Hierdie boek het nogal opslae gemaak toe dit op 7 Januarie 2015 in Frankryk onder die titel Soumission (onderwerping) verskyn het – op die einste dag toe die Charlie Hebdo-moorde plaasgevind het.
Margot Pakendorf-Schultz
Om dié rede, en omdat Houellebecq eng bevriend was met Bernard Maris, een van die vermoordes, is daar verwag dat Soumission anti-Islamities en gewelddadig sou wees, maar dis allermins die geval.
Die roman is ongelooflik vinnig in Duits vertaal en verkoop besonder goed. Ek het dit gelukkig getref dat Duitse vriende ´n uitgawe begin Maart vir my gebring het – al die derde oplaag binne drie maande! In Engels het dit eers laas maand verskyn.
Die protagonis van die roman, François, is ´n professor aan die Sorbonne wat aan niks glo nie en geen verbintenisse, vriende of vaste verhoudings het nie. Hy is ´n pessimis wat meen dat die Westerse samelewing en demokrasie op ´n afdraande pad is, soos Houellebecq self seker ook maar, gesien sy ander boeke. Hy probeer by die Katolieke geloof aanklank vind, maar sy poging misluk. Hy leef op sy eie, eet kitskos en soek prostitute op, ´n tipiese Houellebecqse karakter en leefstyl. Die trant van die roman is baie stadig en sonder groot gebeurtenisse. Die geweld wat daar is, is op die agtergrond – die regering wil nie die bevolking verontrus nie.
Toe die baie redelike leier van die Moslembroederskap, Mohammed Ben Abbes, in 2022 die president van Frankryk word en belowe dat hy niks in die land behalwe die onderwys sal verander nie, verloor François, nes al die ander nie-Islamitiese personeellede en alle vroue, sy pos aan die universiteit. Hulle kry egter almal ruim vergoeding en dit stel hom tot ´n mate tevrede, want sy normale lewe gaan gewoon voort. Toe die nuwe rektor hom nooi om vir hom te kuier in ´n poging om hom te werf, en hy sien hoe goed hy leef (hy is met ´n ouer vrou en ´n 15-jarige meisie getroud en woon in ´n weelderige villa), begin ´n “bekering” aantrekliker lyk. Hy laat hom dan ook in die geloof aanvaar sonder dat hy enigsins die Koran bestudeer of gelowig is. Dit is bloot ´n siniese aanvaarding van ´n bepaalde leefwyse wat hy meen tot sy voordeel sou wees.
Die handeling herinner eintlik baie aan sy vorige roman, Atomised – dis die een banale gebeurtenis na die ander, met baie oppervlakkige seks en drank sonder dat enige karakter vastigheid of lewensin openbaar. Selfs die Moslems is nie vurige gelowiges nie en soek net hul eie voordeel. Houellebecq wil vermoedelik demonstreer hoe die Weste tot so ´n mate vervlak het dat die oorgang na ´n Salafistiese regering willoos aanvaar sou word. Die slotsom is dan dat Europa uit verveling of gebrek aan geloof of oortuigings terugkeer na ´n staatsgodsdiens wat alles reël en waaraan alles en almal onderwerp word.
In my kop spreek ek Houellebecq as Houjoubek uit, wat seker nie reg of van toepassing is nie, omdat hy juis nie sy mond hou oor die vervlakking wat hy in sy land bespeur nie. Dis net dat die oplossing of uiteinde waarop sy roman uitloop, ongewelddadigheid ten spyt, verontrustend en onaanvaarbaar is, veral vir my as vrou!
Die gedig-uittreksel vir die blog kom uit die bekroonde Suid-Afrikaanse digter Gabeba Baderoon se bundel The Dream in the Next Body.
Contemporary Architecture
…
Though you cannot tell from
the homeless grief of young men’s mothers,
the architecture of mosques aims to create
a space for love.
When they look at Gatesville mosque –
a sight from the news, but
to those who pray there,
familiar as a cheekbone –
most people will not see
it is excessively lovely.
To the outside eye,
the blue-domed mosque marks
a strange presence.
To the hungry, inside eye,
Its beauty grants a place in the world.
….
Margot is Vrouekeur se taalversorger. Sy lees baie boeke, het baie boeke en is baie omgewingsvriendelik!