Willie Burger kyk na die nuwe kortverhaalbundel, Die laaste wals, van wyle Hennie Aucamp
Hier is goeie nuus! Die laaste wals is ’n keur van 32 verhale uit 15 bundels deur Hennie Aucamp wat tussen 1965 en 2009 verskyn het. Dit is goeie nuus dat dié versameling juis nou verskyn het, want die meeste van die bundels waaruit die verhale kom, is lankal nie meer beskikbaar nie.
Hennie Aucamp (1934–2014) was ongetwyfeld een van die belangrikste kortverhaalskrywers in Afrikaans. Bykans elke Afrikaanse leser sou iewers op skool, in ’n tydskrif, in ’n voorlesing oor die radio, in Die Afrikaanse kortverhaalboek, in een van sy talle bundels, of op universiteit met minstens een Aucamp-kortverhaal kennis gemaak het. Verhale soos “’n Bruidsbed vir tant Nonnie”, “Die Caledonner”, “Die nag van die ooms” en veral die meesterlike “Vir vier stemme” is oor dekades heen as voorbeelde van hoogs verfynde skryfwerk en die werk van ’n meesterverteller voorgeskryf.
Engelse vertalings van sy verhale is ook in bloemlesings opgeneem. Sedert sy debuutkortverhaalbundel, Een somermiddag, in 1963 verskyn het, het Aucamp nog 15 kortverhaalbundels die lig laat sien. Benewens al die kortverhaalbundels het hy ook talle kabarette, eenbedrywe, lirieke, essays en gedigte geskryf en ná sy aftrede as dosent aan Stellenbosch het ook ’n reeks “dagboeke” en sy memoires verskyn. Sy groot bydrae tot die Afrikaanse kortverhaal het nie tot sy eie kortverhale beperk gebly nie, hy was ook ’n mentor vir verskeie ander skrywers en het boeke oor die kortverhaalskryfkuns geskryf.
Die digter Daniel Hugo se opmerking oor Aucamp word op die agterblad van die boek aangehaal: “As ek aan Hennie Aucamp dink, kom twee woorde dadelik by my op: meester en leermeester. Hy is die meester van die kortverhaal, kabaret en kwatryn; en hy is die leermeester van ’n hele geslag skrywers.” Talle van Aucamp se verhale speel in die afgeleë Stormberge af. Dit is die wêreld van sy jeug, waar hy in Jamestown skoolgegaan het. Hoewel ’n eenvoudige, vervloë, plattelandse lewenswyse telkens in die verhale voorkom, het hy daarin geslaag om die verhale bo gewone streeksvertellings te laat uitstyg deur aan die een kant op vernuwende en komplekse maniere te vertel, maar ook deur temas aan te pak wat telkens die gemoedelike en geykte opvattings uitdaag.
’n Bekende, tradisionele Afrikaanse wêreld word dikwels met deernis opgeroep, maar telkens word ook die oneerlikheid en valsheid van hierdie wêreld, soms op skokkende manier, blootgelê. Onlangs het die Ierse skrywer Eimear McBride geskryf dat sy koud gelaat word deur letterkunde waarin daar geen seks voorkom nie. Sy redeneer dat daar ’n knoop van seksualiteit sentraal in elkeen van ons is, maar dat die gemeenskap (in die verlede) dikwels onder die indruk verkeer het dat dit noodsaaklik is dat hierdie knoop, deur middel van selfdissipline en ’n streng samelewingsorde, vasgeknoop moet bly.
Baie mense verkeer onder die wanindruk dat die ontrafeling van daardie knoop katastrofale gevolge vir die samelewing kan inhou. So ’n gemeenskap verkies dus die afdwing van ’n sosiale orde wat die knoop vasgeknoop hou, bo enige frustrasies wat daardeur veroorsaak kan word. McBride wys daarop dat hierdie handhawing van die sosiale orde uiteraard ’n oorvereenvoudiging is, omdat dit van die aanname uitgaan dat alle seksualiteite gelyk is, wat natuurlik nie die geval is nie. Selde word die droefheid wat die afdwing van só ’n (Afrikaanse, plattelandse, heteroseksuele) orde op individue het, so treffend verwoord soos in die kortverhaal, “Vir vier stemme”, waarin ’n “boeregrap” ’n tragiese afloop het.
Ook in talle ander verhale word die onderdrukking van seksualiteit (soos dié van die sensuele tant Nonnie), gay seksualiteit, sensualiteit, op roerende manier ondersoek. Hoewel Aucamp soms ook ligter en grappige verhale vertel, oorheers daar ’n mineurtoon deur sy werk. Daar is talle elegiese verhale, verhale van verlies en hy is by uitstek die skrywer van eensaamheid. Karakters wat deur omstandighede, geaardheid, gemeenskapsnorme, hul opvoeding of deur die bedoelde of onbedoelde wreedheid van ander mense maar net nie uit hul eensaamheid en teleurgestelde liefde kan breek nie, bevolk talle van die verhale. Hierdie versameling bevat voorbeelde van die ganse verskeidenheid van style en temas wat in Aucamp se werk voorkom – die fyn stilis, die eksperimenteerder met verteltegnieke, die mengsel van outobiografiese elemente en fiksie. Voor sy dood het Aucamp ’n keuse uit al sy verhale gemaak – die verhale waarvoor hy graag onthou sou wou word. Omdat die lysie egter te skraal vir die uitgewers was, het Johann de Lange, digter en vriend van Aucamp ook ’n klompie ander verhale by Aucamp se uitgesoektes gevoeg. As jy hierdie jaar net een kortverhaalbundel koop, behoort dit hierdie een te wees.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.