Vroue praat nie maklik daaroor nie – selfs nie met hul dokter nie – maar ‘n droë vagina is een van die ongemaklikste simptome wat vroue in hul menopouse ervaar.
Deur: Christa Swanepoel
“Die meeste vroue ly maar in stilte omdat dit vir hulle ‘n verleentheid is om daaroor te praat,” sê dr Trudie Smith, ginekoloog en verloskundige. “Hormonale veranderinge, wat met ouderdom en menopouse verband hou, beïnvloed die voering van die vaginale wande, wat tot droogheid en ongemak lei. Dit kan soveel as die helfte van alle menopousale vroue raak.”
Vaginale droogheid kan ervaar word voor of tydens seks; as pyn gedurende seks, ‘n gejeuk en brandgevoel, irritasie van die buitenste lippe van die vagina; herhalende vaginale of urinêre infeksies of sproeisimptome. Omdat die pH-balans in die vagina ná menopouse verander, is die risiko vir vaginale infeksies en inflammasie ook groter.
“Dit kan ‘n aansienlike negatiewe invloed op ‘n vrou se sekslewe, selfbeeld en gehalte van haar daaglikse lewe hê,” sê Trudy. “Dis ‘n bose kringloop omdat vroue met ‘n droë vagina geneig is om seks te vermy omdat dit pynlik en ongemaklik is en uiteindelik vererger dit die probleem.”
LEES OOK: Manlike menopause: mite of werklikheid?
Vaginale droogheid kan natuurlik enige tyd voorkom, maar by vroue in hul menopouse neem die hormoon estrogeen af, wat tot verdunning en inflammasie van die vaginale wande lei, wat die droogheid in die vagina veroorsaak.
Dr Trudy sê as die menopousale simptome tot die vagina beperk is, word hormonale terapie, wat direk op die vagina aangewend word, aanbeveel.
Sy sê vroue gebruik soms ander smeermiddel vir die droogheid, maar dit spreek nie die onderliggende probleem – die gebrek aan estrogeen – aan nie. “Daarom is ‘n lokale vaginale estrogeenterapie nodig.”
Vaginale estrogeen is beskikbaar in ‘n room of vaginale tablet. Eersgenoemde is dikwels moeilik om te gebruik en morsig en jy is nie altyd seker van die presiese dosis nie. Vaginale estrogeentablette kan hierdie probleem oplos, sê dr Trudie. “dit werk vinnig en jy behoort binne die eerste twee weke ‘n verandering waar te neem, hoewel dit 12 weke sal vat om sy volle voordele te ervaar. Dis egter belangrik dat jou dokter jou gereeld ondersoek om te bepaal of verdere behandeling nodig is.”
Estrogeen- vaginale tablette is sonder voorskrif by jou apteek beskikbaar.
Inligting: Adcock Ingram