Dis selde dat ´n mens ´n boek deur ´n manlike skrywer (vroeër sou die term skrywer hom reeds as man gekenmerk het, maar nou volg ons die nuwe mode na en maak alle benoemings manlik, dus mag daar nie meer so iets soos ´n skryfster wees nie) lees wat met ´n oortuigende en waar vrouestem praat. Colm Toíbín se Brooklyn is so een.
Dit is nie verbasend dat Toíbín ´n roman oor Henry James geskryf het nie – The Master – want sy skryfstyl herinner nogal baie aan James s’n en hy is kennelik baie deur hom beïnvloed. Hy het ook so ´n “vroulike” aanslag gehad wat emosies voelbaar maak deur gebeure eerder as deur beskrywings.
Brooklyn handel oor Eilis Lacey, wat in die vyftigerjare in Ierland woon en weens gebrek aan werk en deur ´n guns van ´n Katolieke priester Amerika toe kan verhuis. Daar kry sy werk, studeer in die aand, woon in ´n losieshuis saam met ander Ierse vroue en raak verlief op Tony. Wanneer haar geliefde suster sterf en sy verplig voel om haar ma te gaan bystaan, reis sy terug Ierland toe. Voor sy vertrek, trou sy in die geheim voor die magistraat met Tony omdat hy wil seker maak sy kom terug.
Skielik is sy gesog; met haar Amerikaanse klere en selfversekerde optrede trek sy die aandag van ´n man wat haar vroeër afgejak het en sy kry maklik ´n werk. Sy word weer tuis in haar ma se huis, kuier met haar maats en sou graag wou bly, maar Tony wag vir haar en uiteindelik gaan sy weer terug Brooklyn toe.
Die roman handel oor waar ´n mens tuis hoort, oor migrasie, oor opofferings en aanpassings, oor emosionele aansprake van die familie en die geliefde, en oor die dwang waaronder die jong vrou in al dié opsigte verkeer. Sy moet die reis Amerika toe aanpak om haar gesin finansieel te help, sy moet studeer om ´n beter pos te kan kry, maar as sy die dag in die kerk met Tony trou, moet sy ophou werk en ´n voltydse huisvrou en ma word. Haar lewe word deurgaans deur ander se vaste oortuigings en die gebruike van die tyd bepaal. En oral is daar sedebewakers: in die losieshuis, die kerk en in haar tuisdorp word sy dopgehou en beoordeel.
Dit klink als baie negatief, maar dis geensins ´n tranetrekker nie: dis ´n pragtige, aangrypende verhaal. Toíbín sit in geen situasie of beskrywing ´n voetjie verkeerd nie en jy beleef die jong vrou se lewe asof dit jou eie is. En jy is maar net tedankbaar dat die lewensomstandighede vir jong vroue sedertdien soveel verbeter het!
Die gedig vir dié blog is in die eerste, geredigeerde uitawe van Emily Dickinson se groot nalatenskap met die titel The wife voorsien, maar in later uitgawes verskyn dit sonder dié onnodige opskrif.
She rose to his requirement, dropped
The playthings of her life
To take the honorable work
Of woman and of wife.
If aught she missed in her new day
Of amplitude, or awe,
Or first perspective, or the gold
In using wore away,
It lay unmentioned, as the sea
Develops pearl and weed,
But only to himself is known
The fathoms they abide.
Margot is Vrouekeur se taalversorger. Sy lees baie boeke, het baie boeke en is baie omgewingsvriendelik!