Oorle vermaledyde Cecil Rhodes het glo op sy sterfbed gesê “so much to do, so little done!”
Margot Pakendorf-Schultz
Oorle vermaledyde Cecil Rhodes het glo op sy sterfbed gesê “so much to do, so little done!”, al het hy meer geld gemaak en opsienbare dinge gedoen as vele ander. Hy was skatryk voorsitter van De Beers, die premier van die Kaapkolonie, het ‘n inval onder Jameson gereël en selfs ‘n land na homself laat vernoem. Sy nagedagtenis is steeds, na honderd jaar, vir vele ‘n steen, oftewel monument, des aanstoots.
Ek het geen ambisies om ’n land na my te laat vernoem nie, en pas net sy sterfbedwoorde aan om te sug “soveel boeke, so min tyd!” Dus luister ek na oudioboeke. Dis verbasend hoeveel luistertyd ek op pad werk toe en terug inpas, en hoeveel boeke ek intiem ken sonder dat ek hulle self gelees het. Dit spaar ook boekrakspasie, want so ’n luisterboek is smaller as ‘n properse papierboek.
So luister ek nou my pad oop deur ’n hele kissie CD’s met Heinrich von Kleist se versamelde werke (hy het nie oud geword nie dus is die kissie nie so vol soos Goethe s’n byvoorbeeld sou wees nie). Ek is laas week midde-in een van sy bekendste vertellings, Michael Kohlhaas, toe ek verpletterende nuus kry wat my baie simpatie met die protagonis Kohlhaas laat voel het.
Kohlhaas was ’n perdeverkoper wat deur die verskillende graafskappe en hertogdomme van wat later Duitsland sou word, gereis het en oral afsetpunte gehad het. Toe hy eendag skielik deur ’n slagboom voorgekeer word en daar bars ’n passeerdokument van hom geëis word (’n vroeë e-tolskyfie), is hy verplig om twee perde met ’n kneg om hulle te versorg daar te laat. Toe hy in die volgende groot stad, Dresden, na so ’n passeerdokument vra, hoor hy die Junker Wenzel von Tronka (wat ’n gepaste naam!) wat dit van hom geëis het, het nie die reg daartoe nie (soos baie nou ook oor die e-tollenaars voel). Hy ry dus terug om sy perde op te eis en vind hulle is die ene vel en been en sy kneg is verniel en weggejaag.
Hy kry geen ordentlike antwoord op sy vrae nie en hy los sy perde net daar en ry woedend huis toe. Van toe af wentel sy lewe net om sy eis om geregtigheid te kry: Tronka moet gestraf word en sy twee perde moet vetgevreet aan hom terugbesorg word. Hy moor en steek brand so ver as hy en die gespuis wat by hom aangesluit het, agter Tronka aan jaag. Selfs Martin Luther moet intree toe hy Wittenberg begin afbrand – die verhaal is op ’n historiese gebeurtenis gegrond. Eers toe hy al op pad na die skavot is, kry hy sy twee vetgevrete perde (en gee hulle vir sy seuns) en die nuus dat Tronka ’n paar jaar in die tronk deurgebring het. Toe is hy uiteindelik tevrede dat geregtigheid geseëvier het en gaan sy dood met ’n geruste gemoed tegemoet. As ’n simbool vir iemand wat geregtigheid om elke prys najaag, is Michael Kohlhaas steeds lewendig in die Duitse beeldspraak.
Die nuus wat my soos Kohlhaas na geregtigheid laat smag, is dat ek glo ’n bedrag met vyf nulle aan die stadsraad verskuldig is vir water wat kwansuis uit ’n pyp op my erf gelek het. Dit moes darem baie lank en baie erg gelek het om soveel duisende rande se water op te lewer. En dit nogal sonder dat ek dit agtergekom het.
Ek het met intense belangstelling na Michael Kohlhaas geluister en ook ’n opwelling van magtelose woede ervaar. Ek oorweeg darem nie moord en brandstigting nie, maar voel baie wrewelrig en soek naarstig na ’n goedkoper en regverdiger opsie as die wet van Transvaal.
My volgende luisterboek gaan oor Genghis Khan – miskien moet ek liewer na gedigte of ’n romantiese verhaal soek?
Klaaglied vir Koos
Ek heg vandag nie ’n gedig nie, maar die beginwoorde van Lettie Viljoen (aka Ingrid Winterbach) se Klaaglied vir Koos aan, wat my gevoelens perfek verwoord:
Buite skop ek die tuinhek van binne af oop, dat hy ver verby sy normale swaai swáái, en toe skop ek hom van die ander kant af terug, dat sy skarniere ingee. (Dis ’n ou hek.) Minstens vier paar oë hou my dop. Ek stamp my kind in die kar. Ek slaan die deur toe. Ek rev die kar. Hier begin my relaas.
Wat help dit om te skop. Die feite is die onontkenbare feite.
Margot is Vrouekeur se taalversorger. Sy lees baie boeke, het baie boeke en is baie omgewingsvriendelik!