Cancer.vive bevorder bewusmaking van kanker en bied ondersteuning vir kankerlyers. Hier deel ons nuttige inligting.
Kanker veroorsaak wêreldwyd die dood van meer mense as MIV/Vigs, malaria en tuberkulose gekombineerd. Cancer.vive is ’n plaaslike organisasie wat bestaan uit mense wat kanker oorleef het en nou ’n verskil wil maak in ander se lewens.
Cancer.vive bevorder kanker-bewusmaking, opvoeding en bied ondersteuningsgroepe aan kanker-pasiënte.
Vroeë diagnose van kanker is belangrik om so vroeg as moontlik behandeling te begin, maar baie mense weet nie wat die simptome van kanker is nie. Cancer.vive strewe daarna om mense op te lei om kankersimptome te kan herken, maar ook om nie ’n positiewe diagnose te vrees nie en die moed te hê om ’n dokter te besoek wanneer dit nodig is.
Wat is kanker?
- Daar is 300+ kankers en elkeen het ’n ander tipe behandeling nodig
- Kanker kan nie van een persoon na ’n ander oorgedra word nie
- Enigiemand kan kanker kry – dit maak nie saak wat jou ouderdom of ras is nie
- As kanker vroeg gediagnoseer word, kan dit suksesvol behandel word
- Kanker het spesifieke gevaartekenes
Die gevaartekens
- ’n Verandering in die kleur, tekstuur, grootte of vorm van stoelgang
- As jy diarree het of hardlywig is of as daar bloed in jou uriene of stoelgang is.
- ’n Seerplek wat nie gesond word nie
- Ongewone bloeding of uitskeiding van enige opening in jou liggaam
- ’n Verdikking of knop in jou bors(te), testikel of elders in jou liggaam
- Slegte spysvertering of as jy dit moeilik vind om te sluk (’n drukkende gevoel in jou keel of bors wat dit moeilik maak om te sluk – as jy versadig voel al het jy nie geeët nie of min geeët).
- ’n Opvallende verandering in die kleur, grootte, vorm en dikte van ’n vratjie, moesie of mondseertjie.
- ’n Aanhoudende hoes of heesheid wat langer as 3 weke aanhou (’n verandering in die heesheid van jou stem of ’n hoes wat nie beter raak nie en bloed in jou spoeg)
Die volgende kan ook tekens van sekere kankers wees
- Aanhoudende hoofpyne
- Skielike gewigsverlies of verlies van aptyt
- Kroniese pyn in bene of ander dele van jou liggaam
- Konstante moegheid, naarheid of braking
- Aanhoudende lae-graad koors
- Herhaalde infeksies
- Kortasem
- Indien jy van hierdie simptome het, kontak jou dokter.
Waar kan jy hulp kry?
- Jou daghospitaal
- Skakel Cancer.vive se tolvrye hulplyn by 0800 033 337 of besoek
- www.cancerbuddies.org.za vir meer inligting oor ondersteuningsgroepe.