Iemand wat werklik depressief is, ervaar ’n intense gevoel van hopeloosheid, ’n gebrek aan eiewaarde en ’n skuldgevoel wat langer as ’n paar dae duur.
Christa Swanepoel
Iemand wat werklik depressief is, ervaar ’n intense gevoel van hopeloosheid, ’n gebrek aan eiewaarde en ’n skuldgevoel wat langer as ’n paar dae duur. By kinders kom dit meestal by tieners voor en is ’n belangrike oorsaak van selfmoord.
Wat is die oorsake?
Die oorsake is uiteenlopend. Hartseer oor die dood van ’n geliefde kan in depressie omsit. Par ty tipes kom in families voor en daar kan ook ’n biochemiese faktor wees. Stres vererger dit soms.
Wat is die simptome?
’n Kind wat depressief is kan:
- feitlik heeltyd ongelukkig lyk;
- dikwels huil;
- prikkelbaar en lusteloos wees en nie konsentreer nie;
- kla dat hy of sy heeltyd angstig, verveeld, hartseer of moeg voel;
- swak vaar op skool;
- soggens baie vroeg wakker word;
- gewig verloor of te veel gewig aansit; en
- hoofpyn, maagpyn en diarree kry, oënskynlik sonder rede.
Wat kan jy doen?
Jy kan ’n ligte aanval van depressie laat oorwaai deur met jou kind te praat en die rede vir sy of haar gevoelens te probeer identifiseer. Bied emosionele ondersteuning en probeer oorsake van angstigheid beperk. Deelname aan ’n sport of stokperdjie, oefening of omgang met ander kan help om ligte depressie te verlig.
Moet jy ’n dokter raadpleeg?
Raadpleeg ’n dokter as die depressie vererger of langer as ’n paar weke duur, of as die hartseer oor die dood van ’n geliefde langer as ’n paar maande duur. Behandeling kan psigoterapie en/of in erge gevalle antidepressante insluit. Die meeste kinders verbeter gou ná behandeling, maar party bly maande depressief voordat verbetering intree. In enkele gevalle is depressie wederkerend of aanhoudend en soms lei dit tot selfmoord.
– Uit: As my kind siek is
- Klik hierom die artikel Bipolêre steuring: Als wat jy moet weet te lees
SOURCES
Verskaf