Die ouer-kind-verhouding is een van die belangrikste verhoudings in ons lewe en soos mense ouer word, verander die verhouding tussen ouers en hul kinders
Ansja Ferreira
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), sal die wêreld se bevolking bo die ouderdom van 60 jaar tussen 2000 en 2050 vanaf 11% tot 22% verdubbel. Die wêreld sal meer mense as ooit tevore hê wat hul tagtiger- en negentigerjare haal.
Volgens die WGO gaan ouer mense toenemend ‘n belangrike rol speel deur vrywilligheidswerk te verrig, hul kennis en ondervinding te deel, hul families by te staan en steeds ‘n rol in die arbeidsmark te speel. Die nuwe werklikheid is 80- en 90-jariges wat rondreis, hul stokperdjies geniet en nuwe dinge aanpak. Daar word bereken dat vroue ses tot agt jaar langer as mans lewe.
Hoe goed ons verouder, hang van verskeie faktore af, insluitende ons eetgewoontes, hoe fisiek aktief ons was en ons blootstelling aan gesondheidsrisiko’s soos rook, oormatige alkohol of blootstelling aan toksiese middels.
Stel ‘n emmerlysie op
“Begraafplase is die rykste plek op die aarde,” sê die motiveringspreker Les Brown. “Daar sal jy al die hoop en drome vind wat nooit vervul is nie, die boeke wat nooit geskryf is nie, die liedjies wat nooit gesing is nie, die uitvindsels wat nooit gedeel is nie en die geneesmiddels wat nooit ontdek is nie. Stel jou nou voor jy lê op jou sterfbed en rondom jou staan die spoke van die idees, drome, vermoëns en die talente wat jy gehad het en nooit gebruik het nie,” sê hy. Dalk is dit nou jou tyd om die beste van jou jare te maak:
1. Besef dat jy nooit te oud is nie. Daar is talle voorbeelde van mense wat eers laat in hul lewe “blom” of uit die bloute uit skielik hul talente begin gebruik en ‘n sukses daarvan maak.
2. Begin sommer nou om jou lysie op te stel. Dit is moontlik dat een of meer van jou onontwikkelde talente hieruit na vore kan kom.
3. Jy is nooit te oud vir geluk en om jou drome waar te maak nie. Suksesverhale kom op al die ouderdomme voor. Hier is voorbeelde:
• Harlan David Sanders of beter bekend as kolonel Sanders was 65 jaar oud toe hy die Kentucky Fried Chicken-franchise begin het.
• Laura Ingalls Wilder het ‘n joernalis geword toe sy reeds in haar veertigerjare was en was 65 jaar oud toe sy die bekende Little House on the Prairie-boeke geskryf het.
• Nola Ochs was 95 toe sy haar BA-graad in geskiedenis aan die Fort Hays-staatsuniversiteit in Amerika behaal het en ‘n plek in die Guinness World Records gehaal het as die oudste mens wat ‘n erkende graad behaal het. Sy het ‘n verdere wêreldrekord opgestel deur haar meestersgraad op die ouderdom van 98 jaar te behaal en het op 100-jarige ouderdom begin om ‘n boek te skryf.
• Mary Armstrong van Amerika, ‘n oumagrootjie, was 90 jaar oud toe sy haar verjaardag met ‘n lugduiksessie gevier het.
• Ruth Hamilton was die wêreld se oudste blogger op die rype ouderdom van 109 jaar.
• Die wêreld se oudste motorfietsryer is Bess Tancrelle op die ouderdom van 102 jaar.
• Bert Kilbride is op 93 die wêreld se oudste skubaduiker.
• Die oudste mens wat Mount Everest geklim het, is Yuichiro Miura op die ouderdom van 70 jaar.
Waarvoor wag jy? Stel sommer vandag jou lysie op en maak die beste van jou jare.