Margot Pakendorf-Schultz
By ´n UJ-prysoorhandiging – was dit vir Eilande of Wals met Matilda? – het Dan Sleigh die lof van leeskringe besing. Hulle bestaan volgens hom uit belese vroue wat met insig oor die boek onder bespreking kan praat. Hy is daarvoor bekend dat hy ´n renons in akademici en akademiese taal het en die gulle ontvangs van hom en sy boeke by leeskringe spoor hom glo aan om nog te skryf.
Die onlangse spreker by my leeskring was verbaas om vroue te sien vergader wat almal die boek onder bespreking óf self gekoop óf geleen het en in diepte daaroor kon praat. Hy het gedink almal sit en wyn drink en klets, het hy gesê. Dis waarvoor book clubs bekend is – die Engelse of Amerikaanse variant waar een of twee klublede afgevaardig word om na Exclusive Books te gaan en ´n stapel boeke vir die jaar te koop en dié word dan soos ´n biblioteek heen en weer geleen. Daar word glo bitter min oor die boeke gepraat, behalwe om te sê dat dié en daai een besonder mooi is, en verder hoofsaaklik gekuier en wyn gedrink.
Die voordeel van hierdie klubs vir boekwinkels is duidelik, en selfs die uitgewers wat agtergekom het watter boeke in boekklubs se smaak val, stoot ´n bepaalde voorkoms en inhoud volgens goeie verkope op die mark. Maar noudat e-boeke goedkoper en makliker bekombaar is as fisieke boeke, kwyn selfs die grootste boekkettings.
Ek was ´n kort rukkie deel van ´n boekklub waarheen elkeen van haar eie boeke op haar rak gebring het en dan was die idee dat ons dit uitruil en daaroor gesels. Dit was ´n goeie (en goedkoop) idee, maar dit het klaaglik misluk en ook maar in ´n kuierklub ontaard.
Die rede vir die spreker hierbo, en baie ander, se wanpersepsie oor Afrikaanse leeskringe, is dat dit altyd redelik eksklusiewe groepe is wat oor jare vriendskappe opgebou het en van wie ander mense nie noodwendig weet nie. Boonop was dit altyd net vroue wat lede was en so was mans heel onkundig en dikwels nuuskierig oor wat by die byeenkomste gebeur het. Die leeskring waaraan ek nou behoort, het inderdaad in sy sowat 30 jaar oue reëls gestipuleer dat net vroue lede mag wees! Tans behoort egter heelwat mans daaraan, en ons voorsitter is selfs ´n man.
Leeskringe het natuurlik ontstaan in ´n tyd toe vroue stimulasie en geselskap gesoek het, voor die koms van TV en Facebook en Pinterest. Daar is tans bitter min jong vroue wat aan leeskringe behoort, selfs dié wat saans vergader, en bedags is dit onmoontlik vir werkende vroue en moeders. Hoe was dit dan vroeër moontlik? Die leeskring waaraan ek behoort, vergader nog al die jareop ´n Woensdagmiddag om 3:00 – hoe het die vroue dit twintig, dertig jaar in hul daaglikse lewe ingepas? Die bloedjies hoef seker destyds nie na allerhande buitemuurse bedrywighede aangery te word nie.
Die leeskringe waarvan ek weet, kwyn ook maar namate die lede ouer word en nie meer saans of hoegenaamd wil of kan bestuur nie. Die era van leeskringe gaanseker maar verby, tot nadeel van skrywers, uitgewers en boekverspreiders. En lesers natuurlik!
Leserskring, die staatmaker van vele lesers, veral dié in die platteland sonder ´n boekwinkel in die omgewing, blaas altemit ook sy laaste asem uit. Hiertoe dra e-boeke seker grootliks by – tot die nadeel van Afrikaanse boeke, want dis hoofsaaklik Engelse (oorsese) boeke wat elektronies afgelaai word.
Nog ´n aandadige in sy heengaan is sekerlik die onbetroubare Poswese, wat self besig is om in te plof. My poskantoor het mos skielik toegemaak – toe ek daar kom, was dit woes en leeg en ek moes seker ses maande lank na ´n ou gebou gaan waar posstukke in kratte opgehoop is en die beampte (as hy die dag daar was!) moes deur die stapels blaai om briewe vir my te soek. Nou is daar net ´n ou geroeste staander met posbusse wat met mag en mening oopgepluk moet word. As daar die dag ´n pakkie vir my is, weet ek nie waarheen ek met die strokie sal moet gaan nie.
Dit lyk dus bedroewend vir die Afrikaanse letterkunde en uitgewery. Ek glo egter dat die toegewyde leser steeds getrou aan Afrikaanse boeke en lees sal bly.
My gediggie vir die geleentheid staan op die agterkant van ´n T-hemp van die sogenaamde Boekeparadys, ´n mekka vir lesers. Ek het dit dekades gelede by ´n vroeë KKNK gekoop.
Afrikaners, landgenote
Roer die alies, lig die pote
Jul’t ´n taal wat goed vir praat is
Praat hom nou voor dit te laat is.
Philip de Vos
Margot is Vrouekeur se taalversorger. Sy lees baie boeke, het baie boeke en is baie omgewingsvriendelik!