Janelia Mould skep speel-speel kuns wat stories vertel.
Yolanda Wessels
Janelia Mould het haar eerste mik-en-druk-kamera gekry toe sy elf jaar oud was en jare later het sy die fotograaf Brooke Shaden se werk ontdek. Vandag is mense gaande oor haar konseptuele fotografie. Sy beantwoord ? paar vrae
Hoe het als begin?
Alhoewel ek ‘n diploma in boekhouding verwerf het, was dit net om die rekeninge te betaal. In my hart was ek altyd ‘n skepper. Ek het verlede jaar die boeke weggebêre en my kamera voltyds opgetel. Ek het my eerste DSLR-kamera twee jaar gelede gekry en was vreeslik oorweldig met al die knoppies en opsies! Maar ek glo waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg, veral met al die hulp wat vrylik op die internet is. Ek is mal daaroor om kreatief te wees en die esoteriese, misterieuse kant van die lewe en mense het my nog altyd aangetrek. In Julie 2015 het ek op die Amerikaanse skone kuns-fotograaf, Brooke Shaden, afgekom. Ek kon dadelik met haar vereenselwig en haar werk het my so geïnspireer dat ek geweet het dís die soort fotografie wat ek wil probeer! Ek het fotomanipuleringsagteware aangeskaf en dadelik met die hulp van honderde ure se Youtube tutorials myself begin leer om my kamera en die sagteware tot hul volle potensiaal te gebruik. Cheeky Ingelosi Photography is gebore.
Waaruit put jy inspirasie? My man, my kattekinders en ek is mal oor enigiets antiek of oud. Ons snuffel graag in antieke en pandjieswinkels rond en baie van dié artikels prikkel my kreatiwiteit. Ek het ‘n ooraktiewe verbeelding so enigiets van ‘n strandwandeling tot ‘n liefdesgedig tot ‘n opgefrommelde stuk papier kan my inspireer.
Hoe kies jy jou temas en hoe sluit die bewoording daarby aan? Ek hou van surrealistiese tonele, so ek probeer altyd iets skep met ‘n kinkel en soek dan die gepaste bewoording wat my prent sal komplementeer.
Wie is jou rolmodelle? Brooke Shaden is ‘n groot inspirasie, asook Frida Kahlo, Sylvia Plath en Francesca Woodman.
Hoe bekend is dié soort fotografie? Alhoewel skone kuns-fotografie ‘n bekende kuns/fotografie-medium is, glo ek dat hierdie soort konseptuele fotografie nog taamlik vars is en dat dit nog baie blootstelling en bekendstelling in Suid-Afrika benodig.
Watter tegnieke gebruik jy vir die ontwerp?
Ek is eers ‘n kunstenaar en dán ‘n fotograaf. Deur middel van konseptuele fotografie vertel ek ‘n storie of dra ek ‘n boodskap oor. Al my beelde word saamgestel uit verskillende foto’s wat ek self skiet en daarna deur manipuleringsagteware saamstel om een “storie” te skep. 99% van my werk is selfportrette, grotendeels omdat dit makliker is om myself as karakter te gebruik. Een prent kan tussen agt uur tot vier dae neem om te voltooi. Ek maak gebruik van natuurlike lig, gewoonlik net voor sonop of net ná sononder.
Wat is jou toekomsdrome hiermee? My droom is om eendag deur ‘n galery verteenwoordig te word en uitstallings te hê. Ek is in die proses om my aanlynwinkel op te stel en my werk só te begin verkoop.
Raad vir ander in jou posisie?
Wees lief vir wat jy doen en ander sal dit sien. Onthou: “Doubt kills more dreams than failure ever will.” – Suzy Kassem
handset from heaven
Soar
spontaneous proliferation
what lies beneath
SOURCES
verskaf