Willie Burger vertel meer van boeke uit Afrika wat agtergrond gee
Verlede week het ek, na aanleiding van lesers se navrae, ’n lysie van “moet-lees-boeke” saamgestel. Die idee hieragter is dat eietydse romans eintlik deel van ’n tradisie is; dat daar sekere konvensies is waaraan skrywers meedoen, wat hulle benut en verbreek. Hoe beter mens die konvensies, die hele tradisie ken, hoe meer put mens ook uit ander, nuwer boeke.
Hierdie week val die fokus op skrywers uit Afrika (Suid-Afrikaanse skrywers uitgesonder). As wit Afrikaanssprekende kind wat in die 1960’s en 1970’s in Suid-Afrika grootgeword het, is ek aan ’n Europese blik op die wêreld blootgestel. Op skool en later op universiteit is literatuur uit Europa vir ons voorgeskryf. In die geskiedenisklas het ons benewens Suid-Afrikaanse geskiedenis (wat op die VOC, die Groot Trek en die Anglo- Boereoorlog gefokus het) hoofsaaklik Europese geskiedenis geleer: die Franse Revolusie, Industriële Revolusie, Kerkhervorming, Russiese Revolusie en die Eerste en Tweede Wêreldoorlog.
Ek het geen herinneringe aan enige Afrika-geskiedenis uit daardie jare nie. Ek kan wel onthou dat volwassenes gepraat het oor die Mau Mau-opstande in Kenia, oor uhuru, en dat die proses van Britse, Franse en Portugese kolonies wat onafhanklik word, met vrees dopgehou is. “It is coming down the line,” het ek ’n man eendag vir my pa hoor sê. Die einde van Britse oorheersing in Kenia sal al met die spoorlyn langs suidwaarts kom, het die man voorspel. En uiteindelik sal dit ook ons beurt wees. Ek glo nie ek was ’n uitsondering dat ek as jong wit Afrikaanse leser nie eens van skrywers uit die res van Afrika geweet het nie. Ek het met ’n wit meerderwaardigheidsgevoel grootgeword en die idee dat goeie en belangrike literatuur deur Europese en Amerikaanse skrywers geskryf word en dat ons eie Afrikaanse skrywers byna net so goed (of beter) is.
Eers jare later, op universiteit, het ek vir die eerste keer van skrywers uit die res van Afrika kennis geneem. Die blik wat Ngũgĩ wa Thiong’o vir my op Kenia se onafhanklikheidstryd met A Grain of Wheat oopgemaak het, was onthutsend. Die gesiglose massa van wrede, irrasionele swart mense met pangas waarmee ek woorde soos uhuru en Mau Mau geassosieer het, ’n dreigende gevaar wat al met die spoorlyn langs suidwaarts beweeg, het in hierdie roman individue geword. Geen irrasionele en primitiewe massa nie, maar mense soos ek, wat met emosies en wroegings oor verraad en met skuldgevoelens worstel. Dit het my klein wit blik op die wêreld geskud.
Ek wens dikwels dat baie Afrikaanse mense wat so haastig op sosiale media skryf, eers net romans soos Ngũgĩ wa Thiong’o se A Grain of Wheat of The River Between sal lees. As jy nog nie Chinua Achebe se Things Fall Apart gelees het nie, behoort dit die volgende boek te wees wat jy aankoop. Dit is waarskynlik die bekendste roman uit Afrika. ’n Afrikaanse vertaling daarvan, deur Chris Barnard, het reeds in 1966 verskyn. Nog ’n Nigeriese skrywer van wie se werk mens behoort kennis te neem, is Wole Soyinka. As ek hier meld dat hy die eerste skrywer uit Afrika was wat die Nobelprys vir letterkunde ontvang het, lyk dit asof ek daarmee impliseer dat ’n skrywer uit Afrika slegs belangrik of goed genoeg is as ’n Europese prys aan hom toegeken word.
Soyinka word in die eerste plek as dramaturg en digter gereken, maar sy memoir, Aké: The Years of Childhood, is meesleurend en bied ’n besonderse perspektief op Nigerië. Ek het onlangs eers deur een van my studente van die Algerynse skrywer Assia Djebar bewus geword. Baie van haar werk gaan oor die Algerynse vryheidstryd teen Frankryk. Haar romans is egter nie net antikoloniaal nie, maar ook antipatriargaal en sy het haar vir vroueregte in die Moslem-wêreld beywer. Al haar romans is nie in Engels beskikbaar nie maar Fantasia: An Algerian Cavalcade en A Sister to Sheherazade is twee romans wat, soos André Brink se werk, sterk polities betrokke is, sonder om aan ’n roerende uitbeelding van menslike ervaring in te boet.
Mens vergeet soms dat ook Egipte deel van Afrika is. Jare gelede het ’n vriend vir my Naguib Mahfouz se The Cairo Trilogy present gegee. Hy het gesê dit sal my help om Egiptiese politiek te verstaan. Die trilogie bied ’n blik op die stryd tussen behoudendheid en modernisering in die Arabiese wêreld. Opvallend van die klompie skrywers uit Afrika wat ek hier noem, is dat hul werk dikwels verbied is of dat hulle in die tronk beland het en in ballingskap moes leef. Mahfouz se werk is byvoorbeeld in Arabiese lande verbied totdat hy die Nobelprys ontvang het. Soyinka is die doodvonnis deur die diktator Abacha opgelê en hy het met ’n motorfiets uit Nigerië ontsnap en baie jare in ballingskap geleef. Die lys belangrike, moet-lees-skrywers is nog baie langer, Ben Okri, Chimamanda Ngozi Adichie, No-violet Bulawayo, Mia Couto … Ons is op hierdie kontinent. Om die literatuur te ignoreer soos in die apartheidtyd gebeur het, is om groot skade aan jou eie leeservaring en aan jou ervaring van die wêreld aan te rig.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.