Dit maak nie saak hoe oud of jonk is nie, as jou ouer(s) sterf, het dit ‘n groot impak op jou lewe, skryf JB Roux in ons 5 Augustus-uitgawe. Lees hier wat jy vir ‘n ouer kan doen wat ‘n lewensmaat verloor
Om ’n ouer se pyn ná die dood van sy of haar lewensmaat te sien, is volgens dr Tessa van Wijk, trauma-spesialis, een van die moeilikste dinge wat ’n mens moet deurmaak.
“Die vraag is altyd: Hoe staan ’n mens die oorlewende ouer ná die ánder ouer se heengaan by?
“Vra die oorblywende ouer wat hy of sy van jou verwag en dan doen jy presies dit. Moenie namens hom of haar besluit om sonder meer die huis op te pak en dat sy dadelik na byvoorbeeld ’n aftree-oord moet trek nie. Onthou ook dat elke ouer teen haar eie pas deur die rouproses sal werk.
“Die oorlewende ouer kan veral oor naweke baie eensaam voel. Dalk kan julle as kinders beurte maak om naweke by dié ouer te gaan kuier, net om daardie aanvanklike eensaamheid te verlig.
“Nooi ook die ouer saam na familie- of kerkgeleenthede, maar laat hy of sy self besluit of hy of sy wil gaan. Gee die ouer geleentheid om oor sy of haar vrese en angstigheid oor die toekoms te praat.
“Staan daardie ouer met praktiese sake soos die boedel, banksake en so meer by. Onthou om nie heeltemal ‘oor te neem’ nie – ’n mens is geneig om onder sulke omstandighede alles vir die oorlewende te wil doen.
“’n Mens kan wel wonder of jonger mense regtig verstaan hoe dit voel om iemand te verloor met wie jy 40 of 50 jaar (of langer) getroud was. Ek glo verlies is verlies en ’n jonger persoon wat verlies ervaar het, sal definitief met ’n ouer persoon wat ’n lewensmaat verloor, kan identifiseer. Die intensiteit van die verlies gaan dalk verskil, maar die pyn bly dieselfde.”