CHRISTA SWANEPOEL
Kyk, ons Vrouekeur-span weet van spertye (en stres). Week ná week, maand ná maand doen ons dit.
Teen die tyd dat die boek op ‘n Donderdag drukkers toe gaan, is ons al klaar aan die gang met die volgende uitgawe se agterblaaie. Dan werk dit soos ‘n goedgeoliede masjien. Die blaaie word op rekenaar gelees en uitleg toe gestuur. Minute later lê die bladsy in die in-mandjie. Weer word dit gelees, deur drie van ons. Terug uitleg toe, wat die korreksies doen. Dit word in kleur uitgedruk en beland in die volgende mandjie. Weer doen dit die rondte. Die derde mandjie kry die finale blad en weer word dit nagegaan. So gaan dit met een ná die ander blad. Maandag se kant is dit die artikels se beurt. Elkeen gaan deur dieselfde proses. Tussendeur word die volgende uitgawe se agterblaaie gelees. Woensdag raak dit stil in die kantoor. Al die blaaie moet finaal deurgewerk word. Drieuur kry ‘n proefleser die hele pakkie om dit wéér te lees. En Donderdagoggend gaan ons weer deur die blaaie. Vrydag word die vorige uitgawe vir ons uitgedeel. Jy wil dit nie eers oopmaak en deurblaai nie, want sê nou maar ná alles, het daar tog ‘n fout deurgeglip (en ja, dit gebeur soms).
Genoeg stres, sou ek sê.
Maar dis nie al nie. Ek moet elke week ‘n gesondheidsbydrae ingee. Helaas, heel interessant, maar daar moet stof gesoek word en dit word saans by die huis aanmekaar getimmer. En elke tweede week, moet ek ‘n brei-artikel ingee. Netjies gebrei en foutloos geskryf. Ook saans.
Dis my en Vrouekeur se spertyd vir die nuwe nuutste hekelboek. Ek en oudste sit tot laatnag en hekel. Ek sit tot ounag voor die rekenaar met die patrone, want o, wee, is daar ‘n komma of sterretjie of syfer verkeerd, is dit nag. Later lyk alles reg en alles verkeerd. Ek gaan honderd keer deur die patrone, hekel weer die toetslappies.
Ekstra stres? Beslis.
‘n Vriendin se vriendin bel. Kan ek vir hulle goeters brei vir hul aanlynwinkel? Ek moet eintlik “nee” sê, maar ek is bang ek mis ‘n gulde geleentheid en sê “ja”. Nou sit ons nog later met hekel- en breipenne en val teen middernag stokflou in die bed.
Meer stres!
Intussen soek Via op kort kennisgewing mense om aan die program Tussen wêrelde deel te neem. Dis vir ‘n Moedersdag-episode en Julia Theunissen en haar ma, Marietta, is albei in die ateljee.Oudste sit inderhaas af soontoe om die getalle op te maak en neem haar sitplek voor die twee in.
“Jou ouma (sy is jare gelede al oorlede) waak oor jou ma,” hoor oudste. “Sy voel jou ma het dit nou nodig. Jou ma het baie stres. En dit beïnvloed haar gesondheid …” is die eerste ding wat oudste hoor.
Nou ja, as ek eers sulke boodskappe uit vreemde oorde kry, sê dit seker iets. Ek sit die breiwerk eenkant en sit af dokter toe vir toetse. Twee dae later kom die SMS. “Maak afspraak by jou dokter om jou toetsuitslae te bespreek.”
As ek nou net tussen al die spertye tyd kan kry om te gaan, maar briek sal ek moet briek aandraai, voor my eie spertyd dalk vervroeg word …
Ouma se blokkie
Maak 5 ks gs in 1ste st om ring te vorm.
1ste rdte: 3 ks, 15 lb in ring, gs in 3de st aan beg. 16 lb.
2de rdte: 1 ks, 1 kb in dies st, 5 ks, slaan 2 lb oor, 1 kb in vlg lb, draai, 1 kb in elk van die 5 ks, draai, 1 kbagter in 2de oop lb, * 5 ks, slaan vlg lb oor, 1 kb in vlg lb, draai, 1 kb in elk van 5 ks, draai, 1 kb (agter) in laaste oop lb, herh van * 5 keer, 5 ks, kb (aan voorkant van 1ste draai) in die ongewerkte lb, draai, 1 kb in elk van 5 ks, draai, gs in 1ste kb. (8 draaie)
3de rdte: 1 ks, kb in dies st, (5 ks, slaan vlg 5 kb van kabel oor, kb in vlgkb by die basis van vlg kabel) rondom, 5 ks, gs in 1ste st aan beg.
4de rdte:gs tot in 5 ks-sp, 3 ks, 4 lb in dies spasie, (5 lb in vlg 5 ks-sp) rondom, gs in 3de ks aan beg.
5de rdte: 1 ks, kb in dies st, 5 ks, slaan 2 lb oor, 1 kb in vlg lb, draai, 1 kb in elk van vlg 5 ks, draai, 1 kb in 2de oop lb agter, *5 ks, slaan vlg lb oor, 1 kb in vlg lb, draai, 1 kb in elk van vlg 5 ks, draai, 1 kb (agter) in oop lb, herh van * 17 keer, 5 ks, 1 kb (aan voorkant van 1ste draai) in die oop lb, draai, 1 kb in elk van 5 ks, draai, gs in 1ste kb.
6de rdte: 1 ks, kb in dies st, (5 ks, slaan vlg 5 ks van draai oor, kb in vlgkb aan basis van vlgdraai) 19 keer, 5 ks, heg met kb in 1ste kb,
7de rdte:gs tot in ks-sp, (4 ks, 6 dsl) in dies sp, *3 lb in vlg 5 ks-sp, (3 kb in vlg5 ks-sp) 2 keer, 3 lb in vlg 5 ks-sp, 7 dsl in vlg 5 ks-sp, herh van * 2 keer, 3 lb in vlg 5 ks-sp, (3 kb in vlg 5 ks-sp) 2 keer, 3 lb in vlg 5 ks-sp,gs aan bokant van 4 ks.
8ste rdte: 1 ks, 2 kb in dies sp, (1 kb in elk van vlg 18 ste, 3 kb in middelste dsl) 3 keer, 1 kb in elk van vlg 18 kb, 1 kb in selfde st as 1ste kb, gs in 1ste kb.
Christa is sedert Oktober 1999 deel van die Vrouekeur-span en geniet steeds elke dag haar werk as taalversorger. Sy is mal oor haar kinders, kleinkinders, brei en lees en sommer die lewe in die algemeen. Sy moet net keer …