CHRISTA SWANEPOEL
Terwyl ek gisteraand hierdie “ouma-lappie” sit en hekel, kom die WhatsApp deur: My liewe vriendin van Somerset-Wes, Linda, se negende kleinkind, Lia, is pas gebore.
Nou ek ken Linda al by die 40 jaar. Ons het saam gewerk, is kort na mekaar getroud, het saam saam kinders gekry, saam die kinders grootgemaak en toe ons mans byna dieselfde tyd besluit om voltyds verder te studeer, het ons saam swaargekry. Hoeveel aande het ons nie ons kos bymekaargegooi en heerlike saam geëet en gekuier nie. Daardie tyd was dit nie altyd so prettig om te meet en pas nie, maar met terugskouing was dit kosbare tye.
Later het hulle Kaap toe getrek terwyl ons in Gauteng agtergebly het. Dit was en is steeds hartseer om ‘n vriendin wat alles van my weet en al my swaarkry en lekkertes met my gedeel het (en ek hare), net een of twee keer per jaar te sien.
Mettertyd is haar drie kinders getroud en ook ons oudste. En dis hier waar die ooreenkomste in ons lewens drasties begin verskil …
Hul drie krose het saam sover vir nege kleinkinders gesorg terwyl ek (nog) net twee het. Die jongste van my twee het hoeka die naweek al sewe geword en boeta, geniet ek hulle.
Maar die hoop beskaam nie. Dit sal darem lekker wees om weer ‘n klein mensie in die gesin te hê. My twee jongstes, wat ook al na 30 toe sleep, het nog geen sulke planne nie. Tweede oudste het darem al ‘n meisie. Ek het nou nog nie in daardie rigting geskimp nie, maar haar ma is blykbaar net so uitgehonger vir ‘n klein mensie (sy is ‘n enigste kind), want toe sy Kersfees bel sê sy: “Enjoy your Christmas and make memories … like a baby!”
Nou ja, as ek so die een na die ander brei- of hekelding klaarmaak, dink ek al klaar watter mooi kombersies ek vir my kleinkinders gaan maak. Dis te sê as my hande nie teen daardie tyd al kromgetrek is van die rumatiek, of ek dalk nie meer kan sien nie …
Ouma se blokkie
Maak 8 ks en gs in 1ste st om ring te vorm.
1ste rdte: 6 ks (tel as lb en 3 ks), *1 lb in ring, 3 ks, herh van * 7 keer, gs in 3de ks aan begin.
2de rdte: gs tot in 1ste 3 ks-sp, 3 ks (tel as lb), 3 lb in dies ks-sp, 2 ks, *4 lb in vlg 3 ks-sp, 2 ks, herh van * rondom, gs in 3de ks aan begn.
3de rdte: gs tot in 2 ks-sp, 3 ks (tel as lb), 5 lb in dies ks-sp, 1 ks, *6 lb in vlg ks-sp, 1 ks, herh van * rondom, gs in 3de ks aan begin.
4de rdte: gs tot na 3de lb van 6 lb-groep, 4 ks (tel as 1 kb en 3 ks), 1 kb tussen twee 6 lb-groepe, 3 ks, 1 kb na 3de lb in 6 lb-groep, 3 ks, (2 lb, 3 ks, 2 lb) tussen vlg 6 lb-groepe (hoek), 3 ks, *1 kb na 3de lb van vlg 6 lb-groep, 3 ks, 1 kb tussen 6 lb-groepe, 3 ks, 1 kb na 3de lb van 6 lb-groep, (2 lb, 3 ks, 2 lb) tussen vlg 6 lb-groepe (hoek), herh van * rondom, gs in 1ste ks aan begin.
5de rdte: gs tot in 3 ks-sp, 6 ks (tel as lb en 3 ks), *1 lb in vlg 3 ks-sp, 3 ks, herh van * tot in hoek-sp, (2 lb, 3 ks, 2 lb) in hoek-sp, 3 ks, herh van * rondom, gs in 3de ks aan begin.
Christa is sedert Oktober 1999 deel van die Vrouekeur-span en geniet steeds elke dag haar werk as taalversorger. Sy is mal oor haar kinders, kleinkinders, brei en lees en sommer die lewe in die algemeen. Sy moet net keer …