Dis net meer as ’n jaar sedert Chefs hulle deure in Oktober 2016 in die Tuine in Kaapstad geopen het
Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts
Dié geleentheid en hul somerspyskaart is onlangs gevier en hoewel die daaglikse keuses van jou gunsteling bereide geregte dalk verander het, werk Chefs steeds met dieselfde formule: geen kelners, geen spyskaart – net smullekker kos!
Hoofsjef en eienaar, Jenny Ward, het Kaapstad se restaurant ervaring omskep. Sy is ’n meester daarin om kos oor die kole gaar te maak. Haar liefde vir eenvoudige, maar steeds tradisionele etes waarby sy vars en seisoenele bestanddele gebruik wat van selektiewe verskaffers af kom, en haar behoefte om kos te bedien wat vinnig en ekonomies is, is beslis ’n wenkombinasie.
Die nuwe somerdisse gaan geen verskil wees nie. Jenny is soggens voor sonop by die groentemark en gesels met haar verskaffers, terwyl sy loer wat die weer vir die dag gaan maak, voor sy haar spyskaart beplan.
Soos voorheen, is daar daagliks slegs drie items om van die kies (geen voorgereg nie) en die items word elke oggend op Chefs se webwerf geplaas. Met somer kan jy die volgende tipe disse verwag: vars romerige geelstert tartare of gebraaide hoeder gemarineer met roosmarynbotter. Vegatariese opsies sluit in gerookte sampioene-, artisjok- en aspersieslaai of suurlemoen- gnocchi met sampioene en artisjok.
Jy kan jou ete afsluit met ’n watertand-lekker soetding soos ‘n gerookte vanielje crème brûlée of ’n gerookte kaneelskuimpie met dulce de leche.
Geen kommersiële koeldranke is te koop nie, want daar word elke dag ’n drankie van die dag, soos vars lemonade, gemaak.
Chefs in St Johnsstraat in Tuine, was aanvanklik net vir middagete oop, maar weens publieke aandrang het hulle ook aandete bygevoeg. Nou is die kombuis oop van Maandag tot Vrydag 12:00 tot 20:30. Besoek www.chefscapetown.co.za om elke dag se spyskaart te sien.
Volg Chefs op Instagram (chefscapetown) of op Facebook (@ChefsCapeTown), en neem deel aan sosiale media deur die volgende hutsteken te gebruik – #chefscapetown.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.