Ek het ‘n groot probleem: Ek is ewe lief vir brei en lees. Gaan ek die slag met vakansie, beplan ek heel eerste watter boeke en breiwerk ek gaan saamvat. Terug by die huis word my dae ook redelik volgens dié twee liefdes van my bepaal.
CHRISTA SWANEPOEL
Nou vra ek jou: Waar kry jy ‘n beter werk vir iemand wat lief is vir lees as om by Vrouekeur te werk waar ek agt uur lank kan lees? Dis wanneer ek by die huis kom, wat dit moeiliker raak, want hoe verdeel ek die ure voor slaaptyd tussen brei en lees. En iewers tussenin moet daar boonop kos gemaak en huis skoongemaak word. Laasgenoemde twee word in ‘n rekordtyd afgehandel. Sodra die huis skaflik lyk en die kos op die stoof aan die prut is, gaan sit ek met my breiwerk op die rusbank. Salig. Ek voel hoe die dag se spanning verdwyn en met elke ry wat ek brei raak ek rustiger. My gedagtes loop ver paaie. Gewoonlik raak ek weer van my omgewing bewus wanneer ek die kenmerkende brandreuk uit die kombuis kry … Ek vergeet gereeld heeltemal dat ek kos opgesit het. Prioriteite, sien.
Ná ete, as die kos gered kon word, word die breiwerk weer opgetel, maar dan begin ek al uitsien na die boek(e) wat op my bedkassie lê en wag. Nou moet ek besluit: Nog ‘n paar rye, of ‘n paar ekstra bladsye van my boek voor die slaap my oorval?
O, daai salige inkruip met die bedliggie aan, die kat wat langs my opkrul en die boek in my hande. Ek haal die boekmerk uit waar ek die vorige aand opgehou het en lees tot die woorde begin swem.
Die dag was goed. En more kan ek dit weer doen …
Ouma se blokkie
Saamgestelde dsl: maak 1 dsl, maar moenie deur laaste 2 lusse trek nie, maak 2de dsl en trek laaste lus deur al die lusse op naald
1ste saamgestelde lb: maak lb, maar moenie deur laaste 2 lusse trek nie, maak 2de lb en trek laaste lus deur al die lusse op naald
2de saamgestelde lb: maak lb, maar moenie deur laaste 2 lusse trek nie, maak 2de lb, maar moenie deur laaste 2 lusse trek nie, maak 3de lb en trek laaste lus deur al die lusse op naald
Maak 10 ks en gs in 1ste st om ring te vorm.
1ste rdte: 4 ks (tel as dsl), 1 dsl, 2 ks, (saamgestelde dsl, 2 ks) 11 keer, gs in 4de ks aan beg.
2de rdte: gs tot in ks-sp, 3 ks (tel as lb), 1ste saamgestelde lb, 3 ks, (2de saamgestelde lb in vlg ks-sp, 3 ks) 11 keer, gs in 3de ks aan beg.
3de rdte: 5 ks, slaan ks-sp oor, *(2de saamgestelde lb, 2 ks, 2de saamgestelde lb, 4 ks, 2de saamgestelde lb, 2 ks, 2de saamgestelde lb) in vlg ks-sp, 3 ks, slaan ks-sp oor, 1 lb in saamgestelde lb, 3 ks, slaan ks-sp oor, herh van * rondom en eindig met (2de saamgestelde lb, 2 ks, 2de saamgestelde lb, 4 ks, 2de saamgestelde lb, 2 ks, 2de saamgestelde lb) in vlg ks-sp, 3 ks, gs in 3de ks aan beg.
4de rdte: 4 ks, 1 lb in ks-sp, *1 ks, 1 lb in vlg saamgestelde lb, 1 ks, 1 lb in ks-sp, 1 ks, (2de saamgestelde lb, 2 ks, 2de saamgestelde lb, 4 ks, 2de saamgestelde lb, 2 ks, 2de saamgestelde lb) in vlg ks-sp, 1 ks, 1 lb in vlg ks-sp, 1 ks, 1 lb in saamgestelde lb, 1 ks, 1 lb in vlg ks-sp, 1 lb in lb, 1 ks, 1 lb in ks-sp, herh van * rondom en eindig met gs in 3de ks aan beg.
5de rdte: 4 ks, *(1 lb in vlg lb, 1 ks) 3 keer, 1 lb in saamgestelde lb, 1 ks, 1 lb in ks-sp, 1 ks, (2de saamgestelde lb, 2 ks , 2de saamgestelde lb, 4 ks, 2de saamgestelde lb, 2 ks, 2de saamgestelde lb) in vlg ks-sp, 1 ks, 1 lb in vlg ks-sp, 1 ks, 1 lb in saamgestelde lb, 1 ks, (1 lb in vlg lb, 1 ks) 4 keer, herh van * rondom en eindig met gs in 3de ks aan beg.
6de rdte: 2 ks (tel as hlb), *1 hlb in elke st, in elke ks-sp en in elke saamgestelde lb tot in hoek-sp, 5 hlb in hoek-sp, herh van * rondom en gs in 2de ks aan beg.
Christa is sedert Oktober 1999 deel van die Vrouekeur-span en geniet steeds elke dag haar werk as taalversorger. Sy is mal oor haar kinders, kleinkinders, brei en lees en sommer die lewe in die algemeen. Sy moet net keer …