Vir ’n lang ruk was De Villiers Chocolate van Simondium en die Spice Route buite die Paarl net ’n paar ingeligtes se geheim en gereelde stopplek as hulle in die Bolandse dorp gaan kuier.
Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts
Gelukkig is dit nou iets van die verlede: nie alleen is die handgemaakte sjokolade nou in verskeie Woolworths-takke beskikbaar nie, daar is ook nou ’n nuwe sjokoladekafee, De Villiers Chocolate Café, in Franschhoek.
Daar was ’n paar gelukkiges wat onlangs deur die eienaars van De Villiers Chocolate, Pieter en Cornell de Villiers genooi is om die opening in regte sjokoladestyl te kom vier. En as jy boonop al die mediese navorsing glo, is dit sjokolade – nie appels nie – wat die dokter van jou deur weghou.
Die sjokolade bevat geen GMO’s, stabiliseerders en gluten nie en die hoë en ongemodifiseerde kakao-inhoud sal enige professionele sjokolade-proeër in staat stel om die plantasie van oorsprong van die kakaobone te bepaal. Pieter het vertel dat al sy kakaobone van organiese plantasies gekoop word, wat deel vorm van die volhoubare sertifiseringsliggaam, UZT, wat ook etiese werkspraktyke en omgewingspraktyke onderskryf.
Pieter was een van Afrika se eerste boon-tot-sjokoladeblokmakers en gebruik suiker en kakao as boustene van al sy produkte – ’n groot verskil van meeste sjokolademakers wat grootmaat invoer en nie altyd seker is of daar enigsins kakaobone in hul produkte gebruik is nie. Pieter koop sy rou bone by die boere in Uganda en rooster dit self by sy klein fabriek in Simondium.
LEES OOK:Paarl die ideale winterkuierplek
Hy het oor ’n koppie warm, gesmelte sjokolade vertel dat hy eers ’n ingenieur was. Sy liefde vir handgemaakte produkte en goeie sjokolade het hom laat eksperimenteer in sy motorhuis in Hermanus. Hy het al sy hand gewaag aan brood- en wynmaak, maar dis by sjokolade-maak wat sy liefde regtig lê.
“Ek het geleer dat kakao se geurprofiel – net soos wyn – beïnvloed word deur terroir, die omgewing en die tipe grond waarin die plant groei. Dit het my laat besluit om enkel-oorsprong sjokolade te maak.”
Die pad was beslis nie met sjokolade besaai nie: die waardeketting, die verkryging van organiese kakaobone en die vervolmaking van die resep was ’n harde leerskool. Pieter vertel hoe hy aanvanklik ’n ou masala-meul, haardroër en ’n herwonne wasmasjien gebruik het om die bone te maal, rooster en smelt.
Mens kan dit amper nie glo as jy daar in die nuwe kafee aan jou glutenvrye roomyshorinkie en handgemaakte sjokoladeroomys knaag nie. Vandag spog De Villiers Chocolates met 160 individuele produkte, wat alles met die hand gemaak word.
Die De Villiers Chocolate Café is in Franschhoek se Heritage Square geleë.