesels oor die waarde van toekennings en die uitdagings ná verering
CHRISTIAAN J DE SWARDT
SKRYWER WILLEM ANKER – NIE MIN NIE!
“Vir blootstelling en erkenning is toekennings natuurlik voordelig vir enige loopbaan, maar dit is ook soms verlammend as jy ná ’n hewige klop op die skouer weer daardie einste skouer aan ’n nuwe wiel moet waag,” sê Willem, wat vanjaar die KKNK se Kunste Onbeperk-prys vir Vernuwende Denke ontvang het.
“Dit is ‘n groot eer om so ’n toekenning te ontvang. Dit is veral ook ’n aansporing om weer iets te probeer maak. Dus is my toekomsplanne om op een of ander wyse betaal te word vir om op een of ander wyse besig te bly met stories.”
En sy lewensfilosofie? “Less is less!”
- Vir vanjaar se fees het Willem die vertaling van agt kort stukke uit Samuel Beckett se Waiting for Godot vertaal vir die produksie Nouliks of niks: Kort stukke met regie deur Sandra Prinsloo, Jaco Bouwer, Lara Bye, Wolf Britz en Amy Jephta, beligtingontwerp deur Wolf Britz en Musiek deur Pierre-Henri Wicomb. Die spelers is Gerben Kamper, Nicole Holm, Albert Pretorius en Llandi Beeslaar. Agt kort stukke. Vyf regisseurs. Vier akteurs. Die kort toneelstukke is minimalistiese teater met narrespel en is gevul met humor, nostalgie en eenvoud. Samuel Beckett is een van die mees invloedryke skrywers van die 20ste eeu. Feesgangers kry vir die eerste keer die geleentheid om die formidabele skrywer se werk in Afrikaans te ervaar.
BALLETDANSER EDUARD GREYLING – DOEL BEREIK
“Dié toekenning was onverwags. Dis is vir my belangrik omdat ek die erkenning graag deel met soveel kollegas wat in my loopbaan saamgespeel het om ons doele te bereik. Dit laat my opnuut besef hoe gelukkig ek was om te kon werk met sulke wonderlike kunstenaars aan my sy,” sê Eduard, wat met die KKNK se Kunste Onbeperk-prys vir Lewenslange Bydrae vereer is.
Eduard is bedrywig, doen navorsing om by die dansargief van die Universiteit van Kaapstad te voeg, beoog om biografieë oor dansers te skryf – én sy eie outobiografie oor sy lewe en ondervindinge. “Intussen wil ek alles wat ek aanpak na die beste van my vermoeëns doen – én dit geniet!”
- Onder Eduard se kuratorskap bied The Cape Dance Company, bekend om ‘n samesmelting van neo-klassieke en kontemporêre dansstyle en gegeur met Afrika-fusion, vanjaar die produksies A Thousand Sheperds en Blue by die fees aan.
- A Thousand Shepherds, met choreografie deur Jose Agudo en oorspronklike musiek deur Vincenzo Lamagna. Dié hipnotiese produksie is ‘n interkulturele versnit van dans en energieke viering van dissipline en toewyding, ‘n pelgrimstog geïnspireer deur geestelike tradisies en rituele.
- Blue, gechoreografeer deur Christopher L Huggins, met musiek deur Arvo Part, Ryuichi Sakamoto en Steve Reich. Ook met werk van die Suid-Afrikaansgebore Bradley Shelver. Dié produksie ontgin manlikheid en mans se fisieke en geestelike assosiasie met die kleur blou in glorieryke, kragtig-viriel-gedrewe danse.
AKTRISE ANTOINETTE KELLERMANN – TROTS EN DANKBAAR
“Toekennings lyk altyd goed op jou CV, want mense dink soms dis wat jou beter maak as iemand anders. Ek doen my werk, maar sonder al die ander mense wat betrokke is/was by ‘n produksie kan ek nie die erkenning of ‘n toekenning vir myself toeëien nie. Maar ek is tog stilletjies trots en dankbaar,” erken Antoinette, wat vanjaar met die KKNK se Kunste Onbeperk-prys vir Vertolking vereer is. “Dié prys het verseker dat ek aan ‘n feesproduksie kan deelneem en solank ek kan speel, is ek gelukkig!”
Antoinette sê sy moet oor twee jaar aftree as lektor by die Universiteit Stellenbosh se dramadepartment. “Dus moet ek nou ernstig werk aan my loopbaan voordat ek doodgaan …”
- Antoinette is vanjaar te sien as die ikoniese Bernarda Alba in Federico García Lorca se klassieke Spaanse drama Die huis van Bernarda Alba (Le Casa de Bernarda Alba) met ‘n kontemporêre verwerking en regie deur die bekroonde Christiaan Olwagen, oorspronklike choreografie deur Ina Wichterich, klankbaan deur Charl-Johan Lingenfelder, stelontwerp deur Rocco Pool en kostuumontwerp deur Birrie le Roux. Die ander spelers is Dawid Minnaar, Lida Botha, Joanie Combrink, Tinarie van Wyk Loots, Cintaine Schutte, Lorraine Burger, Mariechen Vosloo en Anoecha Krüger. Ná die dood van haar tweede man, lê Bernarda Alba, die stoere matriarg, ’n vonnis van rou op. Vir agt jaar sal haar dogters agter slot en grendel leef. In dié versmorende hitte broei ’n rebellie uit – in die naam van die Vader, die liefde en die leemte.
HIP-HOP-KUNSTENAAR HEMELBESEM VAT AFRIKAANS
“Dis goed om te weet êrens is iets raakgesien of raakgelees of raakgeluister. Dié erkenning spoor my nou eers aan om ‘n beter weergawe te skep van wat ek wil uitdruk,” sê HemelBesem, oftewel Simon Witbooi, wat met die KKNK se Kunste Onbeperk Kruispuntprys vereer is.
“Toekennings is net lekker as dit met erkenning en waardering gepaardgaan. En dis al tyd wanneer ek dit sal ontvang ook. Dis so moeilik in Suid-Afrika omdat genres en tale sulke ver draaie verbymekaar loop; ons weet nie eintlik van mekaar nie. Ek’t laas jaar opgetree by so baie geleenthede waar toekennings uitgedeel is, ek’t nie eers geweet dit bestaan nie! As mense toekennings wil uitdeel, is dit belangrik om die speelveld gelyk te maak of ten minste probeer om gelyk te maak. Makliker gesê as gedaan. Ek weet …”
HemelBesem is bedrywig met teaterwerk en ‘n boek waaraan hy skryf. Hy sê hy wens die Bulle wen weer ‘n slag ‘n beker. “My droom is om die lus te ontwikkel om te gim.”
HemelBesem is vanjaar te sien in drie produksies: Die Afrikaansvatter, Op ’n ernstige noot en Rymklets van Oos tot Wes.
DIE AFRIKAANSVATTER
- •Vir skerpskerts, graffiti, musiek, rymklets, ’n tatoeëerder, animasie en meer op een verhoog – en dit boonop álles in Afrikaans – durf jy nie die produksie Die Afrikaansvatter misloop nie. Gaan hoor, sien, proe, voel en ervaar die taal soos nooit vantevore nie, terwyl jy op reis gaan met HemelBesem en sy (woorde-) skatkis deur nuwe woorde, gesegdes en frases in Afrikaans – wat jou soms sal laat skaterlag en ander kere diep laat dink. Met HemelBesem, Coenie de Villiers, Bradley Kanasashi, Babette en Olga, Mak1one, Meli Grey, Yoma, Linkris, Rhyme Author en Poetry Circle Nowhere.
- Ook Op ‘n ernstige noot. Geld praat. En as dit praat, luister almal, maar laat toe dat HemelBesem en die skoonheidsterapeut Yoma (ook Afrikaanse rymkletskoningin) die erns en stres wat tans in Suid-Afrika heers, verlaag, deur aan die lagspiere aandag te gee. Skerpskerts wat aan die sak vat, maar raakvat met rymelary, sang en dans.
- En Rymklets van Oos tot Wes: Afrikaanse hip-hop is aan die orde van die dag. Die skerpste ryme. Beats wat jou laat bons. Rymklets is’n konsert wat van die beste Afrikaanse hip-hop kunstenaars – met HemelBesem, Bliksemstraal, Linkris, Meli Grey, Vito, Early B, Handbreak Turn, DJ Azuhl en hip-hop-kompetisiewenners van Oudtshoorn. Vervaardig deur Bevan Moleveld.
SOURCES
Amy Hayward, Jac Kritzinger en Verskaf