Kanker is lankal nie meer die doodsvonnis wat dit eens was nie. Wees net ingelig en bedag op die tekens
Deur: Christa Swanepoel
Servikale kanker behels die onderste gedeelte of die mond van die baarmoeder en is een van die kankers wat die mees algemeen onder vroue is. Die goeie nuus is dat dit genees kan word as dit vroegtydig opgespoor en behandel word.
Simptome
- Bekkenpyn wat nie met ander toestande soos menstruasie of fisieke inspanning verband hou nie.
- Pyn tydens seksuele omgang.
- Abnormale vaginale bloeding (ná seksuele omgang of vaginale uitspoeling), hewige maandstondes of erge deurbraakbloeding tussen stondes, of ‘n addisionele stonde gedurende die maandelikse siklus. Dit moet onmiddellik by jou mediese praktisyn aangemeld word.
- Enige abnormale vaginale afskeiding, hetsy reukloos of nie.
Wat jy kan doen
Papsmere kan jou lewe red, want met papsmere kan abnormale selle in die serviks opgespoor word. Die toets is ongemaklik, maar pynloos.
Wat is jou risiko?
Jou kanse is groter om servikale kanker te kry as …
- jy langdurige Menslike Papilloomvirus-infeksies (MPV) kry – dit is vir 70% van alle gevalle van servikale kanker verantwoordelik.
- jy ’n verswakte immuunstelsel het.
- jy of jou maat baie ander seksuele of fisieke verhoudings gehad het of het.
- jy meer as drie jaar laas ’n papsmeer gehad het.
- jy rook. Onlangse navorsing toon dat rook die risiko vir servikale kanker met 50% verhoog.
- Jy tussen 18 en 40 jaar oud is.
Servikale kanker kan voorkom sonder enige van bogenoemde risikofaktore, maar dit is waarskynliker dat jy servikale kanker kan ontwikkel as een of meer van die faktore voorkom.
Wat is MPV?
Die Menslike Papilloomvirus (MPV) bestaan uit ‘n groep van meer as 100 verwante virusse. Sommige MPV’s, soos dié wat gewone vratjies op hande en voete veroorsaak, versprei nie maklik nie. Sowat 15 hoërisiko-MPV-tipes (ook bekend as onkogeniese of karsinogeniese MPV’s) is geïdentifiseer. Dit sluit in MPV tipes 16 en 18, wat bykans 70% van alle servikale kankers veroorsaak. Hoërisiko-MPV’s veroorsaak ook sekere kankers van die anus, vulva, vagina en penis. Boonop veroorsaak orale MPV-infeksies sekere kankers in die orofarinks (die middelste deel van die keel, insluitende die sagte verhemelte, die onderkant van die tong en die mangels). Na raming is MPV-infeksies verantwoordelik vir meer as 5% van alle kankers wêreldwyd. MPV’s word deur vel-tot-vel-kontak en deur liggaamsvloeistowwe versprei. Sowat 40 tipes MPV word deur genitale kontak versprei.
Entstof teen die MPV
Die MPV-entstof dien as sneller vir die vorming van teenliggaampies om immuniteit op te bou en só die liggaam teen die siekte te beskerm. Daar is twee MPV-entstowwe in Suid-Afrika goedgekeur: Gardasil en Cervarix. Laasgenoemde beskerm teen twee tipes MPV terwyl Gardasil vir vier tipes help en keer dat jy met tipes 16, 18, 6 en 11 besmet word.
LEES OOK: Ons kyk na testikel- en kolorektale kanker
Die MPV-kankerentstof word vir seuns en dogters tussen 9 en 17 jaar aanbeveel. Dis belangrik dat hulle dit kry voor hulle seksueel aktief raak en aan die MPV blootgestel kan word. As hulle eers besmet is, is die entstof nie so doeltreffend nie. Ouer meisies en vroue wat nie tussen 9 en 17 daarteen ingeënt is nie, kan ook die entstof kry. Dit word drie keer oor ses maande toegedien en al drie inentings is nodig om dit doeltreffend te maak.
Vroue wat reeds seksueel aktief is, kan ook voordeel daaruit trek, selfs al is hulle al deur een of twee van die MPV’S geïnfekteer. Die entstof sal hulle teen dié tipes beskerm wat hulle nog nie opgedoen het nie. Vroue wat ingeënt is, moet egter steeds hul papsmeer laat doen – die entstof vervang nie die papsmeer nie. (Oz Healthcare Communication)
Leukemie
Leukemie is die samevattende begrip vir maligne siektes van die witbloedselle en beenmurg. Hierdie kwaadaardige selle verdring die normale rooi- en witbloedselle en bloedplaatjies. Die gevolg is anemie en bloedingstoestande wat die liggaam se weerstand verlaag.
Verskillende soorte
Daar is vier verskillende leukemiesoorte, naamlik akute en chroniese limfositiese leukemie en akute en chroniese miëloïedleukemie (CML). Akute leukemie begin skielik en verloop stormagtig, terwyl chroniese leukemie geleidelik begin en slepend verloop.
Akute leukemie kom veral by kinders tussen twee en vyf jaar voor. Die algemeenste vorm is die akute limfositiese leukemie (ALL). Dit begin skielik met ‘n seer keel, koorsigheid en bloeding uit die neus of mond. Limfknoppe, veral in die nek, is vergroot. Dit ontwikkel vinnig as dit nie behandel word nie.
Al vier soorte begin in ’n sel in die beenmurg. Die sel vermeerder vinnig en dié selle groei vinnig en oorleef beter as normale selle sodat dit later die normale selle verdring. Normale stamselle in die beenmurg bestaan uit drie hoofseltipes: rooibloedselle, plaatjies en witbloedselle. Die witbloedselle bestaan weer uit selle wat kieme opneem en limfosiete, wat deel van die liggaam se immuunstelsel is en help om infeksie te beveg. Die spoed waarteen leukemie ontwikkel en hoe die kankerselle die normale selle en beenmurgselle vervang, verskil vir elke vorm van leukemie.
Wat is die oorsake?
Leukemie het die laaste paar jaar toegeneem, maar danksy beter behandelingsmetodes is die oorlewingskoers beter. Daar is grootliks nog onsekerheid wat leukemie veroorsaak. Dinge wat genoem word, is ioneriserende bestraling, sekere soorte chemoterapie wat vir limfoom en ander soorte kanker gebruik word, bestraling vir ander kankers, DNS- en RNS-virusse (Epstein-Barr- en die menslike akute leukemievirus), aanhoudende blootstelling aan chemiese stowwe soos bensien, genetiese siektes soos Downsindroom en tabakrook.
Enigeen kan op enige ouderdom leukemie kry en dis nie aansteeklik nie.
Tekens en simptome
Sekere simptome van leukemie stem met ander algemene en minder ernstige siektes ooreen, daarom is bloedtoetse en beenmurgtoetse nodig om ‘n diagnose te maak Die simptome verskil ook by die verskillende soorte leukemie.
Met akute leukemie is die simptome: moegheid en geen energie nie, kortasemheid tydens fisieke aktiwiteit, bleek vel, ligte koors en nagsweet, snye wat lank neem om te genees en oormatige bloeding, onverklaarbare blou en swart kneusings, fyn rooi kolletjies onder die vel, gewrigspyne en lae witbloedtellings.
LEES OOK: Kan ‘n gesonde lewenstyl jou regtig teen kanker help?
Chroniese leukemie het nie altyd simptome nie en lyers sal dit soms eers weet nadat hulle bloedtoetse vir iets anders laat doen het. Lyers met chroniese limfositiese leukemie sal soms vergrote limfkliere in die nek, oksel en lies opmerk en moet dadelik dokter toe gaan. Die lyer kan ook kortasem wees en gedurig infeksies kry as die leukemie al gevorder het.
Kinders kry nie eintlik chroniese miëloïedleukemie nie – dit kom hoofsaaklik by middeljariges van albei geslagte voor. Die simptome ontwikkel stadig. Die pasiënt ervaar aanhoudende tamheid, ongemak in die buik, koors, nagsweet, algemene swak gesondheid en gewigsverlies en die milt is ook sigbaar vergroot.
Omdat die simptome verskil, is die beste raad om dokter toe te gaan as jy enige van bogenoemde simptome ervaar.
Diagnose
’n Volledige bloedtelling word gedoen om leukemie te diagnoseer. Die bloedtoets sal hoë of lae vlakke van witbloedselle en teenwoordigheid van leukemieselle aandui. Soms is die plaatjietelling en rooibloedselle ook laag. Beenmurgtoetse word dikwels gedoen om die diagnose te bevestig en om chromosoomafwykings te ondersoek.
Behandeling
Die soort leukemie asook ‘n pasiënt se ouderdom en algemene gesondheid sal die behandeling bepaal. Die doel van die behandeling is om remissie te bewerkstellig. Al hoe meer mense is vyf jaar ná behandeling nog in remissie.
Ondersteuning
Die Igazi-stigting het onlangs die eerste ondersteuningsgroep vir mense met chroniesemiëloïedleukemie geword. “Pasiënte voel dikwels geïsoleer en angstig omdat min inligting oor die spesifieke soort leukemie beskikbaar is,” verduidelik Trevor Steyn, die stigter en self ‘n CML-lyer.
LEES OOK: Kankerfeite- en mites deur Kansa
CML maak 10-15% van alle leukemiegevalle uit en affekteer 1 tot 2 mense uit 100 000 mense wêreldwyd. “Spesifieke syfers vir Suid-Afrika is nie beskikbaar nie, maar uit wat ek gesien het, vermoed ek ons voorkoms is hoër as die gemiddeld,” sê dr Neil Littleton, hoof van Hematologie by die Port-Elizabeth-hospiaalkompleks.
“Die nuwe behandelings is verstommend en verseker dat CML nie meer die doodsvonnis is wat dit vroeër was nie. Dit is steeds ‘n ernstige siekte en pasiënte moet besef dat hulle die res van hul lewe hul medikasie sal moet gebruik, al voel hulle beter en is hulle simptoomvry.”
Meer inligting
Besoek CML SA se webwerf
Bron: Kansa