Ek het pas weer besef hoe belangrik is alleentyd. Ek-tyd.
Christa Swanepoel
Laas Vrydagaand klim ek op die bus vir ’n week aan die Suidkus. Voor dagbreek klim ek af en sleep my tas twee blokke woonstel toe en op met die trappe.
Daar gooi ek al die vensters en balkondeur oop en sleep summier ’n stoel stoep toe en kyk hoe dit lig word oor die see. Dis stil. Ek hoor die golwe en die voëls. Die twee hadidas in die boom by die kamervenster groet luidkeels soos net hulle kan en sit af na wie weet waar vir die dag. Ek weet al hulle kom teen skemer terug.
Die week is hemels. Ek kleur elke dag op die stoep my mandala ’n entjie verder in, lees saans Deon Meyer se nuwe boek, Ikarus, en haal saans TV-reekse in. En ja, ek brei en hekel inderdaad terwyl ek dit doen. Hoe dan anders.
Bedags loop ek ver ente op die strand of sit op een van die bankies wat oor die see uitkyk. Op die een bankie is plaatjies ter herinnering aan geliefdes aangebring. Was dit waar hulle ook kom stil word het? Het van hulle dalk daar in die see aan hul einde gekom?
Ek maak soos iemand gesê het: Party dae sit ek en dink en ander dae sit ek net. Die reëlmaat van die golwe spoel my kop skoon.
Met elke dag se stap, raak die drawwers, stappers en swemmers se gesigte bekend. Almal groet. Elke dag probeer die vroue in die parkeerplek hul skulpe, vrugte, sakke, krale en plakkies aan my verkwansel.
Terwyl ek op die stoep walvisse sit en dophou bedink ek dinge wat verby is, maak vrede en wonder wat in die volgende jaar voorlê – sonder verwagtinge, maar ook sonder vrees.
Die naweek voor ek terugkom, daag twee van my kinders (en een se groot liefde) op om die naweek saam te kuier. My alleentyd is verby en ons lag en gesels en kuier en deel stories en skep herinneringe vir later se onthou. Ek is dankbaar en voel geseën oor ons heerlike verhouding.
Maar die alleentyd, die ek-tyd, was ook nodig en belangrik. Ek sal dit weer doen.
Maak jy soms tyd net vir jouself?
Ouma se blokkie
Maak 5 ks en gs in 1ste st om ring te vorm.
1ste rdte: 7 ks (tel as dsl en 3 ks), (1 dsl en 3 ks in ring) 11 keer. 12 dsl.
2de rdte: gs tot in ks-sp, 3 ks (tel as lb), 1 lb, 2 ks, 2 lb in dies ks-sp, 3 lb in vlg ks-sp, *(2 lb, 2 ks, 2 lb) in vlg ks-sp, 3 lb in vlg ks-sp, herh van * rondom en gs in 3de ks aan beg.
3de rdte: gs tot in ks-sp, 3 ks, (tel as lb), 2 ks, 2 lb in dies sp, 1 lb in elk van vlg lb tot vlg ks-sp, *(2 lb, 2 ks, 2 lb) in ks-sp, 1 lb in elk van vlg lb tot vlg ks-sp, herh van * rondom en gs in 3de ks aan beg.
4de rdte: soos 3de rdte.
Jy kan op dié manier voortgaan tot so groot as wat jy jou seshoek wil hê.
Christa is sedert Oktober 1999 deel van die Vrouekeur-span en geniet steeds elke dag haar werk as taalversorger. Sy is mal oor haar kinders, kleinkinders, brei en lees en sommer die lewe in die algemeen. Sy moet net keer …