Met dié blog deel ek stukkies en staaltjies van my gebreide lewenskombers.
Christa Swanepoel
Waar die naam Die Gemaskerde Breier presies vandaan kom, sal ek nie kan sê nie. Wat ek wel weet, is dat my kreatiewe kollegas my die naam gegee het. Hoekom, weet hulle ook nie meer nie. Ek vermoed dis omdat ek selde sonder my breipenne of hekelnaald gesien word.
Die 37 minute van Hatfield-stasie tot Rosebank-stasie het ek gebrei. Die 20 minute op die Gautrein-bus van die stasie tot neffens Hyde Park het ek gebrei. Soms selfs die 5 minute vandat kollega Zerelda my by die busstop opgelaai het tot by die werk. Op pad na en van troues en familiekuiers, tydens informele vergaderings by die werk en byeenkomste by die kerk. So ek verskyn en verdwyn met my breiwerk in ’n sak. Soos een of ander superheld – Die Gemaskerde Breier.
Soms laat ek ’n spoor, soos Hansie en Grietjie van ouds. So het dit al gebeur dat ek van een kant van treintrok na ’n ander geloop het en toe ek gaan sit, sien ek dat my bal wol (nog vas aan my breiwerk in my sak) agtergebly het. My medepassasiers was ook nie links nie en een na die ander rol hulle die bal vir my al in die paadjie aan.
’n Ander keer was dit nie so maklik nie. Ek was al uit die trein en halfpad by die trappe op toe ek ’n benoude “Madam! Madam!” hoor. Ja, my wol het in die trein agtergebly en die draad is saam met my die trappe op. Ek kon dit betyds “red” voor die trein weer vertrek het.
Anders as die keer toe ons laataand van ’n reunie af teruggery het. (Ja, ek het gesit en brei terwyl ons die dag gepraat het.) Ewe skielik gee my breiwerk so ’n ruk in my hand. Ek volg die draad en sien dit is by die deur uit. Ek wonder nou nog wat het die mense in die helder daglig gedink oor die draad wol wat van die venue af in die pad af en wie weet hoe ver nog afgerol gelê het.
Soos julle medebreiers sal weet, kan jy ewe goed aan ’n geselskap of vergadering deelneem as jou hande besig is, maar sit jy iewers alleen, loop jou gedagtes ver paaie as jy so steek vir steek en ry vir ry vorder. Jy bedink dinge wat gewees het en droom oor dinge wat voorlê. En so brei jy die verlede en toekoms in jou breiwerk vas.
Met dié blog deel ek stukkies en staaltjies van my gebreide lewenskombers. Neem julle penne op en doen mee.
Saam met my gedagtes deel ek graag elke keer met julle ’n hekelblokkie, of Granny Square. Kom ons sit saam ’n kombers aanmekaar.
Hekelpatroon 1
Pas jou hekelnaald by jou dikte breidraad aan
Met 1ste kleur maak 6 ks en gs in 1ste st om ring te vorm.
1ste rondte: 3 ks (tel as lb), 2 lb in ring, *2 ks, 3 lb in ring, herh van * nog 2 keer, gs in 3de st van 3 ks. Breek draad af.
2de rondte: heg tweede kleur in enige 2ks-spasie, 3 ks, 2 lb in 2ks-spasie, 2 ks, 3 lb in dieselfde ks-spasie, 2 ks, *(3 lb, 2 ks, 3 lb) in vlg ks-spasie, 2 ks, herh van * nog 2 keer, gs in 3de st van 3 ks.
3de rondte: heg eerste kleur in enige 2ks-spasie op hoek, 3 ks, 2 lb in 2ks-spasie, 2 ks, 3 lb in dieselfde ks-spasie, 2 ks, 3 lb in vlg ks-spasie, 2 ks, *(3 lb, 2 ks, 3 lb) in vlg hoek-ks-spasie, 2 ks, 3 lb in vlg ks-spasie, 2 ks, herh van * nog 2 keer, gs in 3de st van 3 ks.
4de rondte: heg tweede kleur in enige 2ks-spasie op hoek, 3 ks, 2 lb in 2ks-spasie, 2 ks, 3 lb in dieselfde ks-spasie, 2 ks, (3 lb in vlg ks-spasie, 2ks) 2 keer, *(3 lb, 2 ks, 3 lb) in vlg hoek-ks-spasie, 2 ks, (3 lb in vlg ks-spasie, 2ks) 2 keer, 2 ks, herh van * nog 2 keer, gs in 3de st van 3 ks.
Christa is sedert Oktober 1999 deel van die Vrouekeur-span en geniet steeds elke dag haar werk as taalversorger. Sy is mal oor haar kinders, kleinkinders, brei en lees en sommer die lewe in die algemeen. Sy moet net keer …