Wat beteken ons drome en bygelowe?
Ansja Ferreira
• Lees meer oor spoke en paranormale verskynsels in ons 31 Julie-uitgawe. Klik hier om die tydskrif af te laai.
Drome en bygelowe
Perry Stone skryf in sy boek How to Interpret Dreams and Vvisions dat president Abraham Lincoln in 1865 ’n vreemde droom gehad het wat hy neergeskryf het. “Die droom was oor sy eie dood en het die gebeure noukeurig beskryf van hoe hy deur ’n sluipmoordenaar gedood is tot hoe sy kis in die Oos-kamer gestaan het en deur soldate bewaak is. Twee weke nadat hy dit neergeskryf het, is hy deur John Wilkes Booth om die lewe gebring. Alles het net so gebeur soos wat hy dit gedroom het.
Die skrywer Stephenie Meyer het op 2 Junie 2003 ’n helder droom oor ’n vampier en ’n gewone meisie gehad. Die droom het haar geïnspireer om die boek Twilight te skryf.
Prof Richard Wiseman van die Universiteit van Hertfordshire, skryf in sy boek Paranormality: Why We See What Isn’t There, dat ’n mens baie drome het en baie ondervindinge beleef. Die meeste van die tyd het jou drome nie enigiets met die gebeure te doen wat jy beleef het nie en vergeet jy van jou drome. Soms sal een van jou drome met die gebeure in jou lewe ooreenstem. Wanneer dit gebeur, is dit maklik om die droom te onthou en jouself te oortuig dat dit wonderbaarlik die toekoms voorspel het. In realiteit is dit bloot die wette van waarskynlikheid wat besig is om te werk.
Bygelowe teenoor realiteit
Die Hollandse sielkundige prof Willem Wagenaar verduidelik dat wanneer daar nie ’n bekende oorsaak is nie, mense sekere gebeure aan abstrakte oorsake soos geluk of noodlot toeskryf. Elke kultuur het sy eie bygelowe, word van geslag na geslag oorgedra en kon dalk ontstaan het toe ons voorouers misterieuse omstandighede of gebeure probeer verklaar het met die kennis wat hulle gehad het.
Die oorsprong van algemene bygelowe
Vrydag die 13de
Die bygeloof dat die syfer 13 tot slegte geluk kan lei, word wêreldwyd gevind. Sommige hotelle het nie ‘n 13de vloer nie. Mense weier ook dikwels om op die 13de vloer of in ‘n hotelkamer met die nommer 13 te bly. Baie teorieë hieroor bestaan, onder meer dat Judas, wat Jesus verraai het, die 13de gas by die Laaste Avondmaal was en Jesus op ‘n Vrydag gesterf het.
Daar is selfs ‘n naam vir die vrees van Vrydag die 13de naamlik friggatriskaidekafobie. In 1881 is ‘n organisasie genaamd die Thirteen Club gestig om die reputasie van die nommer 13 te probeer verbeter. Hierdie klub het baie jare bestaan en meer as 400 lede gehad, onder meer vyf Amerikaanse presidente Chester Arthur, Grover Cleveland, Benjamin Harrison, William McKinley en Franklin D Roosevelt.
As ’n swart kat jou pad kruis, jy slegte geluk sal ondervind
Ander glo weer dat wanneer ’n swart kat na jou toe aankom, jy goeie geluk sal ondervind, maar as dit weg van jou af loop, jy slegte geluk sal ondervind. In Engeland word daar geglo dat swart katte goeie geluk na jou kant toe sal bring.
As jy sout sou mors, moet jy ’n knippie sout neem en dit oor jou linkerskouer gooi
In historiese konteks gesien, was sout van hoë waarde en as ’n reinigende middel beskou wat die boosheid kon weghou. Die Romeine het hul soldate met sout betaal. Om ’n knippie sout te neem en dit oor jou linkerskouer te gooi, was om die bose geeste wat moontlik rondom mense geskuil het weg te dryf en sodoende teenspoed weg te hou.
Om onder ’n leer deur te loop, sal teenspoed meebring Volgens museumhistorici in Yorkshire in Engeland is moordenaars vanaf die boonste deel van ‘n leer gehang en daar is geglo dat hul geeste ’n lang ruk agtergebly het waar hulle gehang was. In baie gelowe is die simbool van lewe ’n driehoek. Wanneer ’n leer teen ‘n muur gedruk word, vorm dit ‘n driehoek. Wanneer iemand onder die leer deurgeloop het, het dit die driehoek gebreek, die lewe onderbreek en moeilikheid “ingenooi”. |
Om ’n spieël te breek, sal sewe ongelukkige jare tot gevolg hê
Daar is geglo dat ‘n persoon se spieëlbeeld ’n verteenwoordiging van sy of haar siel of spirituele toestand was. As die spieël breek, breek die persoon se weerkaatsing in die spieël ook en word skade aan die persoon se siel gedoen wat gevolglik spirituele swaarkry sou meebring. Die ware rede vir hierdie bygeloof kan egter gevind word in die feit dat toe spieëls aanvanklik gemaak is, dit ontsettend duur was. As jy een sou breek, sou jy vir sewe jaar as ’n slaaf vir die eienaar van die spieël moes werk omdat min mense genoeg geld verdien het om vir die vervanging van so ’n duur artikel te kon betaal.
Jy moet drie keer op hout klop nadat jy iets goeds wat met jou gebeur het genoem het of die bose geeste gaan dit vir jou ruïneer
Hierdie tradisie dateer terug na antieke gelowe dat geeste in bome woon, veral in eikebome, en dat om die hout te slaan of aan te raak, jy hulde aan hulle bring en hulle jou dan teen teenspoed sal beskerm. Antieke Grieke het ook geglo as hulle ’n eikeboom aanraak, hulle met Zeus sou kommunikeer wat hulle teen teenspoed sou beskerm.
Bykomende bronne
www.trivia-library.com/a/origin-of-common-superstitions-breaking-a-mirror.htm
http://library.thinkquest.org/J0111801/inside/Superstitions/Ladders.html
sangi.sanguinaris.org/creative/originsofpopularsuperstitions.pdf
http://karichristensen.deviantart.com
http://www.world-of-lucid-dreaming.com/paranormality-review.html
www.independent.co.ug
www.oldsuperstitions.com