Jy verloor gewig blitsvinnig, maar kan nie die dieet volhou nie. Wat doen ‘n kitsdieet aan jou lyf? vra Ansja Ferreira in ons 17 Julie-uitgawe
Ansja Ferreira
“Ek weet alles van kitsdiëte af, vertel Marie*, ’n 31-jarige onderwyseres. “Kitsdiëte werk nie, want dis net ’n korttermynoplossing wat geen mens met ’n normale lewe vir ewig kan volhou nie. Jy verloor, sit weer alles (en selfs nog meer) aan en só herhaal die siklus homself en voor jy sien, is jy ’n hele paar kilogram swaarder as wat jy voor al jou pogings was.
“Emosioneel tap kitsdiëte al jou energie, want jy stres oor hierdie of daardie versoeking wat oor jou pad gaan kom en wat jy nie kan hanteer nie. Dan vergryp jy jouself eerder aan al die versoekings en stop sommer by die kafee op pad huis toe om die gemors nou mooi die moeite werd te maak.
“Moenie jou oplossing by ’n kitsdieet gaan soek nie – eet van als, maar binne perke. Jy mag sjokolade eet, maar slegs een blokkie. Jy mag brood eet, maar nie die hele witbrood nie, jy mag wyn drink, maar slegs by geleentheid. Jy ken jou eie lyf, luister na hom,” sê Marie.
Hier is praktiese gewigsverlieswenke deur Mariana Muller, ‘n lewensafrigter en voedingsadviseur, wat in gewigsverlies en persoonlike groei spesialiseer:
Praktiese wenke
• Kyk na die dieetprogramme wat jy in die verlede probeer het en besluit vir jouself wat werklik gewerk het en of dit wat jy nou in gedagte het volgehoue gewigsverlies in vooruitsig het.
• Sluit by ‘n ondersteuningsgroep vir gewigsverlies aan. Baie mense baat by hierdie manier van gewigsverlies.
• Die voordeel van persoonlike afrigting in klein groepe van twee tot vier saam met ‘n fiksheidsafrigter hou groot voordeel in. Hierdie groepie vorm oor tyd ‘n band omdat hulle dieselfde doel voor oë het, asook gereelde ondersteuning van hul groepsgenote en afrigter. Daar ontstaan oor tyd ‘n gemaklike verhouding in hierdie “span” wat oefening lekker maak.
• Stel haalbare doelwitte van gewigsverlies van 500 g tot 1 kg per week, wat dit moontlik maak om balans te hê in jou lewe, jy kan steeds sosiaal verkeer, porsies en alkohol beheer en aan die ander kant gewig verloor. Sien dit as ‘n middeweg, jy verloor nie ‘n groot hoeveelheid gewig op ‘n slag nie, maar jy skakel niks uit nie en hoef nie by ‘n sosiale geleentheid eenkant te nie.
• Eet gesond, gereeld en van al die voedselgroepe.
• Beheer styselgroente-porsies, eet baie ander groentes en beheer vrugteporsies aangesien vrugte vrugtesuiker bevat.
• Hou ‘n kosdagboek. Dit lewer ‘n groot bydrae tot suksesvolle gewigsverlies.
• Wees gedurig op die uitkyk na smaaklike, gesonde resepte, moenie in ‘n eetpatroon van net slaaiblare en dieetkos verval nie. Hou dit interessant.
• Vind maniere om met jou gevoelens saam te leef, in plaas van eet. Daar is byvoorbeeld nou interessante inkleurboeke vir volwassenes. Raak kreatief en lei jou gedagtes af.
• Moenie opgee na een slegte dag nie, dit is menslik om soms foute te maak en geen mens bereik ‘n doelgewig sonder om foute te maak nie.
• Moenie ongeduldig met stadige gewigsverlies raak nie, elke week se bietjie maak op die ou end ‘n langtermynsukses.
Daniel S Kirschenbaum, skrywer van die boek The Wellspring Weight Loss Plan, het ‘n goeie verduideliking vir die verskillende fases van verandering in eetgewoontes naamlik:
• Wittebroodsfase: Mense in hierdie fase is positief, hou ‘n voedseljoernaal by, oefen gereeld, lees baie oor gesond leef en gesels met mense hieroor.
• Frustrasiefase: Gedurende hierdie fase voel mense om terug te keer na hul ou gewoontes. Hulle vergelyk hulself met ander mense en is nie meer so ernstig oor hul joernaal en oefening nie. Dit voel vir hulle of hulle te stadig gewig verloor.
• Aanvaarding: Hierdie mense begin dit as ‘n lewenstyl sien, dit is nie noodwendig altyd maklik vir hulle nie. Hulle het redelike vaste oefenprogramme en ‘n redelike goeie idee gevorm rondom hul eetgewoontes.
Mense val uit in die “frustrasiefase” net om jare later met baie geld vermors op verskeie eetprogramme steeds nie op hul doelgewig te wees nie. ‘n Baie waar stelling is dat mense afrigting opgee juis die tye wat hulle dit die nodigste het. Daar is mense wat sover gaan en sê dat 95% van almal wat gewig verloor dit weer ná ‘n paar jaar optel. Vind volgehoue ondersteuning, vind ‘n lewensafrigter by wie jy aanklank vind en hou gereelde kontak met hierdie persoon of bly by ‘n groep vir gewigsverlies, word ‘n lewenslange lid, en weeg gratis elke week.
Addisionele bronne
• www.livestrong.com
• liquid dieters
• www.wellsphere.com
• www.mayoclinic.com
• www.aocd.org/?page=TelogenEffluviumHa