Ons Suid-Afrikaners is darem baie gelukkig dat ons so baiewaarlik goeie skrywers het. Soos Harry Kalmer, wat keer op keer met iets nuuts vorendag kom, in styl en aanbieding. Hy behoort baie meer aandag en pryse te kry!
Margot Pakendorf-Schultz
Hierdie boek bestaan uit ´n menigte (is dit regtig ´n duisend?) kort verhaaltjies oor Johannesburg en Johannesburgers van die Anglo-Boereoorlog af tot nou. Jy lees nog so lekker en skielik besef jy dit gaan oor een van die tweeling oor wie jy vroeër gelees het, en dan duik ander bekendes tersluiks op, en plekke kom weer ter sprake. En so aan en aan. ´n Genot van begin tot end.
Dis ‘n kaleidoskoop wat telkens op ´n nuwe storie oopvou as jy by wyse van spreke die buis omdraai. Nes ´n kaleidoskoop uit ´n vaste getal stukkies bont glas bestaan, bestaan die stories uit bepaalde karakters en plekke wat telkens in ´n ander betrekking tot die ander karakters en plekke staan.
So begin jy besef daar is temas wat herhaal: die geboorte van die tweeling in die Kristallnacht in Duitsland (toe Jode se winkels en wonings afgebrand is), word weerspieël deur die vlugtelingkind wat in Johannesburg gebore word en amper deur townshipbewoners uit haar ma se arms geruk word om verbrand te word terwyl xenofobie hoogty vier. ´n Soortgelyke gebeurtenis in ´n heel ander konteks en tydsgewrig. Die konsentrasiekampfoto met die brandmaer kindertjies waarmee die roman begin, pas ook in hierdie groef van vreemdelingehaat.
Daar is ook herhaaldelik sprake van geweld: die Grensoorlog, die onluste in die townships in 1976, bannelinge in Ceylon ná die Anglo-Boereoorlog, ook geweld en moorde in die stad en townships. Alles word gejusktaponeer in klein briljante kamees.
Die duisend stories verwys natuurlik na Sjeheresade se Duisend en een nag (is Kalmer die lesers se Sjeheresade wat die duisend en eerste verhaal vir ons vertel?). Die stories oor Ali Baba word dikwels genoem, van die ouma wat dit vir haar kleinkinders vertel tot Serenita wat vir Zweig van die verhale in Londen vertel, waarheen hulle uitgewyk het omdat hul liefde in Suid-Afrika verbode was. Die karakter Cherie is ´n omgekeerde Sjeheresade, wat mense hul eie stories voor ´n kamera laat vertel – sy mik vir ´n duisend vertellings, sê sy.
Bannelinge is nog ´n patroon wat die kaleidoskoop wys: van die Afrika-vlugtelinge na die Chinese in Suid-Afrika na die Barbarian Book Club in Londen, waaraan net inkommers mag behoort, en die Boere in Ceylon. Daar is ook boekwinkels wat ´n saamkomplek vir ontheemdes is: Transvaal Books met sy verbode boeke en Oscar James se boekwinkel in Londen. Die roman wemel ook dwarsdeur van boeke, boektitels, skrywers en dié se lesers wat daaroor praat.
Daar is selfs ´n digter wat in ´n selfhelpboek oor hoe om gedigte te skryf, geleer het dat reëls nie meer as ses woorde mag bevat nie en volgens dié resep ´n bekroonde digbundel skryf. Daarom is daar by dié blog twee gedigte wat op dig en beslis ook op dié roman betrekking het.
Hoe om ´n bundel Chinese poësie te skryf
Skryf op snippertjies papier:
Berg, bamboes en blom,
verder: boom en stroom en droom,
en skommel telkens om
DJ Opperman
jy moet die gedig benader
soos ´n Indiaan beweging snags met die oog bekruip:
deur nie direk na dit wat jy wil sien te kyk nie
bespeur jy die roering
wanneer dit opstaan om te vlieg
en siedaar!
die gedig is afwesigheid
Breyten Breytenbach
Margot is Vrouekeur se taalversorger. Sy lees baie boeke, het baie boeke en is baie omgewingsvriendelik!