Durbanville se gewilde restaurantteater keer vir die derde keer terug na die KKNK.
Maryke Roberts
En as jy verlede jaar daar was, sal jy weet dit was een van die fees se treffers. Jurg Human en Margit Meyer-Rödenbeck, die eienaars van Die Boer skerts: “Ons is altwee effens mal. En toe ontdek ons dat ander kunstenaars mal is oor óns malligheid.”
Dis baie maklik: Kies ‘n vertoning en koop ‘n kaartjie (by dieselfde plek waar jy al jou ander feeskaartjies kry). As jy iets wil eet, daag jy net vroeër oop. Die restaurant maak twee uur voor elke vertoning oop en bedien ontbyt, middag- en aandete. Kaartjies sluit nie etes en drankies in nie.
Vanjaar sal die derde jaar wees wat die BOER KKNK sy deure in Oudtshoorn sal oopmaak , en alreeds het hy, net soos “Ouboet” in Durbanville diep spore getrap in die vermaaklikheidskalender van die land.
“Die Boer KKNK is ook geensins ‘n replika van Die Boer Durbanville nie. Die konsep is dieselfde, die kos is dieselfde en die akoestiek is selfs beter, maar hierdie “Boerin” het haar eie identiteit met ‘n Karoo-aanslag en natuurlik ‘n hele paar volstruisvere in die hoed!”
Dit is ‘n groot taak om ‘n kerksaal in ‘n behoorlike teater en volle funksionele restaurant te omskep. Verskeie verbeterings moes aangebring word en die kombuis is ook aansienlik opgeknap en spog na dese met moderne toerusting.
Die program sluit van ons land se voorste kunstenaars in: Jak de Priester met “Reis na Gister”, Francois van Coke Akoesties, Amanda Strydom met ‘n “Rugsak vol Robyne”, Andriëtte met ‘n “Pêrel vir ‘n Kroon”, Adam Tas met “Want jy is Boer”, Jannie du Toit met “Bonjour Monsieur Brel” en Twee met “Piekniek vir Twee”
Besoek www.dieboer.com en klik op “Boer KKNK” vir die Absa KKNK-spyskaart.
Die Boer KKNK word aangebied deur kykNET, Diemersdal, Van Loveren en Deeghuys.
SOURCES
Riehan Bakkes