Brei is maklik. Jy kies jou wol en breipenne, sit die patroon neffens jou neer en ewe gemaklik op jou gunstelingbank sit jy steke op en begin brei. Goed, ek het al my arm in ‘n spasma ingebrei toe ek teen tyd ‘n projek moes voltooi, maar normaalweg doen ‘n mens nie veel beserings op as jy brei nie. Tuinmaak, vir my, is iets heel anders.
CHRISTA SWANEPOEL
Ek het in my ou “nuwe” huis ingetrek en genadiglik is die grootste deel van die erf geplavei, maar voor die voordeur is daar ‘n babatuintjie wat erg verwaarloos is. Ek is dankbaar oor die geplaveide deel, want my lewe word so te sê deur brei oorgeneem en ek het dus nie tyd om ‘n naweek in die tuin rond te vroetel nie.
Maar dis nie te sê ek hou nie van ‘n mooi tuin nie en mooi gaan ek die blertsie tuin mooi maak.
So bedel ek toe by algar wat ek ken skaduplante, want aan die een kant van hierdie tuintjie is ‘n boom wat heerlike koelte gooi. Ek hang my voëltjievoerder aan een van die takke en maak die waterbakkie staan. Maklik genoeg. Gou ontdek die voëls dit en kan ek hulle uit die sitkamer dophou.
Toe kry ek ‘n aanbod van plante van ‘n kollega en met ‘n belofte van tee maak ek ‘n afspraak vir laterig die Saterdagoggend. Eers val ek douvoordag in die pad Pretoria toe om die fonteintjie se bak te gaan haal wat met die trekkery daar agtergebly het.
Die ding is swaar, wil ek dit REGTIG hê, probeer my eks my oortuig.
Ja, ek wil.
Ek trek die kar tot teen die bak en op die telling van een, twee, drie lig ons dit in my kar in. Omdat ons nie vandag se kinders is nie, kom ons baie stadig orent net om seker te maak niks is gebreek of verrek nie en gee mekaar ‘n high five.
Op pad terug begin ek al klaar wonder of dit so goeie idee was. Ek is lam van my kopvel tot by voetsole.
Ek ry sommer reguit na Kollega toe en my asem slaan weg toe ek haar tuin sien. Welig. Voor en agter. Sy wys oral plante uit wat ek kan kry en toe gaan drink ons eers die beloofde tee.
Ek buig al moeiliker maar ons spit en trek en knip ‘n krat vol plante uit. Ek dra dit pyn vir pyn kar toe en ek vertrek huis toe. Daar is belofte van reën en ek wil die plante vinnig in die grond kry. En natuurlik die fontein se bak. Gelukkig pas die kar net-net in die ruimte in en met die kinders se hulp (en moeite) laat sak ons die bak in sy plek in. Dié keer kom ek moeiliker orent.
Nou is ek baie dankbaar vir die klein bedding en spit gate en plant so gou ek kan.
Ek staan tru en neem ‘n paar foto’s vir Kollega, maar toe is dit verby.
Ek skuifel die huis in, was my hande, drink pynpille en ‘n Voltaren en gaan lê versigtig op my bed.
Mag die plante groei en my tuintjie my nog baie vreugde verskaf, maar gee my liewer my breiwerk.
OUMA SE BLOKKIE
Maak 10 ks en gs in 1ste st om ring te vorm.
1ste rdte: 2 ks (tel as hlb), 15 hlb in ring, gs in 2de ks aan beg. 16 hlb.
2de rdte: 2 ks (tel as hlb), 4 hlb in dies st, haal hekelpan uit lus, steek hekelpen in 2de ks aan begin en dan deur lus, sit draad om pen en trek deur 2 lse op naald, slaan 1 hlb oor, *5 hlb in vlg hlb, haal hekelpan uit lus, steek hekelpen in 1ste hlb aan begin en dan deur lus, sit draad om pen en trek deur 2 lse op naald, slaan 1 hlb oor, herh van * en gs agter in 1ste hlb-bondel.
3de rdte: 9 ks (tel as lb en 6 ks), *1 lb agter in vlg hlb-bondel, 6 ks, herh van * en gs in 3de ks aan beg.
4de rdte: gs tot in 6 ks-sp, 3 ks (tel as lb), 4 lb in dies sp, 3 ks, 5 lb in dies sp (hoek gevorm), 3 ks, 1 kb in vlg 6 ks-sp, *(5 lb, 3 ks, 5 lb) in vlg 6 ks-sp (hoek gevorm), 3 ks, 1 kb in vlg 6 ks-sp, 3 ks, herh van * en gs in 3de ks aan beg.
5de rdte: gs tot in hoek-sp, 3 ks (tel as lb), 4 lb in dies sp, 3 ks, 5 lb in dies sp, 4 ks, 1 kb in 3 ks-sp, 3 ks, 1 kb in vlg 3 ks-sp, 4 ks, *(5 lb, 3 ks, 5 lb) in vlg hoek-sp, 4 ks, 1 kb in 3 ks-sp, 3 ks, 1 kb in vlg 3 ks-sp, 4 ks, herh van * en gs in 3de ks aan beg.
5de rdte: gs tot in hoek-sp, 3 ks (tel as lb), 2 lb in dies sp, 2 ks, 3 lb in dies sp, 2 ks, 3 lb in 4 ks-sp, 2 ks, 3 lb in 3 ks-sp, 2 ks, 3 lb in 4 ks-sp, 2 ks, *(3 lb, 2 ks, 3 lb) in hoek-sp, 2 ks, 3 lb in 4 ks,-sp, 2 ks, 3 lb in 3 ks-sp, 2 ks, 3 lb in 4 ks-sp, 2 ks, herh van * en gs in 3de ks aan beg. Heg af.
Christa is sedert Oktober 1999 deel van die Vrouekeur-span en geniet steeds elke dag haar werk as taalversorger. Sy is mal oor haar kinders, kleinkinders, brei en lees en sommer die lewe in die algemeen. Sy moet net keer …