Dié beroemde roman begin met die ewe beroemde opmerking dat alle gelukkige families eenders is …
Margot Pakendorf-Schultz
Dié beroemde roman begin met die ewe beroemde opmerking dat alle gelukkige families eenders is, maar dat ongelukkige families elk op hul eie manier ongelukkig is. En dan begin die storie van Stepan Oblonski, of Stiwa, soos die familie hom noem, wat ´n verhouding met ´n vroeëre goewernante van sy kinders het, en wie se vrou hewig ontsteld is toe sy daarvan hoor. Almal in die huis is half geïrriteerd met haar en wens sy wil bedaar. Sy is tog al 33 jaar oud en het sewe swangerskappe agter die rug, waarvan vyf kinders nog lewe. Sy is oud en afgerem en ten volle met die huishouding en die kinders besig. ´n Man het tog sy plesier in die lewe nodig.
Die reaksie op sy suster, Anna, ´n getroude vrou, se verhouding met Vronsky is egter heel anders, al is haar man vervelig en langdradig en sy jonk en opgewek. Dis dieselfde situasie, net omgekeer, maar die vrou se rol in die huwelik was destyds duidelik omskryf en durf nie oortree word nie. Terwyl Stiwa se vrou haar ontsteltenis te bowe kom en sy huwelik voortgaan, word Anna uiteindelik tot selfmoord gedryf. Sy werp haar voor ´n aankomende trein.
Anna Karenina is van 1873 tot 1877 geskryf, lank voordat vroue stemreg of dieselfde regte as mans geniet het.
Interessant genoeg het verskeie outeurs aan die einde van die negentiende eeu uitstekende romans geskryf oor vroue wat oor die tou trap en daaroor verguis word. In 1856 verskyn Madame Bovary (in 1948 deur FP van der Merwe as Mevrou Bovary vertaal), ´n baanbrekende boek deur Gustave Flaubert wat as een van die mees realistiese uitbeeldings van die tydsbestek beskou word. Dit handel oor ´n verveelde vrou wat verhoudings het omdat haar plattelandse lewe so sieldodend is. Uiteindelik neem sy ook haar eie lewe. Sy drink arseen.
Theodor Fontane se Effi Briest het in 1896 verskyn, en handel oor ´n bloedjong vrou wat met ´n baie ouer man getroud is en ´n verhouding met ´n ander man het, hoofsaaklik omdat sy eensaam en verveeld is. Lank nadat die verhouding al verby is, kom haar man, Instetten, op hul liefdesbriewe af en daag die man tot ´n tweegeveg uit waarin die voormalige geliefde sterf. Hulle skei, haar ouers wil weens die skande niks met haar te doen hê nie en haar kind is vervreem van haar. Uiteindelik sterf sy op 29 ná ´n senuwee-ineenstorting.
Al drie dié romans was opsienbarend in hul tyd, het bewondering en aandag geniet en word steeds as hoogtepunte van die skrywers se oeuvre beskou. Duidelik was dit ´n tema van die tyd wat aangespreek moes word. Telkens was die skrywer ´n man wat hom in die gemoed van ´n vrou verplaas het. Die romans se titels is ook telkens die naam van die hoofkarakter.
Die enigste vergelykbare Engelse roman waaraan ek kan dink, is Tess of the d’Urbervilles deur Thomas Hardy (1892). Dit beeld ook die lot van ´n jong vrou uit, maar Tess is nog ongetroud toe sy verkrag en swanger word. Sy verloor die kind en trou met ´n goeie man, aan wie sy haar wedervaringe vertel toe hy haar van sy vorige verhoudings praat, maar hy verwerp haar en uitendelik word sy ter dood veroordeel oor sy die verkragter doodgemaakhet.
Henrik Ibsen se toneelstuk Et dukkehjem, in Engels A Doll’s House (1879), handel ook oor ´n misnoegde vrou wat uit haar huwelik wil ontsnap. Sy voel sy word soos ´n kind of ´n pop behandel en verlaat die huis en haar man om haarself te vind. Sy pleeg darem nie selfmoord nie. Dit het destyds ook groot opslae gemaak en is steeds een van die mees opgevoerde toneelstukke ter wêreld.
As ´n mens bostaande verhale oordink, is dit duidelik dat nie alle gelukkige families eenders is soos Tolstoi dit wil sien nie, maar dat die mans in alle families eenders is en die vroue elkeen ongelukkig op haar eie manier is. Die mans se lewe gaan normaal voort, terwyl die vroue verwerp word en hul jong lewe ´n bittere einde vind.
Die gedig by dié blog is Sheila Cussons se repliek op NP Van Wyk Louw se “Wordende naakt”, wat hy geskryf het toe hy, ´n getroude man, in Amsterdam ´n verhouding met Cussons gehad het. Sy is Spanje toe nadat die verhouding beëindig is, daar het sy getrou en het deur ´n gasontploffing in die kombuis erge brandwonde opgedoen. Die bundel waaruit dié gedig kom, heet dan ook Die swart kombuis.
Bedekte naak
´n Gloed dra ek
tussen die wêreld en my bloed
meer myne, meer eie aan my as enigiets
´n sonder-naam
wat, om te vernietig
sou wees vernietiging van my:
o ondraaglike, tere, weerlose hemp van vlam.
Margot is Vrouekeur se taalversorger. Sy lees baie boeke, het baie boeke en is baie omgewingsvriendelik!