Kenners verduidelik hoe jy jou oorgewig kind kan help.
Carla van der Spuy
Dis amptelik. Ons kinders is oorgewig. Die grootste redes hiervoor is kitskos en te min beweeglikheid. Kinders speel nie meer buite soos van ouds nie. Nee, hulle bring hul dae al sittend of lêend voor die TV-stel, rekenaar en tablet deur.
Die syfers
• helfte van Suid-Afrikaanse leerders is fisiek aktief
• 2/3 van tieners eet drie keer per week kitskos
• vetsug het met 23% gestyg onder meisies tussen 10 en 14 jaar oud (sedert 2010)
• vetsug het met 10% gestyg onder seuns tussen 10 en 14 jaar oud (sedert 2010)
• 27% van meisies en 9% van seuns tussen 15 en 17 jaar oud is vetsugtig of oorgewig
• Suid-Afrikaanse kinders is gemiddeld slegs 20 minute per dag aktief terwyl hulle eintlik 60 minute lank daagliks matig tot straf behoort te oefen
*volgens die 2014 Healthy Active Kids Report Card (Haksa)
Ouers kan help
• stel ‘n voorbeeld aan jou kinders
• wees bewus van wat jou kinders eet
• moedig jou kinders aan om aan sport deel te neem
• stel redelike grense ten opsigte van TV-tyd
Hoe meer jy uiteet, hoe meer eet jy
Dis nie net in Suid-Afrika dat kinders al vetter word nie. In ’n Amerikaanse studie deur Lisa Powell wat in die Archives of Pediatrics & Adolescent Medicine verskyn het, is bevind dat daar uiteindelik sterk bewyse daarvoor is dat as kinders uiteet hul weens die yslike porsies, kaasbelaaide stysel en suikerdeurdrenkte koeldrank gewig aansit.
Lisa en haar kollegas het in hierdie studie aan die Institute for Health Research and Policy and Department of Economics by die Universiteit van Illinois in Chicago die eetgewoontes van 10 000 kinders tussen 2 en 19 jaar oud bestudeer. Hul doelwit was om eerstens ondersoek in te stel na kitskos en gewone restaurante vergeleke met maaltye wat tuis genuttig word. Nou is dit so dat hoe meer jy weg van die huis af eet, hoe meer kilojoules verorber jy.
Daar is ook bevind dat armer tieners meer suiker, vet, versadigde vette en natrium as hul ryker eweknieë inneem.
Gee rou groente
Melinda Odendaal, streekskoördineerder van die verslankingsorganisasie Weight Watchers, sê bitter min kinders sluit by hulle aan.
Sy meen die vernaamste rede vir gewigstoename onder kinders is groepsdruk ten opsigte van kos. Daar is onkunde oor die newe-effekte van lekkergoed en etikette op kosprodukte word nie gelees nie. Ouers koop vir hul kinders kitskos om hul guns te wen.
Weight Watchers leer mense deur hul puntestelsel hoe om baie en gesond te eet en gesonde “laepuntkeuses” te maak.
“As daar nie ongesonde kos in die huis is nie, sal die kinders heerlik aan rou groente weglê,” sê sy.
Die ouers se rol
Oorgewig kinders kry swaar, sê Ina van der Merwe, ’n dieetkundige van Pretoria. Hulle beweeg moeiliker en kan weens ’n gespottery sosiale probleme ervaar.
Ina sê oorgewig ontstaan omdat gekonsentreerde bronne van energie soos koeldrank, vrugtesap, energie- en melkdrankies vrylik beskikbaar is.
Oorgewig kinders se risiko om diabetes en hartsiekte op ’n jong ouderdom te kry, is groot. Daarom moet kinders van kleins af geleer word om water en vetvrye melk te drink en groente en vrugte en volgraanbrood te eet.
“Gesels met jou kind oor gesonder eetgewoontes. ’n Kind wat van kleins af gesonde eetgewoontes aanleer en verstaan, sal gewoond wees daaraan en as volwassene nie ‘n probleem hê om gesond te eet nie.
“Ouers moet leer om ‘nee’ te sê as hulle teen hul beterwete vir hul kinders ongesonde snoepgoed koop om die kind te troos. Moenie snoepgoed heeltemal uitskakel nie, beperk dit net. Dit werk beter. Hou dit vir ’n spesifieke maaltyd of geleentheid.
“As ’n dieet te streng is en die kind te min eet, kan ’n kind ophou groei en gewig verloor, wat weer vinnig aangesit word. Die kind kan ook ’n obsessie oor kos ontwikkel en dit lei weer tot groter gewigsprobleme,” sê sy.
Daar moet egter nooit klem op die kind se gewig gelê word nie.
Sy sê ook as ’n kind ’n gewigsprobleem het, is dit belangrik dat die hele gesin ’n gesonde dieetplan volg, leefstylveranderinge maak en dieselfde kos eet as die kind met die probleem. Lekkernye soos roomys en koekies moenie in die huis aangehou word nie sodat die kind nie versoekings hoef te weerstaan nie.
Daaglikse oefening is noodsaaklik – veral vir die hele gesin. Vermy energiedrankies en vrugtesap, want dis kalorieryk.
Pasop vir ’n geboelie
Karlien Erasmus, ’n sielkundige by Erasmus Therapy in Pretoria, meen ook die gewigstoename onder kinders kan daaraan gewyt word dat kinders deesdae meer passiewe aktiwiteite voor die rekenaar, TV-stel of op die tablet of selfoon beoefen en dus minder buite speel en beweeg.
“Ons vinnige lewenstempo lei daartoe dat mense op behoeftebevrediging ingestel is en dat kitsprodukte aan die orde van die dag is. Kinders geniet meer kitsmaaltye omdat ouers dikwels nie meer tyd het om gesonde, gebalanseerde maaltye vir die gesin voor te berei nie, laat staan nog as ’n gesin saam eet.
“Dit is belangrik dat gesinne saam eet en tyd saam deurbring. Goeie verhoudinge en emosionele betrokkenheid by jou kinders kan ook moontlik as ’n voorkomende maatreël dien sodat jou kind nie dalk ‘n emosionele eter word nie. Soms eet mense onbewustelik aanhoudend en verkeerde soorte kos omdat hulle onbewustelik ’n emosionele leemte probeer vul.
“As jou kind taamlik oorgewig is, moet jy dit as ernstig beskou en so gou as moontlik iets daaraan doen. Laat jou kind medies ondersoek word om vas te stel of daar nie dalk ’n mediese rede vir die oorgewig is nie. Spreek ook ‘n dieetkundige vir praktiese raad wat geskik vir jou kind se ouderdom is. Stel ’n oefenprogram vir jul gesin op om só ’n gesonde balans te handhaaf. Bied emosionele ondersteuning aan jou kind. Dis soms nodig dat oorgewigprobleme met behulp van psigoterapie geïdentifiseer word om dit doeltreffend te hanteer.
“Oorgewig kinders word dikwels geboelie. Voorkom dat jou kind ’n swak selfbeeld kry deur betyds te keer dat jou kind gewigsprobleme kry.”
Henk Swanepoel, ’n sielkundige, sê talle kinders is ná skool alleen tuis en hulle maak dan hul eie (ongesonde) kos. Daar is ook kinders wat eet vir gerusstelling in reaksie op akademiese druk en eensaamheid. Kos dien as ‘n gemoedsverligter.
Skep ’n liefde vir beweging
Jacomari van Eck, ‘n kinderkinetikus van Hartbeespoort, verwys na ’n artikel getiteld “Childhood Obesity: The Need for Practice Based Solutions – A South African Perspective” wat deur proff AE Pienaar en GL Strydom van die fakulteit van gesondheidswetenskappe by die Noordwes-Universiteit gepubliseer is.
Daarin word vyf redes vir kindervetsug in ons diverse samelewing gegee
1 armoede
2 verkeerde dieet
3 kultuurverskille
4 passiewe gedrag en fisieke onaktiwiteit
5 ’n familiegeskiedenis van vetsug.
Vetsug neem wêreldwyd toe en daar word gemeen dat dit veral ook toeneem onder kinders wat verwester.
Jacomari sê kindervetsug is ongelukkig laag op Suid-Afrika se gesondheidsprioriteitslys omdat Suid-Afrika nog ’n ontwikkelende land is en 24,8% van die bevolking onder die broodlyn leef.
Boonop is MIV en tuberkulose epidemies en word die meeste gesondheidshulpbronne vir die bekamping hiervoor gebruik.
Gewigsbeheer vir ’n kind van 12 is boonop ’n verwikkelde proses omdat hierdie kinders nog nie abstrakte denke ten opsigte van gesonde gedrag het nie en dus nie die belangrikheid hiervan kan insien nie.
“Daarom word alle ouers en enige mense in ’n gesondheidsberoep, insluitend kinderkinetici aangeraai om ’n liefde vir beweging op ’n vroeë ouderdom aan te moedig eerder as om op gewigsverlies by ’n kind te konsentreer.
“Om te bepaal of jou kind as vetsugtig geklassifiseer word, is ingewikkelder as om jou kind net op ’n skaal te plaas. Ek beveel aan dat ’n opgeleide kinderkinetikus of iemand met soortgelyke opleiding die kind evalueer.
“Evaluasies behoort die BMI, gewig, lengte, meting van velvoue en kennis van die kind se mediese agtergrond in te sluit. Dit is dus noodsaaklik dat ’n kundige kindervetsug hanteer aangesien ’n program baie spesifiek op die kind se probleem gerig moet wees, hoewel dit in groepsverband kan plaasvind.”
Jacomari sê: “Hoe ernstiger die vetsugprobleem, hoe meer monitering en kundigheid word benodig om die probleem op te los. Ouers bly egter die belangrikste rolspeler in die handhawing van gesonde liggaamsgewig, want gewoontes word in die ouerhuis gevorm en dit is ook die plek waar dit gewysig moet word.”
Meer inligting
www.health.uct.ac.za (bykomende bron)