Die Nel-gesin van Boplaas Family Vineyards het rede om breëbors te wees
Maryke Roberts
Boplaas Family Vineyards op Calitzdorp het sy tradisie van konsekwente gehalte port- en tafelwynproduksie van Portugese druifkultivars voortgesit, met die aanwys van sy Boplaas Cape Vintage Reserve Port 2012 as die beste port by die Wine-of-the-Month Club-wynproe en besondere prestasie in die onlangs Cappa Port & Wyn Challenge; ? gesogte vyfster-beoordeling in die Platter’s 2016; ‘n derde plek in die Wine-of-the-Month Club; en ‘n plek onder die Top 100 in die National Wine Challenge, waar dit ook aangewys is as Beste SA Port.
Die Nel-gesin het hierdie oorwinnings onlangs by ‘n geleentheid by Groot Constantia in die restaurant se bekroonde Jonkershuis Restaurant, gevier. Die Nel-familie se patriarg, Carel en sy vrou, Jeanne, was saam met hul dogters, Margaux en Rozanne en seun, Daniel, by die geleentheid. Margaux is die wynmaker en haar broer en suster betrokke by die plaas se bemarking.
Constantia is van groot belang vir die Nels, omdat Carel se ouma ‘n Cloete van die oorspronklike Constantia wynplaas was.
Die plaas het ook The 1932 Block Hanepoot en Ouma Cloete Straw-wine 2015 by die middagete vrygestel. Die wyn is gemaak van Muscadel (dieselfde druiwe wat in Constantia gebruik is) en Viognier.
Gaste kon ook proe hoekom die landgoed internasionaal bekend is vir sy Portugese kultivars, toe ‘n hele reeks Portugese styl wyne van Boplaas teenoor Quinta do Crasto wynplaas van die Dourovallei in Portugal geproe is. Die 2013 Boplaas Gamka en Boplaas CWG Daniel’s Legacy Cape Portuguese 2013 was beslis die gunstelinge van die dag.
Daarna is ‘n vertikale proe van Boplaas Cape Vintage Reserve ports om hul verouderingspotensiaal te vertoon onderneem en hieronder was die 1985, 1996, 2006 en huidige 2012 oesjaar.
Die Nel-gesin van Boplaas Family Vineyards is van links Carel, Jeanne, Daniel, Margaux en Rozanne.
Gaste aan die proe.
Die indrukwekkende reeks wyne wat die dag geproe is.
SOURCES
Clifford Roberts