Dalk is dit ’n einde-van-die-jaar-ding, dalk ’n ouer-word-ding, maar ek dink aan die einde van dinge.
Christa Swanepoel
So ’n rukkie gelede is ek na ’n oogdokter toe, want ek sukkel om mooi te sien. Iets is fout en ek weet nie wat nie. Ek het immers kontaklense én ’n bril. Laasgenoemde het ek nodig omdat ek vir my werk heeldag moet lees en ook omdat ek saans as ek by die huis kom moet brei of hekel. Maar ek kom agter ek moet begin korrel om te fokus, vandaar die afspraak by die oogdokter – ‘n hoogaangeskrewe professor en meester op die gebied van oë.
Nee, sê hy, hy kan niks vir my doen nie. Nie laser nie, nie enige ander operasie nie. Niks. My sig sal met tyd net verder agteruitgaan … Maar wag, hy kan iets probeer wat dalk sal help. ’n Inspuiting agter my retina, een elke maand vir drie maande – as dit teen daardie tyd nie beter is nie, is dit nou maar so.
Ek moet ook tandarts toe, want ’n stuk van my een kiestand breek af. Sy sal probeer om dit te red, sê sy, maar dit verg ’n wortelkanaalprosedure. Ek hou uit, want as daar een ding is wat ek nie wil hê nie is dit valstande. En ek het niks teen ander mense wat valstande het nie, hoor my mooi. Vir my is ’n mond sonder tande net nie ’n lekker gedagte nie.
En toe kuier my tannie Hester in dié tyd vir ’n aand by my. Tannie Hester is 83 jaar oud en sy is hier vir haar kleindogter se ooievaarstee. Tannie Hester maak twee geskenkpakkies op – een vir hierdie ooievaarstee en een vir dié se sussie wie se ooievaarstee oor drie maande is. In die sakkies is goed wat sy self gemaak het – ook gebrei het. Sy lag en sê dit gaan net al stadiger om iets klaar te kry omdat haar vingers stram en dom raak. Sy gee sommer nou altwee sussies se pakkie vir hulle, sê sy, want wie sê is oor drie maande nog met ons om die ander een s’n te gee. En nee, sy is nie depressief nie. Sy is net realisties, sê sy.
En al die dinge laat my dink: So kom als uiteindelik tot ’n einde. Maar siende dat dit hierdie tyd van die jaar is, dink ek aan niggies en neefs van my wat op ’n jong ouderdom oorlede is – en nie van siekte nie. Skielik, in rooftogte en ongelukke. Ek dink ook aan my ma wat op 51 jaar aan haar hart oorlede is. Ek onthou dat sy gesê het sy sal nooit lank genoeg lewe om alles te kan doen wat sy nog wou doen nie. Ek kan gelukkig sê dat hulle almal tot op die laaste voluit gelewe het.
Ons lewe nog, al gaan ons liggame agteruit, al raak die sig swakker en die vingers dom. Kom ons maak die beste van elke dag, want wie weet hoeveel tyd daar nog oor is …
OUMA SE BLOKKIE
Met A, maak 8 ks en gs in 1ste st om ring te vorm.
1ste rdte: 6 ks (tel as lb en 3 ks), (1 lb, 3 ks) 7 keer, gs in 3de ks aan beg.
2de rdte: gs tot in ks-sp, 3 ks, 2 lb in dies ks-sp, 2 ks, *3 lb in vlg ks-sp, 2 ks, herh van * rondom, gs in 3de ks aan beg. Heg af.
3de rdte: heg B in enige 2 ks-sp, 3 ks, 5 lb in dies ks-sp, 1 ks, *6 lb in vlg ks-sp, 1 ks, herh van * rondom, gs in 3de ks aan beg. Heg af.
4de rdte: heg C in ks-sp, 4 ks, 1 kb tussen 3de en 4de lb in lb-gp, 3 ks, *(2 lb, 3 ks, 2 lb) in vlg ks-sp, 3 ks, 1 kb tussen 3de en 4de lb in vlg lb-gp, 3 ks, 1 kb tussen lb-gp, 3 ks, 1 kb tussen 3de en 4de lb van lb-gp, 3 ks, herh van * rondom, gs in 1st ks aan beg. Heg af.
5de rdte: heg B in enige hoek-sp, 3 ks, 1 lb, 3 ks, 2 lb in dies hoek-sp, 3 ks, (1 lb in 3 ks-sp, 3 ks) 4 keer, *(2 lb, 3 ks, 2 lb) in hoek-sp, 3 ks, (1 lb in 3 ks-sp, 3 ks) 4 keer, herh van * en gs in 3de ks aan beg. Heg af.
6de rdte: heg A in enige hoek-sp, 3 ks, 2 lb, 3 ks, 3 lb in dies hoek-sp, 3 ks, (1 lb in 3 ks-sp, 3 ks) 5 keer, *(3 lb, 3 ks, 3 lb) in hoek-sp, 3 ks, (1 lb in 3 ks-sp, 3 ks) 5 keer, herh van * en gs in 3de ks aan beg. Heg af.
7de rdte: heg C in enige hoek-sp, 2 ks, 2 hlb in dies hoek-sp, 1 hlb in elk van vlg 3 lb, (3 hlb in 3 ks-sp) 6 keer, 1 hlb in elk van vlg 3 lb, *3 hlb in hoek-sp, 1 hlb in elk van vlg 3 lb, (3 hlb in 3 ks-sp) 6 keer, 1 hlb in elk van vlg 3 lb, herh van * en eindig met gs in 2de ks aan beg. Heg af.
Christa is sedert Oktober 1999 deel van die Vrouekeur-span en geniet steeds elke dag haar werk as taalversorger. Sy is mal oor haar kinders, kleinkinders, brei en lees en sommer die lewe in die algemeen. Sy moet net keer …