Laas toe ek Coetzee gelees het, was toe Disgrace op almal se lippe was (nie noodwendig op almal se boekrak nie!) en toe my leeskring The Childhood of Jesus op die lys sit, het ek begin om al die ongeleesde boeke op my rak deur te werk. En daar sien ek hoeveel sy “Australiese” boeke van sy vroeëres verskil.
Margot Pakendorf-Schultz
Disgrace (1999) was JM Coetzee se laaste Suid-Afrikaanse roman. En watter formidabele boek is dit nie! Hy het dit moontlik as sy afskeidsboek gekonsipieer. Hy beskryf die politieke en bevolkingswerklikheid van die tyd soos geen ander nie. Suid-Afrikaanse lesers weet byvoorbeeld dadelik waar elke karakter hoort sonder dat die velkleur ooit genoem word; dit is implisiet duidelik. Ek het agtergekom dat ´n Duitse vriendin nie gesnap het wat inheemses met die eerste oogopslag weet nie.
Hy het hom oënskynlik voorgeneem om nie weer ´n Suid-Afrikaanse roman te skryf nie; ook beter so, want skrywers wat in die buiteland woon, raak dikwels die kluts kwyt en maak foute omdat dinge hier te lande van dag tot dag verander en buitestanders dit nie so maklik optel nie.
Coetzee het in 2002 na Australië geëmigreer, die jaar toe Youth verskyn het, sy tweede outobiografiese boek ( Boyhood was die eerste een; dit het in 1997 verskyn). Summertime (2009), word as die derde outobiografiese boek beskou, hoewel dit net tot ´n mindere mate een is – hy het byvoorbeeld nooit ´n huis met sy pa in Tokai gedeel nie; toe hy daar gewoon het, was hy al getroud en pa van twee kinders . Dit is eerder ´n speelse uitryging van sy seksuele en sosiale tekortkomings. Dis ´n kamma-biografie van oorle John Coetzee bestaande uit onderhoude met diverse mense wat hom kwansuis geken het. Dis ironies dat sy werklike biograaf, JC Kannemeyer, sterf kort nadat hy sy monumentale werk oor die lewende Coetzee klaar geskryf het.
Coetzee was 62 toe hy verhuis het en sy mees onlangse boeke het telkens ´n bejaarde man as hoofkarakter. In Slow Man (2005) was die protagonis in ´n fietsongeluk en sy een been is afgesit – ´n onsubtiele manier om te sê dat hy met net een voet in die land van die lewendes (of in Australië)is. Hy word deur ´n vrou versorg wat uit Kroasië kom en beskou homself as ´n halwe Fransman. Ook Diary of a Bad Year handel oor ´n ou man (met die naam John Coetzee, afkomstig uit Suid-Afrika) wat nog ´n immigrant, ook ´n vrou, vra om hom met sy tikwerk te help. Regte Australiërs kom eintlik nie voor nie, behalwe vir Elizabeth Costello, ´n karakter wat hy in ander van sy boeke ingespan het en wat hier eintlik soos ´n skim, ´n deus ex machina, optree.
Elizabeth Costello (2003) beskou ek as ´n “verleentheidspublikasie”, ´n oorbrugging van sy Suid-Afrikaanse en Australiese skryfwerk. The Lives of Animals het, soos Disgrace, in 1999 verskyn, en die lesings van die fiktiewe beroemde Australiese skrywer Elizabeth Costello wat hierin vervat is, verskyn met byvoegings in die boek van 2003. Ook Diary of a Bad Year bevat kort essays wat die ou man vir ´n Duitse boek skryf – dis asof Coetzee wegkoes in lesings en essays oor hy nie die werklikheid om hom in sy gebeente ken soos die Suid-Afrikaanse nie.
Ook die fantasieverhaal The Childhood of Jesus (2013) het ´n ouer man as protagonis wat na ´n jong seun omsien in ´n vreemde land waaraan hy nog gewoond moet raak en wie se taal hy nie mooi bemeester het nie.
Die gedig hierby is deur Breyten Breytenbach, ook ´n uitgewekene, en een jaar ouer as Coetzee, wat ook “intimations of mortality” soos TS Eliot dit noem, voel.
vraag
wat bly oor van my lewe
noudat dit verdwyn het
onder ´n tapisserie woorde
vliegkak voëlspore
krabbels onverwante
en sinnelose slagspreuke
uitroeptekens en ander snikke
ink soos rowe en korse bloed
ink ink ink
Margot is Vrouekeur se taalversorger. Sy lees baie boeke, het baie boeke en is baie omgewingsvriendelik!