Boeke oor die verlede bly tog maar interessant, hoe lank gelede ook al.
Margot Pakendorf-Schultz
So luister ek tans in die kar na Hilary Mantel se romans oor Thomas Cromwell, eers Wolf Hall en dan Bring up the Bodies. Die vrouens in die roman, die oud-koningin Catherine en Anne Boleyn met wie Henry VIII teen wil en dank trou, se hoofdoel was om seuns te gebaar, maar elkeen kry dit net reg om een dogter te kry: Mary en Elizabeth. Hulle is uitgelewer aan die koning se giere en hul voortplantingsvermoë. Die boeke waaroor ek hieronder skryf, gaan ook oor twee vroue en die mans wat seggenskap oor hul liggame gehad het.
Die leeskring waaraan ek behoort, het laas maand Kamphoer deur Francois Smith behandel, wat van die Anglo-Boereoorlog tot ná die Tweede Wêreldoorlog strek, en laas week was Ester deur Kerneels Breytenbach aan die beurt. Dié speel in 1946 af, dus direk ná die Tweede Wêreldoorlog, maar ook twee jaar voor die Nasionale Party onder DF Malan aan die bewind gekom het. Albei is op historiese gegewens en mense wat werklik geleef het, gebaseer. Die hoofkarakters is albei vrouens en die skrywers is mans. Dis omtrent waar die ooreenkomste ophou.
Die boeke verskil hemelsbreed: die een word ‘n hoer genoem deur die wagte in die konsentrasiekamp wat haar verkrag, hoewel sy allermins een is, terwyl die ander een haar daarop roem dat sy ‘n prostituut in Berlyn was en vir die Nazi-saak op haar “klante” gespioeneer het.
Die veragte, verkragte Susan Nell in Kamphoer word vir dood aangesien en beland op ‘n hoop lyke, waar ‘n Sotho-man op haar afkom en met sy en ‘n ou vrou se hulp kom sy weer op die been. Sy studeer later in Nederland en soos soveel mense wat heling soek, word sy ‘n sielkundige. Sy spesialiseer in werk met oudsoldate wat aan bomskok ly. So loop sy haar verkragters weer raak. Haar verhaal word met deernis om die beurt vanuit haar en ‘n onbetrokke waarnemer se oogpunt vertel.
In Ester word die hoofkarakter as ’n soort Mata Hari daargestel wat onder ‘n skuilnaam as ’n spioen opgetree het. Die handeling speel hoofsaaklik op ’n trein af waarmee sy van Windhoek na Kaapstad geneem word om voor ’n spesiale komitee van die parlement verslag te doen oor haar ontmoeting met DF Malan gedurende die oorlog. Sy knoop dadelik ’n seksuele verhouding met die polisiebeampte aan wat haar moet begelei, en het al die mans op die trein op hol met haar klere en gedrag. Die verhaal word dekades later uit die oogpunt van ’n breedsprakige Broederbond-advokaat vertel wat haar (steeds!) begeer en hom verbeel wat sy en die polisieman alles aangevang het.
Dus twee uiteenlopende boeke oor twee vroue wat hul selfwaarde aan die mans in hul lewe gemeet het.
Gedig
Ter afsluiting die aanvangstrofes van ’n gedig waarin ’n man beskryf hoe ’n vrou haar klere vir sy plesier uittrek:
Wordende naakt (uittreksel)
Nou gly die jakkie af, die donker-rooie,
van die linker- eers en dan die regterskouer,
dan glip die grys trui oor die donker kop
en leef die borsies in die buustehouer
dan skiet haar hande oor die okselboste
vinnig gekruis, en in ’n oomblik val
die linte en die twee wit neste af
en tril die tweeling-bergies oor hul dal
NP Van Wyk Louw
Margot is Vrouekeur se taalversorger. Sy lees baie boeke, het baie boeke en is baie omgewingsvriendelik!