Lees in ons 21 Februarie-uitgawe ‘n artikel oor wat om te doen as ‘n kind vertel dat sy of haar ouer selfdood wil pleeg. Hier is raad vir kinders wie se ouer dit wel gedoen het
Marita Rademeyer is ‘n kliniese sielkundige by die Kindertraumakliniek in Pretoria en een van die stigterslede van Jelly Beanz, ‘n nieregeringsorganisasie wat getraumatiseerde kinders help. Sy vertel hulle sien die afgelope tyd baie kinders van ouers wat selfdood gepleeg het – minder van ouers wat dreig.
“Dit is baie, baie swaar. Dis baie moeilik vir daardie kinders om sin te maak van hul ouers se besluite.”
Die gevaar en verlies van ‘n ouer wat dreig met selfdood of selfs tot die daad oorgaan, is uiteenlopend. “Een van die implikasies is dat die kind die ouer as rolmodel mag gebruik en dan tot dieselfde gevolgtrekking kan kom dat selfdood ‘n oplossing vir probleme is. Die kind kan dan dieselfde patroon volg,” verduidelik prof Debbie.
Sou die ouer wel selfdood pleeg, word die kind met geweldige verlies gekonfronteer. Hierdie verlies kan verder gekompliseer word deur die kind wat ‘n verlengde roureaksie of ‘n depressiewe versteuring kan ontwikkel, verduidelik prof Debbie van der Westhuizen, hoof van Kinderpsigiatrie by Weskoppies-hospitaal.
“Kinders se houding en gedrag of reaksie ná die afsterwe van ‘n ouer is gewoonlik ‘n spieëlbeeld van hul houding teenoor die lewe, is dikwels ouderdomspesifiek en hang van hul ontwikkelingsvlak af. Kinders kan aanvanklik min roureaksie toon, maar wel die volle omvang van die verlies later ervaar. Kinders sal eerder aktief raak as om te onttrek. Hulle kan later ook kwaad wees en wangedrag toon eerder as om hartseer te wees. Die voorskoolse kind sien die dood as ‘n tydelike afwesigheid en glo dit is omkeerbaar en dat die persoon net slaap. Skoolgaande kinders ervaar en herken die dood as ‘n finale realiteit. Adolessente of jongmense verstaan dat die dood finaal is. Daar is ‘n groot moontlikheid dat hulle kan onttrek en hulself kan isoleer.”
Prof Debbie verduidelik dat die roureaksie verwys na die sielkundige reaksie op ‘n betekenisvolle verlies. “Sterk emosies soos vrees vir verlating of woede kan in die gedrag en spel van die kind uitkom. Hoewel kinders dikwels nie rou wys nie en rou soms kort duur, is die roufase in werklikheid baie langer as by volwassenes.”
Hoe goed ‘n kind ná ‘n ouer se selfdood kan aanpas, sal van ‘n paar dinge afhang. “Belangrike faktore wat die roufase kan beïnvloed, sluit in die familie se ondersteuning, die kommunikasievermoë van die familie en die geleenthede om die gevoelens en gebeurtenis met ander te deel,” sê prof Debbie. Sy sê kinders kan ook hulself blameer en verantwoordelik voel vir die ouer se dood weens vorige wangedrag of omdat hulle dalk voorheen gesê het hulle wens die persoon gaan dood.”