Christiaan J de Swardt gesels met Alexa Strachan oor die Aardklop Nasionale Kunstefees. Lees meer oor haar in ons 5 Augustus-uitgawe
Wat het by die vorige Aardklop gebeur?
Ek was nie by die bestuur van die vorige fees betrokke nie en dra geen kennis of insae oor die gebeure nie. Mense probeer elke nou en dan vir my stories vertel, maar ek probeer om nie my ore vir stories en gerugte uit te leen nie. Wat help dit om te tob? Hier is nou ‘n nuwe fees en ‘n nuwe geleentheid. Ek spits my ore op die oomblik vir die Potchefstromers en hul behoeftes. Hierdie is hul dorp wat as gasheer vir ‘n nasionale kunstefees optree. Ons moet mekaar in Oktober in die oë kan kyk en sê: “Job well done!”
Die fees is gered. Hóé?
Ek was nie in die beginfase van die gesprekke betrokke nie, behalwe dat ek as ‘n Gauteng-vervaardiger deur die koerante genader is om kommentaar te lewer op die nuus dat Aardklop sy deure sou sluit en die impak wat dit op ons as kunstenaars sou hê. Ek het toe ook my teleurstelling gedeel, want vir kunstenaars in die noorde het dit beteken dat daar net platforms vir hul werk in ander provinsies sou bestaan. Hierdie het nie net finansiële implikasies vir die kunstenaars wat staatmaak op die inkomste wat hulle tydens Aardklop genereer nie, maar ook vir gehore en feesgangers.
En toe’s jy daar!
Die groep Aardklop-belanghebbendes het deur ‘n lys van kandidate gegaan en ek is deur die onderhoudproses. Ek glo my bande met Potchefstroom het ‘n rol gespeel in my aanstelling. Ek het 13 jaar hier gebly. Ek was in Laerskool Baillie Park en Hoër Volkskool. En ek is al ‘n leeftyd as vervaardiger aktief in die bedryf betrokke. Ek verstaan die uitdagings om produksies na ‘n fees te bring. Die ondersteunende boodskappe ná my aanstelling was oorweldigend. Die ondersteuning van die kunstegemeenskap maak my effens op my senuwees – omdat die verwagtinge so groot is. Ek benader my taak met ‘n realistiese en gesonde belang vir kunstenaars en feesgangers. Ek dra nou ‘n nuwe hoedjie en ek moet – en wil – ‘n breër gemeenskap se behoeftes bevredig.
Wat bly en wat gly?
Ons fokus op die dinge wat gewerk het. Een hiervan is om die feesterrein terug na die bekende Bult te skuif en die toegangsfooi so bekostigbaar as moontlik te hou. Hierdie nuus is reeds goed deur die gemeenskap ontvang. Ons probeer ook so veel as moontlik van plaaslike verskaffers en rolspelers gebruik maak, hoewel dit nie altyd moontlik is nie.
Wat is jou uitdagings?
Op die oomblik is dit om probleme in geleenthede te omskep. Enige negatiwiteit is vir my ‘n geleentheid en ‘n moontlikheid. Ek het baie min tyd tot my beskikking gehad met die beplanning en program wat al my tyd in beslag geneem het. Maar ek het met mense in die gemeenskap vergader om geleenthede te skep. Die sukses van die fees hang af van almal af.
Wat is die vooruitsigte?
Ek strewe om ‘n balans in die program tussen nasionale en plaaslike talent te tref. Daar is volop plaaslike talent, hoor! Die fees moet ook ‘n breër gemeenskap dien en almal moet welkom voel. Die grootste behoefte wat ek wil hê, is positiewe terugvoering van die Potchefstromers wat trots sal wees op wat vermag is. Ek is baie opgewonde oor die programinhoud. Ons het probeer om in gehaltevermaak en -kuns te belê en om opwindende nuwe debuutwerk in Gauteng aan te bied.
Besoek www.potchfees.co.za vir programinligting
SOURCES
CLINTON LUBBE