Aangesien Günter Grass vanjaar oorlede is en die leeskring waaraan ek behoort, besluit het om in November die DVD van Die Blechtrommel (The Tin Drum)van Volker Schlöndorff te kyk, het ek my voorgeneem om die boek voor die tyd te lees.
Margot Pakendorf-Schultz
Wat ´n moeisame onderneming! Ek het bitter stadig gevorder met die lywige boek bestaande uit in mekaar vervlegte en geknoopte sinne en magiese realisme wat letterlik vir niks skrik nie.
Grass het die Nobelprys vir letterkunde in 1999 ontvang, sowat 40 jaar nadat Die Blechtrommel vir die eerste keer verskyn het. Die toekenningsjaar het seker iets met die historiese gebeure in Duitsland te doen – pas ná die val van die muur – want die Nobel beloon meestal nie net die skrywer nie(wat natuurlik wel uitstekend moet wees), maar ook sy of haar betrokkenheid by sy of haar land. Só gesien is vanjaar se toekenning aan die Belorus Svetlana Alexievich, die eerste joernalis wat dié prys wen, nie net ´n erkenning van haar skryftalent nie, maar ook van haar vreeslose volgehoue oopvlekking van wantoestande in Rusland.
In Die Blechtrommel slaan die karakter Oskar Matzerath die trom en beskryf gebeure in die Tweede Wêreldoorlog sonder om doekies om te draai , en so het Grass ook sy hele lewe betrokke gebly en ´n onwrikbare, kritiese oog op ontwikkelings in Duitsland gehou.
Oskar Matzerath, die verteller van die verhaal, is ´n amper demoniese karakter wat as baba al besluit om nie ouer as drie te word nie en ook dwarsdeur die oorlog fisies klein bly en maak asof hy nie kan praat nie. Hy interpreteer alles om hom met sy bliktrom, wat hy op sy derde verjaarsdag gekry het. Hy is indirek en direk verantwoordelik vir die dood van sy oom, wat hy as sy vermoedelike pa beskou, sy werklike pa en ander persone, sonder om regtig berou of insig te wys. Hy beskryf al die gebeure sonder emosie of intrepretasie.
Ná sy pa se dood aan die einde van die oorlog besluit hy om te groei en hy word wel effens groter, maar hy kry ´n boggelrug en bly maar redelik klein. Hy speel steeds die trom en word beroemd en baie ryk met sy uitvoerings. Die toehoorders kan die gebeure wat hy op sy trom weergee, verstaan en veral ouer mense is in vervoering oor hom. Hy beland in ´n inrigting gedurende ´n ondersoek na sy betrokkenheid by ´n vrou se dood nadat hy ´n lyk se vinger in´n veld gevind het, en sou graag daar wou bly. Hy is teleurgesteld toe die hof hom van alle blaam onthef en hy na die buitewêreld kan terugkeer.
Waarna Oskar telkens verlang, is om onder sy ouma se vier omvangryke grondkleurige rompe wat sy oor mekaar gedra het, in te kruip. Daar het hy geborge voel; ´n soort primordiale baarmoeder waar hy skuiling kon vind. Ná sy ontslag uit die inrigting moet hy die werklike lewe sonder die stutte van sy trom en kinderlikheid trotseer.
In dié sin is die gedig “Der Andere” van Hans Magnus Enzensberger, vertaal deur homself en Michael Hamburger van toepassing:
The Other
One laughs
is worried
under the sky exposes my face and my hair
makes words roll out of my mouth
one who has money and fears and a passport
one who quarrels and loves
one moves
one struggles
but not I
I am the other
who does not laugh
who has no face to expose to the sky
and no words in his mouth
who is unacquainted with me with himself
not I: the other: always the other
who neither wins nor loses
who is not worried
who does not move
the other
indifferent to himself
of whom I know nothing
of whom nobody knows who he is
who does not move me
that is I
Margot is Vrouekeur se taalversorger. Sy lees baie boeke, het baie boeke en is baie omgewingsvriendelik!