Depressie kom in verskeie gedaantes voor en dis belangrik om dit te verstaan, sodat ons onsself en mense ná aan ons kan help
Die wêreld is geruk toe Robin Williams in Augustus selfdood gepleeg het, nadat hy jare aan depressie gely het. Ons dink as iemand depressief is, sal hy of sy altyd hartseer, ongelukkig, afsydig en treurig wees en nooit glimlag nie. Dit is bloot nie waar nie, soos Robin se lewe getuig het.
Volgens die Suid-Afrikaande Depressie- en Angs-steungroep (Sadag), is daar 23 selfdoodgevalle per dag in Suid-Afrika en nog 230 ernstige selfdoodpogings. Om op jou vriende en familie ingestel te wees, is ’n belangrike deel daarvan om selfdood te voorkom en Sadag is beskikbaar as jy vermoed dat iemand aan depressie ly en selfdood oorweeg.
Sadag noem ‘n paar dinge wat ‘n depressiewe mens oor die rand kan dryf.
- ’n Onlangse verlies, soos die dood van ’n geliefde, werksverlies met verlies aan inkomste, die beëindiging van ’n vriendskap of die dood van ’n troeteldier.
- Erge teleurstelling, soos om ’n eksamen te druip of nie ’n werk te kry waarvoor jy aansoek gedoen het nie.
- Veranderde omstandighede, soos egskeiding, aftrede, aflegging of kinders wat die huis verlaat.
- ’n Geeste- of fisieke siekte of besering.
- Die selfdood van ’n familielid, vriend of openbare figuur.
- Finansiële en/of regsprobleme.
- ’n Traumatiese gebeurtenis, soos ’n brand, verkragting of ongeluk.
Hoe kan jy help ?
Baie mense dink die een of ander tyd daaraan om hul lewe te beëindig. Die meeste besef gelukkig dat die krisis tydelik is, maar daar is ook dié wat voel hulle sal nooit van die dilemma kan ontsnap nie, heeltemal beheer verloor en dan dreig om selfdood te pleeg.
Wat kan jy doen?
- Wees direk en praat openlik oor selfdood.
- Wees bereid om te luister. Laat die persoon toe om sy gevoelens uit te druk en aanvaar dit.
- Moenie oordeel nie. Moenie in ’n argument betrokke raak of selfdood reg of verkeerd is en of die persoon se gevoelens goed of sleg is nie. Moenie oor die lewe preek nie.
- Raak betrokke. Wees beskikbaar. Stel belang en gee jou ondersteuning.
- Moenie die persoon uitdaag om dit te doen nie.
- Moenie geskok reageer nie. Dit sal ’n wig tussen julle indryf.
- Moenie belowe om niks te sê nie. Kry hulp.
- Sê vir die persoon dat daar alternatiewe beskikbaar is, maar moenie oppervlakkige versekerings gee nie.
- Vra of jy ’n familielid kan kontak.
- Tree op. Verwyder goed soos pistole en pille.
- Moenie die persoon alleen los nie. Kry hulp van mense wat in krisis- en selfdoodvoorkoming spesialiseer.
- Indien nodig, kontak die polisie.
Kry ‘n balans tussen fisieke en geestesgesondheid
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) ly een uit elke vyf Suid-Afrikaners aan ’n geestesiekte en 75% van lyers kry nie die nodige behandeling hiervoor nie. Volgens dr Dominique Stott, hoof van mediese standaarde en dienste by die Professional Provident Society of South Africa is dit belangrik om ’n balans te kry tussen jou fisieke en geestesgesondheid en dat ons beter na hul geestesgesondheid moet omsien.
“’n Geestesiekte is ’n toestand wat deur verskeie faktore beïnvloed kan word, insluitend genetiese geneigdheid, eksterne faktore soos gewoontes; sosiologiese probleme soos egskeiding en gesinsprobleme en beroepsfaktore soos stres en werkstoestande.” As iemand ’n geskiedenis van geestesprobleme het, moet familie en kollegas veral oplet na gedragsverandering. “Die oomblik as iemand voel die lewe oorweldig hom of haar, is dit belangrik om professionele hulp te kry,” sê dr Dominique.
Wat is algemene angsversteuring?
Dit is deel van ons daaglikse lewe om ons oor verhoudings, spertye of gebeurtenisse te bekommer. Maar sommige mense ervaar uitermatige en onrealistiese kommer wat met hul werk of algemene omgang met mense inmeng. Dit word algemene angsversteuring (GAD) genoem.
Eienskappe van iemand met GAD
- So iemand verwag altyd die ergste, selfs al is daar nie rede voor nie.
- Die kommer is konstant en kom byna elke dag vir minstens ses maande voor.
- Die kommer is gewoonlik oor gesondheid, gesin, geld of werkverwante kwessies.
- Fisieke simptome wat algemeen voorkom, is rusteloosheid, geïrriteerdheid, spierspanning, uitputting, probleme om te slaap en gebrek aan konsentrasie.
- Kognitiewe simptome sluit in dat jy sukkel om die kommergedagtes te beheer.
Normale kommer VS GAD
Dit hang af van die mate van angstigheid en wanfunksie wat dit meebring. GAD se kommer is meer intens, omvattend en is meer geneig om met fisieke simptome verband te hou as gewone bekommernisse. GAD-simptome duur minstens ses maande. Baie mense met GAD het ’n depressiewe gemoedstoestand.
Wie kry GAD ?
- Vroue is twee keer meer geneig om dit te kry as mans.
- Kinders wat mishandel of verwaarloos is, sal makliker in hul latere lewe GAD ontwikkel.
- Om met ’n chroniese of ernstige siekte (soos kanker of MIV/vigs) saam te leef, kan daartoe lei dat iemand uitermatig oor die toekoms bekommerd is.
- Mense wat baie stres in hul lewe het, kan hulle ook uitermatig begin bekommer.
- Mense met sekere persoonlikheidstipes is geneig om angsversteurings te ontwikkel.
- Sekere families is meer geneig daartoe.
- Medisyne, alkohol, nikotien, kafeïen en sekere medikasies kan die risiko van GAD verhoog.
Hoe kom dit voor?
25% van pasiënte by klinieke met angsversteuring het ook GAD. Dit kom by 3% tot 8% van die bevolking voor en begin gewoonlik in adolessensie of vroeë volwassenheid.
Behandeling
Medikasie en psigoterapie of ’n kombinasie daarvan word gebruik. Omdat dit ’n langtermyntoestand is, is die behandeling dikwels lewenslank. Antidepressante en angsmedikasie word gewoonlik voorgeskryf.
Meer oor paniekversteuring
Paniekversteuring word deur onverwagte paniekaanvalle gekenmerk. Dit kan van ’n paar sekondes tot minute lank duur en kan uiters ongemaklik en ontstellend wees. Dit gaan dikwels met agorafobie gepaard, ’n onrealistiese vrees vir plekke of situasies waar dit moeilik is om van weg te vlug.
Kenmerkende simptome
Gedurende ’n paniekaanval is daar ’n vinnige toename van simptome oor ongeveer tien tot 30 minute. Die psigologiese simptome is erge en intense angs en ’n gevoel dat iets vreesliks gaan gebeur. Dit gaan met verskeie fisieke simptome gepaard, soos kortasemheid, vinnige hartklop, duiseligheid, ’n gevoel dat jy gewurg word, sweet, ’n droë mond, naarheid, spierspanning en sigversteurings. Mense wat paniekaanvalle kry, sal dikwels van een dokter na die ander gaan, soos kardioloë en neuroloë omdat hulle vrees dat hulle aan ’n lewensbedreigende siekte ly. Soms word die toestand eers ná jare gediagnoseer. In hierdie tyd sal lyers situasies of plekke vermy waar hierdie paniekaanval aanvanklik plaasgevind het, omdat hulle bang is dit bring weer ’n aanval voort. Dit is baie stremmend en onnodig beperkend vir so ’n mens.
Wie kry paniekversteurings?
Enigiemand kan dit kry, ongeag geslag, ras, of sosio-ekonomiese status. Dit begin gewoonlik in vroeë volwassenheid, maar kan enige tyd voorkom. Na raming ly twee tot vier mense uit 100 die een of ander tyd van hul lewe aan ’n paniekversteuring. Die eerste aanval gebeur gewoonlik ná ’n stresvolle voorval soos die dood van ’n nabye familielid of vriend, die beëindiging van ’n persoonlike verhouding of ná ’n egskeiding. Vroue is twee tot drie keer meer geneig om ’n paniekaanval te kry as mans.
Redes vir paniekaanvalle
Breinwerking en genetiese faktore kan ’n rol speel, sowel as ’n stresvolle gebeurtenis of omstandighede. As jy familielede met paniekversteurings het, is jou kans vyf keer groter om paniekaanvalle te ontwikkel as ander mense.
Behandeling
Die belangrikste is dat ’n professionele persoon dit diagnoseer. Hulp is beskikbaar en dit kan behandel word. Medikasie en psigoterapie of ’n kombinasie word gebruik. Daar is medikasie wat dadelik help, maar die gebruiker kan daarvan afhanklik raak (bensodiasepien) en dié wat stadig werk, maar weer gestaak kan word (antidepressante). Oor die algemeen word aanbeveel om die stadiger roete te volg.
Besoek www.sadag.org vir meer inligting bel die ondersteuningsgroepe by 0800 21 22 23 (08:00 tot 20:00), 0800 12 13 14 (20:00 tot 08:00) of SMS 31393; vir nog inligting oor depressie en angs, besoek www.letstalkmental.co.za