Christa Swanepoel
So pak ek en my tannie Hester ons tasse en word sterkdonker by Park-stasie afgelaai vir ons busrit Suidkus toe. Ons tasse met brei- en hekelwerk word in die bus se maag gebêre, want ons gaan deur die nag ry.
Die bus is ’n uur laat, maar uiteindelik kry ons ons sit en trek ons uit Johannesburg weg. Soos kinders is ons skaars op die snelweg of ons haal ons padkos uit wat tannie Hester vroeër die dag van Tzaneen af aangery het: frikkadelle, gekookte eiers, soutbeskuitjies, biltong, neute, tuisgemaakte klapperys, die lot.
Later glip ons ons reiskussings om die nek en skuif reg vir die nag se slaap. Die ligte is gedemp en die bus se geruis kan net lekker wees, maar o wee, ’n paar sitplekke vorentoe vind ’n knaap aanklank by ’n buurman oor die paadjie en duidelik het hy die hele middag sy as gelê en afslaap, want die twee nuwe vriende pak een onderwerp ná die ander.Ons haal ons oorpluise uit wat ons juis vir ingeval ingepak het, maar dit help nie veel nie, want Knaap het oorfone in en kan gevolglik nie so mooi hoor nie, dus praat hy ook al hoe harder. Dit draai by Oscar wat eersdaags vrygelaat word en hoeveel geld genoeg is om vir iemand moord te pleeg (na aanleiding van ‘n onlangse hofsaak) tot geloof, hul studies en wat nog als. So tussen die slaapnewels deur, hoor ons hulle raak dik vriende, maar glad nie vaak nie en geensins uit onderwerpe om oor te gesels nie.
Iewers tussen nêrens en êrens stop die bus en ons spoel saam met die ander uit om die nodige te doen. Ons eet nog ’n frikkadel of twee en probeer weer. Later toe ek wakker word, is Knaap stil, maar nie omdat hy uiteindelik deur slaap oorval is nie, maar wel omdat hy iewers afgeklim het, maar dit begin lig word en ons is wakker en oorgehaal vir ons rustyd.
Die bestuurder stop verder van ons woonstel af as wat ons verwag het en ons sleep ons tasse bult op, bene bewerig van die lang sit. Ons hyg met ons bagasie die trappe op derde verdieping toe en ek wonder of die bus-idee so ’n blink idee is, maar die uitsig op die see swaai dadelik weer my gedagtes na : Ja ons sal dit weer doen.
Met die balkondeur oop en vensters oopgegooi het ons weer moed en lus, gooi ’n rugsak oor die skouers en vat die pad winkel toe vir die nodige proviand.
Later, toe als uitgepak en ons ons tweede koppie koffie agter die blad het, word die breiwerk balkon toe aangedra en kry ons ons sit. Ons kyk walvisse en gesels dik stukke. Ek is self al ouma en word ook soms vir raad gevra en deel soms ’n wysheid of twee, maar tannie Hester is twee dekades ouer en soos ’n kind kan ek haar wysheid tap. Ons gesels oor haar en my kleintyd en dinge wat was en kon gewees het. Die breiwerk word langer en die gesels dieper.
Soggens en saans voor dit te warm word (ja, al is dit al ysig op die Hoëveld, is dit hier kortmouwarm) gaan stap ons ver ente op die strand of sit sommer op ’n duin, kyk na die golwe en dink ver. Elke dag word die stap strand toe en winkel toe makliker en ons klop onsself op die skouer.
Ons eet wat en wanneer ons wil en slaap wanneer ons moeg is. En tussendeur brei ons op diebalkon.
Te gou is die week om en ons reël ’n taxi om ons halfsewe die oggend op te laai busstop toe vir die bus wat twintig oor sewe vertrek. Ons maak voorsiening vir verkeer (ha-ha) en sit drie minute later op ons tasse langs die pad, ‘n hele driekwartier te vroeg …
Die pad is lank, maar rustig en die breiwerk is op die skoot … Later die middag, ná ’n lekker slapie, kyk ons ’n Trevor Noah-DVD en almal in die bus lag ewe lekker wanneer jou mense en hul gewoontetjies onder skoot kom.
Met die Hillbrow-toring in sig, brei ek die laaste ry van die projek waarmee ek besig is en bepraat ons ons volgende busrit, eers weer terug woonstel toe en dalk later sommer Kaap toe. En dalk kan ons sommer met die boot terugvaar Durban toe. Net omdat ons wil en kan … en hoekom nie?
Wat ’n voorreg om so iemand soos my tannie Hester te hê met wie ek sulke onthoutye (en breitye) kan deel. Ek hoop jy het ook ‘n tannie Hester in jou lewe.
OUMA SE BLOKKIE
Met 1ste kleur maak 6 ks en gs in 1ste st om ring te vorm.
1ste rdte: 3 ks (tel as lb), 3 lb in ring, 2 ks, (4 lb, 2 ks in ring) 3 keer, gs in 3de ks van 3 ks aan beg.
2de rdte: heg 2de keur in 2 ks-sp, 3 ks, 2 lb, 2 ks, 3 lb in 2 ks-sp, *2 ks, 1 lb in 4de lb van 4 lb-groep, (3 lb, 2 ks, 3 lb) in 2 ks-sp, 1 lb in 1ste lb van vlg 4 lb-groep, herh van * en eindig met 2 ks, 1 lb in laaste lb van laaste 4 lb-groep, gs in 3de ks van 3 ks aan beg.
3de rdte: 3 ks, 1 lb in elk van vlg 2 lb, (3 lb, 2ks, 3 lb) in 2 ks-sp, *1 lb in elk van vlg 3 lb, 4 ks, slaan 2 lb oor, 1 lb in elk van vlg 3 lb, (3 lb, 2 ks, 3 lb) in 2 ks-sp, herh van * en eindig met 1 lb in elk van vlg 3 lb, 4 ks, gs in 3de ks van 3 ks aan beg.
4de rdte: gs tot in 2de lb, 3 ks, *1 lb in elk van vlg 4 lb, (3 lb, 1 ks, 3 lb) in 2 ks-sp, 1 lb in elk van vlg 4 lb, 7 ks, slaan 2 lb oor, herh van * en gs in 3de ks van 3 ks aan beg.
5de rdte: heg 1ste kleur in 7 ks-sp, *6 kb in 7 ks-sp, 1 kb in 1ste lb, 5 ks, slaan 2 lb oor, 1 kb in elk van vlg 2 kb, 5 ks, 1 kb in laaste lb voor 1 ks-sp, 7 ks, 1 kb in 1ste lb na 1 ks-sp, 5 ks, slaan 2 lb oor, 1 kb in elk van vlg 2 kb, 5 ks, 1 kb in laaste lb voor 7 ks-sp, herh van * rondom en gs in 1ste st aan beg.
Christa is sedert Oktober 1999 deel van die Vrouekeur-span en geniet steeds elke dag haar werk as taalversorger. Sy is mal oor haar kinders, kleinkinders, brei en lees en sommer die lewe in die algemeen. Sy moet net keer …