Sowat twee jaar gelede het die aantreklike mnr De Beer en sy ma by my ingetrek. Hulle het oorkant die straat gewoon en hy het gereeld by my ingeloer. Toe het hy sommer by my begin slaap.
Margot Pakendorf-Schultz
Hy is groot en sterk en het ’n digte bos swart hare. Hy is gewoonlik baie vriendelik, maar hy kan nogal venynig wees en knou sy ma gereeld af. Hy is veral daarop gesteld om sy aandete betyds te kry en verwyt my as ek soms laat tuis kom en hy op sy kos moet wag. Dis nie asof daar niks is om te eet nie – ek sit altyd bakkies met snoepgoed vir hom en sy ma neer, maar hy hou van sy roetine.
Hy geniet dit altyd as my gaste hom bewonder. Hy maak asof hy nie hoor wat hulle sê nie, maar dis tog heel duidelik dat hy die aandag geniet. Sy ma hou haar dan gewoonlik maar skaars. Sy is nogal tingerig – ek kan nie dink hoe sy so ’n groot seun kan hê nie – maar baie fiks en aan die gang.
Hy is veral lief om in die aand as ek sit en lees, hom op die rusbank uit te strek en te slaap en soms selfs te snork. En in die bed hou hy my voete warm.
Hy maak gereeld moleste by die bure en dan moet ek gaan mooipraat. ’n Mannetjieskat is maar ’n skoorsoeker, maar tog dierbaar.
• Losweg gebaseer op Liebesgeschichte van Elke Heidenreich
Margot Pakendorf-Schultz het al oor en oor in Johannesburg, Pretoria, Kimberley en Berlyn (Duitsland) gewoon. Sy het nou in haar Bieblebom-huisie in Randparkrif tot rus gekom. Sy werk die afgelope drie jaar te lekker as ’n taalversorger by Vrouekeur.
Sy het drie volwasse kinders en vier oulike kleinseuns, twee in Johannesburg, twee in Stockholm. Sy hou baie van lees, tuinmaak, reis en katte.
Margot is Vrouekeur se taalversorger. Sy lees baie boeke, het baie boeke en is baie omgewingsvriendelik!