Dié boek is nie maklike leesstof nie.
Swetlana Alexeiwitsj het geluister hoe honderde indien nie duisende vroue nie vir haar vertel oor hul ervarings as soldate in die Tweede Wêreldoorlog. Hulle wou dit nie neerskryf nie, maar vir haar vertel. As jy dit lees, hoor jy hul individuele stemme. Die vroue was hoofsaaklik jong meisies wat in 1941 vir Rusland wou veg. Hulle was sestien, sewentien, soms selfs jonger, en het sommer van die huis af weggeloop en teen wil en dank by ´n groep soldate aangesluit. Hulle het kokke, klerewassers, verpleegsters, selfs skerpskutters en motorwerktuigkundiges geword.
Dis heeltemal anders as mans se verhale – daar kom geen groot gevegte of oorlogshelde voor nie, dikwels wis hulle nie eens wat hul bevelvoerders se name was nie en kon nie uitmaak wat hul range was nie. Hulle was bitter jonk en naïef en die oorlogsontberings en kennismaking met die dood het hulle geskok. Hulle het na mooi goed gesmag en dikwels sommer ´n ou lap geborduur of ´n kragie vir hul verslete mansklere gemaak. En keer op keer vertel hulle dat hulle ´n “mooi lyk” wou wees – nie sommer iewers in modder wegsak of flenters geskiet word nie, maar ongeskonde begrawe wou word.
Na die oorlog het hulle grootliks geswyg oor hul wedervarings – die manlike soldate is as helde gevier, maar hulle wou trou en kinders kry en nie mans afsit met praatjies oor alles wat hulle moes doen en meemaak nie. Dit was ´n groot verligting vir hulle om na al die jare af te pak teenoor iemand wat verstaan en nie veroordelend is nie.
Baie wou egter agterna, nadat hulle hul lewensverhaal vertel het, dit weer terugtrek, want dit pas nie in die heldinne-narratief van die staat nie. Swetlana Alexeiwitsj kon inderdaad vir ´n lang tyd juis om dié rede nie haar boeke publiseer nie – eers met perestroika het dit moontlik geword. Sy het wel verlede jaar die Nobelprys vir letterkunde vir haar vyf boeke gewen, maar daar is steeds stemme in Rusland wat haar afkraak. ´n Joernalis het byvoorbeeld gesê dat sy die Vredesprys van die Duitse Boekhandel in 2013 slegs gewen het oor sy Rusland haat.
By die oorhandigingsgeleentheid van die Nobelprys het Swetlana Alexeiwitsj ´n wonderlike toespraak gehou. Sy het haar oortuigings en die rede vir haar boeke soos volg verwoord: “My mentor, Ales Adamovitsj, wie se naam ek vandag met dankbaarheid noem, het gemeen dat dit heiligskennis is om romans oor die nagmerries van die 20ste eeu te skryf. Niks mag uitgedink word nie. Jy moet die waarheid vertel soos dit is. ´n ‘Super-letterkunde’ is nodig. Die ooggetuie moet praat.”
Sy doen dit: Sy luister na gewone mense se stories en skryf dit neer soos hulle dit self sê en voeg bloot haar eie kommentaar en inkleding by. Sy sê sy skryf eintlik al veertig jaar aan een boek, ´n kroniek van die Sowjet-Russiese tyd, met haar boeke oor Tsjernobil, oor Afganistan, oor kinders en oor vroue in die Tweede Wêreldoorlog en die jongste een oor die lewe in Rusland ná sosialisme.
Die gedig by dié blog kom van nog ´n Nobelpryswenner: die Poolse digter Wislawa Szymborska, wat die prys in 1996 gewen het en ook baie oor die oorlog geweet het.
The end and the beginning
After every war
someone has to tidy up.
Things won’t pick
themselves up, after all.
Someone has to shove
the rubble to the roadsides
so the carts loaded with corpses
can get by.
….
Someone, broom in hand,
still remembers how it was.
Someone else listens, nodding
his unshattered head.
But others are bound to be bustling nearby
who’ll find all that
a little boring.
….
Those who knew
what this was all about
must make way for those
who know little.
And less than that.
And at last nothing less than nothing.
Margot is Vrouekeur se taalversorger. Sy lees baie boeke, het baie boeke en is baie omgewingsvriendelik!