As jy reeds elke dieet in die boek probeer het, maar die rolletjies bly klou, verloor jy maklik moed. Inge Scholtz het gaan uitvind wat keer jou
Inge Scholtz
Die meeste vroue belowe hulself gereeld dat hulle weer in daardie denim sal pas wat lank gelede soos ’n droom gesit het. Ná verskeie mislukte probeerslae om gewig te verloor, raak hulle ontmoedig en lyk dié moontlikheid onbekombaar.
Die media wys graag hoe maer mense pret het en hoe gelukkig, suksesvol en geliefd hulle is. Dit skep die persepsie dat ’n maer liggaam ’n tower-medium tot tevredenheid en geluk is.
Só sê Lorraine le Roux, ’n lewenstylafrigter van Kaapstad wat in gewigsverlies spesialiseer. “Wat die situasie vererger, is dat die media ook gereeld wys hoe maer mense die kosse eet wat ons glo ons gewig laat aansit.”
Lorraine verduidelik dat ons almal graag soos die maer mense in die media wil lyk, maar dat ons geneig is om onmiddellike bevrediging te soek. “Wanneer ’n mens dan op ’n dieet gaan en op die koop toe in die media sien hoe maer mense alles eet waarvan jy ontneem word, is dit ’n resep vir ’n dieetramp!”
Ken die feite
Lorraine meen dat mense dikwels verkeerd ingelig is oor gewigsverlies. ”Gewigsverlies gaan nie net daaroor om sekere kosse te vermy en jou energieverbruik te verhoog nie. Ons sit nie gewig aan omdat ons eet nie, maar omdat ons ongesonde, geprosesseerde kos en drankies inneem wat min voedingstowwe bevat en met ongesonde vette en verfynde koolhidrate gelaai is.”
Sy verduidelik dat só ’n lewenstyl in die liggaam se vermoë inmeng om aptyt en gewig natuurlik te beheer. “Dieet is nie ’n natuurlike proses nie en streng diëte versteur die liggaam se natuurlike vermoë om ’n spesifieke gewig te handhaaf.”
Lorraine sê ’n mens moet in gedagte hou dat een plan nie vir almal werk nie. “Mense se liggame verskil en het verskillende dinge nodig. Dit kan meer probleme veroorsaak om kos uit te sny wat die liggaam nodig het.
“’n Jong, aktiewe vrou se dieetvereistes kan baie anders lyk as dié van haar ma wat in haar middeljare is en moontlik ook minder aktief is. Haar niggie wat in die korporatiewe wêreld werk en baie stres ervaar, min tyd het om aan aktiwiteite deel te neem wat stres verlig en minder as ses uur per nag slaap, se liggaam sal weer ander behoeftes hê.”
Ken jouself
“Ek glo dat gewigsverlies gelyk is daaraan om die waarheid te praat,” sê Melissa Janse van Rensburg, ’n lewenstylafrigter van Johannesburg wat haar op gewigsverlies toespits.
“Ons moet eerlik wees oor die feit dat ons geneig is om ongesonde kos te eet wanneer ons gespanne, verveeld of depressief voel. In hierdie omstandighede is ’n mens meer geneig om na kos soos aartappelskyfies, koekies of ander trooskos te gryp. Om jou liggaam gereeld aan daardie soort kalorieë bloot te stel, kan tot oorgewig lei, wat die grootste oorsaak van hartsiektes en diabetes is.”
Lorraine meen dat geprosesseerde kos deel van baie mense se alledaagse lewens geword het omdat dit maklik en gerieflik is. “Vervaardigers voeg ook bestanddele by produkte wat die plesiersentrums in die brein bevredig en ’n mens ’n tyd lank goed laat voel. ’n Mens moet in gedagte hou dat ’n groot pizza net ’n tydjie lank bevrediging veroorsaak, waarna ’n mens na die volgende ding begin soek om jou te bevredig.”
Sy verduidelik dat ’n mens moet verander hoe jy oor jouself, kos en gewigsverlies dink wanneer jy ’n gesonde eetplan in ’n lewenstyl wil verander. “Die bevrediging van emosionele behoeftes behoort as deel van ’n suksesvolle gewigsverliesprogram beskou te word.”
Melissa se teorie dat elke mens ’n ware self het wat graag die regte lewe wil lei, sluit hierby aan.
“Ons werklike lewens is egter dikwels nie ons regte lewens nie. As ’n mens se verpligtinge by die werk of jou intieme verhoudings jou daarvan weerhou om jou regte lewe te leef, sal jou ware self ’n bohaai opskop deur te eet, moontlik aan iets verslaaf te raak of siek te word.”
Sy vertel dat haar doelwit is om mense se negatiewe verhoudings met kos af te breek. “Ek fokus op porsiegrootte en die vermoë om op te hou eet wanneer ’n mens vol is. Studies toon duidelik dat die vermoë om ’n bord kos weg te stoot ’n groot aanduiding is van ’n mens se vermoë om gewig te verloor. As jy iets weggooi, word dit gemors, maar dit word ook gemors as dit aan jou heupe, jou maag en jou arms gaan sit!
“Om hierdie rede is dit baie belangrik om te weet wat die emosionele snellers is wat veroorsaak dat jy verkeerd of te veel eet. Jy kan al die kennis oor voeding hê, maar sonder die nodige selfkennis, sal jy nie volhoubaar gewig verloor nie.”
Sy verduidelik dat kennis van ’n mens se emosionele snellers jou kan help om nie na kos te gryp wanneer jy stres ervaar of emosioneel voel nie. “’n Mens se verhouding met kos is ’n ongelooflike deurgang na jou diepste gevoelens. Iemand wat sy snellers ken, sal die lewe kan hanteer sonder om hom/haarself aan kos te vergryp. Wanneer ’n mens die redes hanteer oor waarom jy bang, kwaad of gefrustreerd voel, sal jy ook minder honger voel as voorheen.”
’n Maklike manier om jou snellers te identifiseer, is om ’n kosdagboek te hou. Jy kan dit selfs op jou selfoon doen as jy soms eet wanneer jy nie pen en papier byderhand het nie.
Skryf ’n week lank neer wanneer jy eet en hoe jy voel wanneer jy eet. Wees veral bedag op jou emosies wanneer jy ooreet. Ná ’n week sal jy reeds ’n patroon kan identifiseer, byvoorbeeld dat jy eet wanneer jy kwaad, hartseer of ontsteld is.
Wanneer jy dan weer na kos gryp wanneer jy ’n spesifieke emosie ervaar, sal dit makliker wees om te besef dat jy nie eet omdat jy honger is nie, maar om ’n emosie te verlig of te onderdruk. Stap weg van die kos en laat jouself toe om die emosie te voel en daardeur te werk en ’n volhoubare oplossing vir jou probleem te vind.
Onthou ook dat kos nie ’n beloning is vir wanneer jy iets regkry of ’n troosprys is vir wanneer jy misluk nie. Dit mag dalk jou dalk tydelik goed laat voel, maar wanneer jy weer sukkel om iets in jou kas te kry wat pas, was dit beslis nie tot jou voordeel om jouself met kos te beloon of te troos nie.
“Dit is belangrik om lief te wees vir jouself,” sê Lorraine. “As jy haat wat jy in die spieël sien, sal jy aanhoudend probeer om weg te kom van die situasie eerder as om te beweeg na die liggaam wat jy graag wil hê. Dit lei tot skuldgevoelens, selfs meer selfhaat en uiteindelik tot die gedrag waarmee ’n mens jou eie pogings om gewig te verloor saboteer.”
Ken die waarheid
Vroue vertel dikwels vir hulself leuens oor gewigsverlies, hoewel hulle vas glo dat hulle op die regte pad is om gewig te verloor. Hier is vyf gewilde leuens.
Een kilogram is te min.
Wanneer die gewig stadig afkom, is ’n mens geneig om moedeloos te word en die gewig wat jy wel afskud uit die oog te verloor. Een kilogram is reeds ’n paar treë in die rigting van jou doelgewig. Wees versigtig om onrealistiese doelwitte vir jouself te stel. Fokus eerder op klein doelwitte en prys jouself wanneer jy dit behaal.
Ek kan maar aanhou kroek.
Almal kom die een of ander tyd in die versoeking. As jy dit nie kan weerstaan nie, geniet elke happie en fokus dan daarop om weer gesond te eet. Die feit dat jy ’n stuk koek geëet het, beteken nie dat jy nou sommer ’n bord skyfies ook moet bestel nie.
Wat vir een werk, werk vir almal.
As jou vriendin op ’n spesifieke eetprogram gewig verloor het, beteken dit nie dat dit noodwendig vir jou sal werk nie. Sy kry dit dalk reg om op slaai te oorleef, terwyl dit vir iemand anders slegs ’n tyd lank moontlik sal wees, waarna jy weer na jou ou gewoontes sal terugkeer. Kies ’n lewenstyl waarmee jy sal kan volhou en wat jou steeds toelaat om kos te geniet.
Ek slaap genoeg.
Te min slaap veroorsaak ’n wanbalans van hormone in die liggaam, veral van die hormoon leptien. Leptien stuur boodskappe na die brein dat jy versadig is. Wanneer ’n mens te min slaap kry, word die balans versteur en funksioneer jou hormone nie optimaal om jou gewigsverlies aan te help nie. Maak seker dat jy elke nag minstens sewe uur slaap kry.
Ek kan eet en werk.
Wanneer ’n mens voor jou rekenaar sit en eet, fokus jy nie op die kos nie, maar eerder op jou werk. Neem ’n halfuur om jou kos te geniet en dit deeglik te kou. Dit neem die liggaam 20 na 30 minute om te besef hy is vol. As jy dus jou ete afjaag, is die kans goed dat jy te veel sal eet omdat jy nog nie versadig voel nie.
Lorraine: 084 661 2479 of [email protected]
Melissa: 083 452 4450 of [email protected]