
Die fotograaf, Stuart McHattie van stuART, se pragtige foto’s wat op skilderdoek of fotopapier gedruk word, was baie gewild.
Die 20ste Kaapse dekor-, leefstyl en ontwerp uitstalling, Decorex, wat deur Plascon geborg word, het twee naweke terug by die Kaapstad Internasionale Konferensiesentrum plaasgevind
Deur Maryke Roberts
Foto’s Maryke Roberts
Daar was weer ’n wye reeks stalletjies om van te kies, van kunswerke deur voorste Suid-Afrikaanse kunstenaars, matte, lampe, beddens, kombuise en badkamers, tot katoenbeddegoed wat jou snoesig droomland toe sal stuur.
Tussen die stalletjies deur was daar verskeie werkswinkels oor selfdoen, kosmaak en selfs waterwys-wenke by jou huis of hoe om self sonpanele te installeer.
Die wenner van die beste algehele stalletjie by Decorex Kaapstad was Rudi’s Choice waar skakerings van wit en swart en goud treffend in ’n reuse vrystaande stalletjie gebruik is.
Die slaapkamerprojek het drie ontwerpers, Vox Furniture SA, Changing Spaces Interior Design en Lucky Fitsch Interior Outfitters gevra om die 2018 #rhythmoflife neigings in drie afsonderlike slaapkamers na vore te bring. Een moes ’n deftige woonstel, een ’n rustige boslodge en een ’n elegante hotelkamer vir besoekers se inspirasie versier.






