Medebreiers sal seker met my saamstem dat nie-breiers dink jy raak stom en doof as jy met die penne besig is … en soms selfs onsigbaar.
Christa Swanepoel
Laasgenoemde het ek agtergekom toe ek as ek vroegoggend, wanneer ’n mens nog veronderstel is om te slaap en weer smiddae opgewerk op die Gautrein deurgebring het, natuurlik met brei- of hekelwerk op my skoot.
So het ek vele stories van medereisigers raakgeluister en nie omdat ek wou nie. Dit wil lyk of mense reken wat in die Gautrein gesê word, bly in die Gautrein. En dit was ook nie altyd vriende, kollegas of kennisse wat diep dinge gedeel het nie. Nee, hulle het pas langs mekaar plek ingeneem of die ondervraging begin. Waar werk jy? En jy? Haai ek klim ook op Hatfield af. Hoekom het ek jou nog nooit gesien nie … En as dit net lyk of die ander een effens belangstelling toon, is dit soos olie op die vuur en Meneer Gesels praat land en sand. Hy vis uit en toe hy hoor Meneer Stemmig gaan alleen met vakansie, raak hy sommer rumoerig: Shit, jy is gelukkig. Jy het nog nie kinders en sulke k*k nie. As jy eers kinders het, is jy vas, my pêl.”
Of twee vroue oorkant mekaar anderkant die gangetjie. “Nee, ***, laat ek nou vir jou raad gee. Jy los niks vir jou eks nie. Hy’t mos gedink ek is stupid. Ek het tot die bed onder hom uitverkoop. Dit sal die *** dag wees dat hy saam met haar op MY bed slaap. Haai, is ons al hier. Wat sê jy is jou naam?”
Sit ’n pragtige meisie op ’n keer langs my en ek sien ’n mooie jong man bekyk haar so onderlangs terwyl hy kamtig op sy selfoon doenig is. Later raak hy kriewelrig, want hy wil nader kennis maak en wie sê sy klim nie op Midrand af nie. Hy weet teen die tyd dis net 12 minute tot daar. Genadiglik bly sy sit, maar nou is Centurion naby … Die man maak ’n plan en laat val sy selfoon sommer so oor die paadjie in haar koers. Pas ná Centurion begin hulle gesels en toe ons Hatfield binnegly, het die twee ’n drafafspraak vir die aand. Newwermaaind die antie wat die hele proses aanskou het. ’n Mens hoor en sien mos niks as jy brei nie …
Later leer jy die mense ken wat saam met jou ry. Gewoontediere wat ons is, klim jy elke dag by dieselfde trok in en sit op dieselfde sitplek. So sit ’n vaal man elke dag oorkant my teen die venster, maar hy pak sy sakke en kosblik en trui en wat nog breed langs hom uit. Ons draai by Pretoria-stasie op pad Centurion toe. En hy kyk die kant toe as iemand mik om daar te kom sit of staan en wag dat hy sy goeters eenkant toe skuif, tot hulle maar ewe gedweë aanskuif. Soos ons nader aan Centurion kom, raak Vaalman kriewelrig en bly omkyk omkyk of ons al daar is. By Centurion klim baie mense op. Vaal man waak oor sy goed en sy sitplek. Dan beur ’n ewe vaal meisie in ons rigting en Vaalman glimlag van oor tot oor en sleep die goed neffens hom van die sitplek af, om vir Vaalmeisie plek te maak. Met ’n skaam “Môre” gaan sit sy effentjies langs hom. Die twee praat nie eintlik nie. Kyk hulle per ongeluk dieselfde tyd vir mekaar, kyk sy vinnig weg en bloos bloedrooi. Toe, van een oggend af het sy net nooit weer opgeklim nie en het Vaalman sy kosblik op sy skoot vasgehou. Maar ek brei en merk niks op nie …
Net gister kry ek weer ’n WhatsApp van ’n treinvriendin, Louisa. Sy het geweet ek kan nog hoor as ek brei en ons het begin gesels as ons op dieselfde trein beland het. Dit het nie altyd gebeur nie, want Louisa moes eers met die Metrorail tot op Hatfield kom. Dié het sy teen halfvier gehaal nadat sy met ’n taxi tot op die stasie moes kom. Sy is ’n alleenmamma. Daardie tyd was haar seuntjie nog in die kleuterskool. Hy moes dan self opstaan as die wekker afgaan wat sy vir hom gestel het, sy ontbyt eet wat sy vir hom reggesit het, aantrek en dan die deur agter hom sluit en skooltjie toe stap. Die middag het hy weer teruggestap huis toe en homself in die huis toegesluit tot sy ma vanaand by die huis kom. Later het Louisa my met ’n drukkie gegroet. Sy kon nie meer die Gautrein bekostig nie … Maar elke nou en dan wil sy hoor hoe gaan dit met “my friend”.
Ja, ’n mens sien en hoor baie dinge terwyl jy een na die ander breiprojek voltooi en net soms as jy daardie voltooide projek sien, dink jy weer aan die eensame vaal man, of die jong ou toe ooit kinders gehad het en of daardie eerste date toe op iets meer uitgeloop het …
Ouma se lappie
Maak 6 ks en gs in 1ste s tom ring te vorm.
1ste rdte: 3 ks (tel as lb, 2 lb in ring, *6 ks, 3 lb in ring, herh van * nog 2 keer , 6 ks, gs in 3de st van 3 ks aan beg.
2de rdte: 3 ks, 1 lb in elk van vlg 2 lb, *2 ks, (1 lb, 3 ks, 1 lb) in 6 ks-sp, 2 ks, 1 lb in elk van vlg 3 lb, herh van * nog 2 keer, 2 ks, (1 lb, 3 ks, 1 lb) in 6 ks-sp, 2 ks, gs in 3de ks van 3 ks aan beg.
3de rdte: 3 ks, 1 lb in elk van vlg 2 lb, *2 lb in 2 ks-sp, 2 ks, (1 lb, 3 ks, 1 lb) in 3 ks-sp, 2 ks, 2 lb in 2 ks-sp, 1 lb in elk van vlg 3 lb, herh van * nog 2 keer, 2 lb in 2 ks-sp, 2 ks, (1 lb, 3 ks, 1 lb) in 3 ks-sp, 2 ks, 2 lb in 2 ks-sp, gs in 3de ks van 3 ks aan beg.
4de rdte: 3 ks, 4 lb in elk van vlg 4 lb, *1 lb in 2 ks-sp, 1 lb in lb (2 lb, 3 ks, 2 lb in 3 ks-sp, 1 lb in lb, 1 lb in 2 ks-sp, 1 lb in elk van vlg 7 lb, herh van * nog 2 keer, 1 lb in 2 ks-sp, 1 lb in lb (2 lb, 3 ks 2 lb in 3 ks-sp, 1 lb in lb, 1 lb in 2 ks-sp, 1 lb in elk van vlg 2 lb, gs in 3de ks van 3 ks aan beg. Heg af.
Christa is sedert Oktober 1999 deel van die Vrouekeur-span en geniet steeds elke dag haar werk as taalversorger. Sy is mal oor haar kinders, kleinkinders, brei en lees en sommer die lewe in die algemeen. Sy moet net keer …