Met dié jongste oorsiguitstalling is die fokus weer op die voorloper, Christo Coetzee, een van die voorste eksponente van abstrakte ekspressionisme
Deur JOHAN MYBURG
Die rol wat oorsiguitstallings speel om die werk van kunstenaars te herbevestig, kan nooit onderskat word nie. Des te meer is dit omvangryke uitstallings met heelwat navorsing wat in katalogusse of selfs boeke neerslag vind wat bydra tot die groter plek wat kunstenaars se werk in die openbare oog en die kunswêreld kry.
So was dit byvoorbeeld die geval met Alexis Preller toe Esmé Berman en Karel Nel die uitstalling Africa, the Sun and Shadows in die Standard Bank-galery in Johannesburg aangebied het. Benewens ’n nodige herwaardering van Preller se werk, het dié uitstalling, en die twee boeke wat daarmee saam gepubliseer is, sy werk ’n hupstoot in die sekondêre mark gegee. Einde verlede jaar het Wilhelm van Rensburg en Shonisani Netshia in dieselfde galery ’n uitstalling van die werk van Christo Coetzee (1929–2000) aangebied, ’n kunstenaar wie se werk veel meer prominensie verdien as wat dit die afgelope paar dekades ontvang het.
Bykans 20 jaar ná die laaste oorsiguitstalling van Coetzee se werk op Stellenbosch het die twee kurators met dié jongste uitstalling, The Safest Place is the Knife’s Edge, ’n nuwe oorsig oor sy werk van die 1940’s tot die vroeë 1980’s – met 1959/1960 as die kern van die uitstalling – gebied. Coetzee is tot ’n groot mate in Suid- Afrika vergete, maar eweso in die res van die wêreld, waar hy eens ’n voorloper, een van die voorste eksponente van abstrakte ekspressionisme, was. Hy het Suid-Afrika in 1951, net ná sy studie aan Wits en sy eerste solouitstalling in Kaapstad, verlaat. Hy het eers in Londen en daarna in Parys aansien verwerf, toe het hy saam met die befaamde Lucio Fontana (1899–1968) in Rome uitgestal, in 1959/1960 het hy ’n jaar in Japan by die Goetai-groep deurgebring en in 1961 is Butterfly Lighting in a Diamond, ’n doek met gemengde media wat hy in 1960 in Parys gemaak het, in die Museum of Modern Art in New York se uitstalling The Art of Assemblage ingesluit.
LEES OOK: Kuns: Willem Pretorius
Só het Coetzee die eerste Suid-Afrikaner geword wie se werk in Moma uitgestal is. In 1972 het hy teruggekeer en in Tulbagh gaan woon. Dié isolasie (Suid- Afrika het in daardie jare nie veel aansien in die buitewêreld geniet nie) het sy internasionale profiel gekniehalter, en vir Suid-Afrika was sy werk gewoon te vreemd en onverteerbaar. Die soort abstraksie wat toe hier beoefen is, was nie die soort formele avant garde-kuns wat Coetzee gemaak het nie. Die jaar in Japan het ’n blywende invloed op sy werk gehad, wat in dié jongste uitstalling benadruk is.
Die Goetaigroep (“goetai” is min of meer dieselfde as “Gestalt” in Duits) wat in 1954 in die na-oorlogse Japan tot stand gekom het, was daarop uit om die beperkings van kuns binne die abstrakte ekspressionisme voortdurend met dramatiese werk, ten opsigte van die performatiewe én materiaal, te bevraagteken. Die titel van die uitstalling, The Safest Place is the Knife’s Edge, kom uit ’n onderhoud waarin Coetzee verwys het na die noodsaak om jouself as kunstenaar te wees; om vreugde daaruit te put om jouself te wees – op die snykant van die mes. Dit is dié “veiligste plek”, om jouself en voortdurend aan die voorpunt te wees, wat Coetzee se werk kenmerk – spesifiek die werk van die mid-1950’s tot die mid-1960’s, maar ook dié daarvoor én daarna.