Sit ek en dink so by my sigselwers met ’n breiding in die hand: Is verhoudings nie maar soos breiwerk nie.
Christa Swanepoel
As jy pas geleer brei het gaan dit soms moeilik. Die spanning is te styf, jy verloor steke, maar soos jy vaardiger raak, gaan dit makliker neem die projek vorm aan. Jy is trots op elke ding wat jy regkry.
Partykeer koester jy elke oomblik van ’n breipatroon. Jy geniet dit, jy kan nie wag om terug te gaan soontoe nie en hanteer dit sagkens en met liefde.
Soms lê die breiprojek soos ’n berg voor jou. Jy wil nie, maar jy weet jy moet. Miskien het jy dit vir iemand belowe en jy weet jy moet tot die end deurdruk, maar dis nie lekker nie en jy is traag.
Dan gebeur dit ook dat jy ’n ent weggebrei het en as jy dit ophou en mooi bekyk, sien jy doer, ‘n ent terug, het jy ’n fout gemaak. Hoop jy maar niemand sien dit raak en onthou dit nie? Probeer jy dit verdoesel met nog meer knoeiwerk? Ja, miskien kom niemand dit agter nie, maar jy wéét!
Of jy bedink die fout vir ’n ruk en besluit dan om los te torring tot jy by daai fout uitkom waar jy verbrou het. Daar gekom, kan jy die fout regmaak en net weer aangaan, of jy trek maar liewer los tot by die begin en begin oor. Of dalk is jy moeg gesukkel en sit daardie breiwerk eenkant en begin met iets anders.
Party projekte is kort en as jy jou kom kry, is dit klaar. Jy is skoon verbaas.
Party patrone is erg ingewikkeld – jy moet so konsentreer om nie ’n fout te maak nie en jy is so besig daarmee, dit neem al jou tyd om en jy geniet dit amper nie.
Ander is maklik en dinge vloei net. Tussendeur kan jy lag en kuier en so kom dit met lekkerkry klaar al is dit ’n allemintige projek wat jou laaaank besig jou.
Nog ander voltooi jy blokkie vir blokkie. Jy pas hier en las daar en al pas die blokkies nie altyd 100% nie, is die eindproduk ’n heerlike laslapkombers wat jy jare met jou saamdra.
Soms word jou breiwerk waardeer as jy dit vir iemand gee, al is die nie perfek nie. Maar ander glimlag en oe en aa solank hulle by jou is en gee voor dat hulle mal daaroor is, maar as jy jou rug draai, gooi hulle jou breiwerk agter in die kas, of gee dit weg en vergeet daarvan.
Ek hoop jy het ’n heerlike breiprojek wat jou baie vreugde verskaf en wat in dieselfde mate waardeer word as die liefde wat jy daarin stort.
OUMA SE BLOKKIE
Met A maak 4 ks en gs in 1ste s tom ring te vorm,
1ste rdte: 3 ks, 1 lb, 1 ks, (2 lb, 1 ks) 5 keer. 6 x 1 ks-sp.
2de rdte: heg groen (vir blaartjies) in enige 1 ks-sp, 3 ks, 1 lb, 1 ks, 2 lb in ks-sp, *(2 lb, 1 ks, 2 lb) in vlg ks-sp, herh van * nog 4 keer, gs in 3de ks van 3 ks aan beg. Heg af.
3de rdte: heg kleur geskik vir blommetjie in enige 1 ks-sp, 3 ks, 6 lb in ks-sp, *7 lb in vlg ks-sp, herh van * nog 4 keer. Gs in 3de ks van 3 ks aan beg. Heg af.
4de rdte: heg 1ste kleur in 1ste lb van enige 6 lb-groep, 1 ks, 1 kb in elk van vlg 6 lb, 1 lb tussen 4 lb-gpe van vorige rdte, *1 kb in elk van vlg 7 kb, 1 lb tussen 4 lb-gpe van vorige rdte, herh van * nog 4 keer, gs in 3de ks van 3 ks aan beg. Heg af.
5de rdte: heg vlg kleur in enige lb, 3 ks, 2 ks 1 lb in lb, 1 kb in elk van vlg 11 kb, (1 lb, 2 ks, 1 lb) in middelste van 7 lb, 1 kb in elk van vlg 11 kb, (1 lb, 2 ks, 1 lb in lb, 1 kb in elk van vlg 11 kb, (1 lb, 2 ks, 1 lb) in middelste van 7 lb, 1 kb in elk van vlg 11 kb, gs in 3de van 3 ks aan beg. Hg af.
6de rdte: heg laaste kleur in enige 2 ks-sp in hoek, (3 ks, 1 lb, 3 ks, 2 lb) in ks-sp, 1 hlb in elk van vlg 4 kb, 1 kb in elk van vlg 5 kb, 1 hlb in elk van vlg 4 kb, *(2 lb, 2 ks, 2 lb) in ks-sp, 1 hlb in elk van vlg 4 kb, 1 kb in elk van vlg 5 kb, 1 hlb in elk van vlg 4 kb, herh van * nog 2 keer, gs in 3de ks van 3 ks aan beg. Heg af.
Christa is sedert Oktober 1999 deel van die Vrouekeur-span en geniet steeds elke dag haar werk as taalversorger. Sy is mal oor haar kinders, kleinkinders, brei en lees en sommer die lewe in die algemeen. Sy moet net keer …