Margot Pakendorf-Schultz
Dis gevaarlik vir ´n skrywer om die kritiek en lof van resensente te ernstig op te neem. Hy of sy probeer dan om meer te bied van die dinge waarvoor hy geprys word, en in die proses verloor hy/sy altemit die varsheid en egtheid waarvan sy/haar lesers hou.
Ek voel dat dit met Sebastian Barry gebeur het – ek het sy boeke met toewyding en genot gelees, van Annie Dunne oor The long long way na The other side of Canaan. Toe ek na dié drie The secret scripture lees, het my bewondering effe getaan, en nou, met The temporary gentleman (2014)is ek teleurgesteld. Die “Iersheid” en ryk woordgebruik wat ek so bewonder het, het die wyk geneem voor oordadige en onvanpaste byvoeglike naamwoorde.
As ek vasbyt en verder as die eerste drie hoofstukke lees (hier het ek viervoet vasgesteek), sal ek moontlik weer van hom begin hou. Sal maar sien…
So hoor ek laas week van my buurvrou wat altyd alles weet dat ons beurtkrag van 6:00 tot 10:00 kan verwag. Ek sorg dat ek voor 6 uur eet, sit my kerse en paraffienlampie reg en steek my kaggeltjie brand. Net mooi toe ek gemaklik sit, gaan die krag af. Dis hoe ek my ´n black hole voorstel: sjoep, sonder ‘n geluid is dit skielik donker. En stil. Alle kontoere is uit die huis gesuig en daar is geen geluid êrens nie.
Ewenwel, ek neem my boek en klamp die lampie op om mooi te kan lees. En ek kry ‘n renons daarin en sit dit weer neer. Sit liewer my koplampie op en begin brei. Ek is nie ‘n professionele breier soos my kollega Christa nie, eerder ´n geleentheidsbreier. My wol en penne kom uit omtrent soos die albasters en springtoue vroeër klokslag ewe skielik in die winkels en op die speelgronde verskyn het. (Is dit nog so, wonder ek.)
Ek sit rustig en brei en kyk na die knetterende vuurtjie agter die vierkant van die glasdeurtjie voor my – my interaktiewe TV, met beweging en lig, waarop ek elke nou en dan ‘n stomp moet sit of ´n bietjie moet woel om die vuur aan te por.
Daar gaan my paraffienlampie ook dood en ek sit soos mense vanouds, deur al die eeue voor elektrisiteit, met ‘n kaggelvuur, kerse en handwerk op my skoot. Dis eintlik wonderlik om so terugverplaas te word na die vergete verlede. Ek het al vergeet kerse gooi bewegende skadu’s teen die muur – dis nie so ´n doodse lig soos elektriese beligting nie, maar lewendig en bewegend. Jy kan sien waar spookstories vandaan kom as jy kyk hoe die skadu’s op en af en heen en weer teen die mure wieg. En as jy in die slaapkamer met net ´n enkele brandende kersie in die bed lê, kan jy voel hoe die lig en donker om jou roer.
In my kleintyd moes ons nog met ´n flits na die buitetoilet gaan as die nood hoog was. Dit was nogal vreesaanjaend om so met die flits in die donker te loop, waar alles skielik anders lyk en die naggeluide jou van alle kante omring. Daarom dié gedig:
Man met flits
In die klein wit kol
van my wete stol
bruin en skerp ´n klip
soos ´n bok wat skrik,
staan, vinnig weghol
uit die klein wit kol.
Aan ´n takkie hang
twee ogies wat bang
uit die klein wit skyn
van my flits verdwyn.
Oor waters wat glip
soek ek klip na klip
maar ´n duister land
bedreig my alkant.
– DJ Opperman
Margot is Vrouekeur se taalversorger. Sy lees baie boeke, het baie boeke en is baie omgewingsvriendelik!