Min dinge maak my so bly as wanneer ek ’n slag slaan en ’n goeie boek teen ’n goeie prys koop
Margot Pakendorf-Schultz
Ek sit omtrent nooit my voete in die eksklusiewe boekwinkels met hul eksklusiewe, duur boeke nie – as ek lank genoeg wag, kry ek die einste boek waaroor mense nou so gaande is, ‘n jaar of wat later, met dieselfde inhoud en aantal bladsye, net baie goedkoper.
Ek ken al die winkels met tweedehandse boeke in my omgewing en bring baie tyd daarin deur. Daar is nie stapels van dieselfde boek soos in boekwinkels met nuwe boeke nie, dus moet jy elke rug behoorlik bekyk en lees. Ek neem ook graag van my geleesde boeke na dié winkels vir ‘n kredietbedraggie wat hulle met die hand in hul outydse A4-hardebandboek neerskryf, wat ek dan weer gebruik as my oog op ‘n boek val wat ek al lank soek.
Dié rustige, outydse manier van koop is na my smaak, en ek verkies hardebandboeke van toentertyd wat nog met aandag deurgelees en na ‘n vorige leser se hand gebrei en gebuig is. As hy of sy dan boonop woorde of sinne onderstreep het of opmerkings langs die kantlyn gemaak het, voel ek sommer ‘n band wat my met die vervloë leser verbind.
So kom ek toe onlangs op Annie Dunne deur Sebastian Barry af, ‘n skraal boekie deur ‘n Ierse skrywer wat skryf asof hy sing. Kort daarna loop ek elders twee ander boeke deur dieselfde Barry raak – A Long Long Way en Canaan’s Side – toevallig oor einste Annie Dunne se broer Willie, wat in die Eerste Wêreldoorlog sterf, en die jongste sussie, wat in die VSA woon.
Al drie boeke is liries, eerlik en vol insig geskryf, maar elkeen kom uit ‘n ander hoek. Ná die laaste een moes ek eers ‘n dag of wat tot verhaal kom, so oorweldigend was dit, met ‘n plot wat soos mosaïeksteentjies inmekaar pas.
Een ding wat die boeke so uitsonderlik maak, is die Ierse konflik wat sentraal tot die lewensverhaal van elke Dunne-kind staan, maar half indirek betrek word. Hul pa was die polisiehoof van Dublin, en die kinders was almal oortuig van sy belangrikheid en inherente goedheid – die jongste, Lilly, is verbaas dat haar Sondagskooljuffrou dink God het die wêreld geskape: “But the world, as she ought to have known, was made by my father”. Mettertyd verstaan die leser dat hy polities aan die verkeerde kant gestaan het – hy moes reg en orde vir die Britte handhaaf, dus het die grootste deel van die Ierse bevolking teen hom en sy manne in opstand gekom. Hulle is meer gehaat as die Engelse besetters self. In 1916, toe Willie al ‘n gesoute soldaat was, het die groot Paasfees-opstande in Dublin plaasgevind en die pa het uiteindelik sy aftrede in wrokkige afsondering op die platteland van sy herkoms geslyt. Iere sal seker baie meer ryke verwysings en agtergronde in die romans herken, maar vir ‘n buitestander soos ek was dit ‘n openbaring.
Dis moeilik om te glo dat Sebastian Barry haas onbekend is. Ek het vooraf net van The Secret Scripture geweet, wat ‘n paar jaar gelede op die kortlys van die Bookerprys was. Nou sien ek dat A Long Long Way in 2005 ook op dié kortlys was. Darem.
Nou weet ek waar om te snuffel as ek weer in ‘n boekwinkel is – onder B vir Barry.
Gedig
Easter 1916 (uittreksel)
I have met them at close of day
Coming with vivid faces
From counter or desk among grey
Eighteenth-century houses.
I have passed with a nod of the head
Or polite meaningless words,
Or have lingered awhile and said
Polite meaningless words,
And thought before I had done
Of a mocking tale or a gibe
To please a companion
Around the fire at the club,
Being certain that they and I
But lived where motley is worn:
All changed, changed utterly:
A terrible beauty is born.
William Butler Yeats
Margot is Vrouekeur se taalversorger. Sy lees baie boeke, het baie boeke en is baie omgewingsvriendelik!