Ine de Vries sê hoe gesinne sterk verhoudings kan bou
Ine de Vries
Hoe lyk die hedendaagse gesin? Gesinsamestellings binne die moderne gesin verander voortdurend soos wat lewensgebeure en -omstandighede verander – die geboorte van die eerste baba, koms van tweede en derde kinders, ouers wat skei, hersaamgestelde gesinne of enkelouerskap, grootouers wat by die gesin kom woon of ’n ouer wat ver werk.
Hierdie veranderinge verg dat elkeen in die gesin aanpassings maak en dit kan probleme skep as die gesinsidentiteit en -waardes wat die kern van die gesin vorm, nie duidelik gedefinieer is nie.
Hoe lyk jou gesin? Hoe sou julle julself beskryf? Elke gesin is uniek, met unieke gewoontes, optredes, sêgoed en gesindhede. Tog bestaan elke gesin uit individue met verskillende temperamente, behoeftes en ontwikkelingsfases. Die kuns is om ‘n balans te vind tussen elke gesinslid as unieke wese en die gesin as ‘n ware, werkende eenheid. Begrip vir mekaar se persoonlikheidsverskille en insig in elkeen se lewensbehoeftes is die boustene van jul gesinsidentiteit.
Gesinswaardes is elke gesin se kompas waarvolgens daar binne en buite die gesin geleef word en behels die reëls, oortuigings en standpunte wat binne die gesin geld. Bou doelbewus aan hierdie waardes, dit skep ‘n gevoel van geborgenheid en standvastigheid in kinders se lewens. Leer (met woord en daad) vir jou kinders hoe julle as gesin te werk gaan en watter gedrag binne die gesin as aanvaarbaar of onaanvaarbaar beskou word. “Ons as gesin doen dinge so of so.” “Dis nie die manier waarop ons as gesin (noem jul van) optree nie.” Die vestiging en uitleef van jul waardes word veral belangrik wanneer kinders aan groepsdruk blootgestel word en meer aan ander se sienings en gedrag buite die gesin blootstelling kry.
Tyd saam is kosbaar
The family that plays together, stays together. Om tyd vir jou gesin te maak, is die grootste belegging wat jy ooit sal kan maak en betaal die hoogste dividende uit.
Groter werkstres, langer werksure en meer aktiwiteite waarby gesinne betrokke is, veroorsaak dat gesinstyd in die slag bly. Plaas die klem op aktiewe betrokkenheid van al die gesinslede – gaan stap ‘n ent, speel met ‘n bal, speel bord- of woordspeletjies soos “ek sien met my kleine ogie”. Gee elkeen ‘n beurt om ‘n aktiwiteit te kies wat julle as gesin saam kan doen, wissel aktiwiteite af en raak kreatief in jul saamweestyd. Maak hierdie tyd ononderhandelbaar en ‘n vaste afspraak vir die hele gesin. Hieruit word die herinneringe geskep wat jul kinders vir altyd sal onthou.
Alleentyd is ook belangrik
Elke kind wil graag individuele aandag hê en die kind wat dit nie op ‘n positiewe manier kry nie, sal wel sorg dat hy of sy dit op ‘n negatiewe aandagsoekerige manier kry.
Hou dit kort (eerder as glad nie), konsekwent, onverdeeld, ongesteurd, betrokke en onvoorskriftelik. Fokus op aktiwiteite en speletjies waarin die kind belangstel en spesiaal laat voel. Vergeet maar so ‘n bietjie van die opvoedkundige waarde en laat jou kind toe om te speel soos hy of sy wil, sonder om te korrigeer of die speletjie “oor te neem”. Dink saam met jou kind ‘n spesiale naam vir hierdie speeltyd uit, byvoorbeeld “Pietie se aandagtyd”. Ma en Pa kan beurte maak – so kry elke kind individuele aandag en niemand voel uitgesluit nie.
Grootmenstyd
• Elke ma en pa het ‘n behoefte daaraan en moet tyd kry om net weer hulself te wees. Daar is ‘n goeie rede waarom julle huweliksmaatsgenoem word, want dis wat julle is: maats, vriende, vertrouelinge, pêlle. Skep tyd en geleentheid om jou maat te herontdek, sien die mens op wie jy lank gelede verlief was, weer raak.
• Gaan op ‘n propperse date soos dié wat julle gehad het voordat julle getroud is.
• Gesels oor dinge buite jul daaglikse bestaan (soos werk, probleme met die kinders, geldsake), maak grappies en flankeer, speel “onthou-jy-nog”-speletjies.
• Maak tyd om saam te wees – soek ‘n stokperdjie of sport wat julle saam kan beoefen of woon ‘n huwelikverrykingskursus by.
• Sorg dat julle aktief en interaktief in die opbou en instandhouding van jul huwelik betrokke is.
• Lees en bespreek internet- en tydskrifartikels asook boeke oor huweliksverhoudings. Sien jul huwelik as die belangrikste vennootskap wat julle kan aangaan – soos wat elkeen in hul beroep groei en hulself verder bekwaam deur kursusse en seminare by te woon.
• Onthou dat julle die grondslag is waarop jul gesin gebou word.
Ine de Vries is ’n voorligtingsielkundige van die Family Focus Therapy Centre in Bloemfontein. Bel 084 421 3064 of besoek [email protected]