Deur ´n gelukkie het ek ´n Duitse vertaling van Alice in Wonderland (1973, deur Christian Enzensberger) én ´n Afrikaanse vertaling van albei Alice-boeke as Die avonture van Alice (1987, deur André P Brink) by Charl se tweedehandse-boekwinkel naby my in die hande gekry. So kon ek hulle ook nadertrek toe ek die oorspronklike Engelse weergawes gelees het.
Margot Pakendorf-Schultz
Is dit nie interessant nie dat sulke aarts-Engelse boeke keer op keer vertaal word nie! Dele daarvan is so deurspek van onvertaalbare Engelse woordspeletjies en verwysings dat dit ´n groot kreatiewe uitdaging vir vertalers bied. Dis seker van die moeilikste vertaalprojekte wat daar is en dikwels aard dit in ´n herskryf uit omdat die Engelse puns net nie in ´n ander taal gerepliseer kan word nie. So verduidelik André P Brink in die voorwoord hoe hy probleme omseil het: hy noem byvoorbeeld die ou waterskilpad ´n “leervis” omdat dit in Engels heet “We called him Tortoise because he taught us.” Dit is een van vele onoorkomelike probleme.
Boonop het uitdrukkings en karakters uit die boek só deel geword van die Britse kultuur en taal dat dit amper gevaarlik is om karakters ander name te gee. So noem die Duitse vertaler die Jabberwocky Zipferlak en Brink kom met Brabbelwoggel; hy behou Tweedledum en Tweedledee se Engelse name, terwyl hulle in Duits Zwiddeldei en Zwiddeldum is. In Duitsland is die Engelse weergawe natuurlik skaars bekend, veral nie by kinders nie, terwyl Suid-Afrikaanse lesers wel deeglik die Engelse name van die bekende karakters ken.
Dis amper ´n heel ander boek as jy hom in vertaling lees (kyk maar na die Jabberwocky hieronder!), maar dis die oeroue probleem van vertalers. Iemand het iewers iets gesê soos vertaling is soos ´n vrou: as sy mooi is, is sy nie getrou nie, as sy getrou is, is sy nie mooi nie – getrou natuurlik in die sin van getrou aan die oorspronklike. As ´n teks te stompsinnig getrou en letterlik vertaal word, is dit onverteerbaar. Dit moet die taal van die leser omvat en weergee; dit moet onvertaal klink, met die regte idioom en aanvoeling vir die bronteks. Brink en Enzensberger slaag albei daarin om die teks te laat huppel en giggel, nes die oorspronklike.
Een van die beroemdste Alice-gedigte is die sinlose “dolrympie” soos Brink dit noem, “Jabberwocky”, wat met sy meesleurende ritme kinders (en volwassenes!) met sy rare woordeskat fassineer.
Hier is die eerste strofes in die oorspronklike Engels en Brink se Afrikaanse vertaling daarvan:
JABBERWOCKY
‘Twas brillig, and the slithy toves
Did gyre and gimble in the wabe:
All mimsy were the botogoves,
And the mome raths outgrabe.
“Beware the Jabberwock, my son!
The jaws that bite, the claws that catch!
Beware the Jubjub bird, and shun
The frumious Bandersnatch!”
He took his vorpal sword in hand:
Long time the manxome foe he sought –
So rested he by the Tumtum tree,
And stood awhile in thought.
BRABBELWOGGEL
Dis brillig en die glyme likkedis
Drool en drindel in die weib;
Bibberkolies is die borogis
En die vniere rode sneib.
“Pas op vir die Brabbelwog, my seun!
Sy tande byt, sy kloue knyp!
Pas op vir die Joepjoepvoël se dreun
En die wroedige Ribberknyp!”
Hy vat sy swerpe sabel vas
En soek die afgemankste ding –
By die Toemtoemboom met die ronde kwas
Gaan staan hy eers en dink.
Margot is Vrouekeur se taalversorger. Sy lees baie boeke, het baie boeke en is baie omgewingsvriendelik!