Boplaas vier erfenis en Portugese kultivar-wyne by historiese Groot Constantia
Deur MARYKE ROBERTS
Foto’s Clifford Roberts
Boplaas Familie Wingerde van Calitzdorp is een van die Klein Karoo-wynplase wat die afgelope paar jaar bekroonde tafelwyne van Portugese kultivars – wat tradisioneel vir portstyl-wyne gebruik is – maak.
By ’n middagete wat by Groot Constantia Landgoed gehou is, kon gaste die Boplaas Cape Portuguese White Blend 2018; die Boplaas Gamka Branca 2017; die Boplaas Tinta Barocca 2017; Boplaas Gamka 2015, Boplaas Cape Vintage Reserve Port 2016 en Boplaas Cape Vintage Reserve Port 2006 proe. Dit word almal met Portugese kultivars in die tradisionele metodes gepluk, gepars en die wyne gemaak.
’n Ete in die Jonkershuis Restaurant het gevolg, waar dié en ander wyne van die plaas met kos gepasmaat is. Carel Nel, eienaar en keldermeester van Boplaas, het vertel dat hulle Groot Constantia gekies het vir die vieringe, omdat sy grootouers, die Cloetes, eens Groot Constantia besit het, maar weens die gevreesde phylloxera wat wingerde voor die voet vernietig het, na die Klein Karoo verhuis het.
Die vieringe by Groot Constantia het nie alleen die kollig op die Nels se kleurryke geskiedenis laat skyn nie, maar ook vertoon wat hulle tans produseer en watter wyne met ’n gros medaljes spog. Boplaas is lankal een van die land se voorste portstyl-wyn-produsente en die Boplaas Cape Vintage Reserve het die afgelope 30 jaar Carel Nel se naam as ’n pionier wat Portugese kultivars in die Klein Karoo verbou, gevestig. Die wyne se vermoë om met die jare net te verbeter, is deur ’n proe van die Boplaas Cape Vintage Reserve Port 2016 én 2006 illustreer.
Die plaas het die afgelope paar jaar nie net wen-wyne gemaak nie, maar ook die gin-mark betree. By die geleentheid is ook hul lang distilleringsgeskiedenis wat na die 1880’s terugdateer toe brandewyn per ossewa na die Kaapse hawe geneem is om na Engeland uit te voer, gevier met die plaas se ses jaar oud Single Grain Whisky tawny port cask finish, wat die Beste SA Whisky by die gesaghebbende Michelangelo International Wine & Spirits Competition gewen het. Die whisky word vir ongeveer vyf jaar in gebruikte bourbon-vate verouder en dan vir ’n afrondingsperiode in tawny en vintage port vate verouder.