Toe ek Kersfees ´n serp kry met tonele uit Alice in Wonderland daarop afgedruk, het ek my voorgeneem om die oorspronklike teks weer te lees.
Margot Pakendorf-Schultz
Toe ek Kersfees ´n serp kry met tonele uit Alice in Wonderland daarop afgedruk, het ek my voorgeneem om die oorspronklike teks weer te lees. Nou is dit winter en my serp hou my nek warm en spoor my aan om die twee ou kinderboeke (wat volwassenes net so graag lees) uit die rak te neem. My serp het ´n stuk van die begin van op, toe sy vir die eerste keer die wit haas met die sakhorlosie sien, en ´n stuk van die Mad Hatter se teepartytjie, waar die Hatter sê sy koppie is vuil, hulle moet opskuif sodat hy by ´n skoon koppie kan sit, tipies van die eienaardige kreature waarvan die boeke wemel, en wat kinders besonder snaaks vind.
Margot se Alice-serp en ’n foto van die “regte” Alice in
’n boek waarin mens nog Lewis Carroll se handgeskrewe
storie kan sien.
Op 4 Julie 1862 het die wiskundelektor Charles Dodgson en sy vriend, eerw Duckworth en die drie dogters van Henry Liddell, die dekaan van Christ Church in Oxford, Edith (8), Alice (10) en Lorina (13) ´n bootuitstappie gemaak. Dodgson het stories uitgedink om die meisies te vermaak. Hy was baie skaam en het gehakkel in vowassenes se geselskap, maar was baie lief vir dogters – te lief, sê baie mense nou. Hy het foto’s van hulle geneem, selfs naakfoto’s soos ons nou weet, maar daar word aanvaar dat geen verdere welvoeglikheidsgrense oortree is nie. Hy het beroemd geword as Lewis Carroll (hy het sy name Charles Lutwidge vervorm en omgeruil om sy skuilnaam te maak) en sy boeke is onsterflik.
Dodgson was veral lief vir klein Alice en het die storie wat hy dié middag uitgedink het, netjies oorgeskryf en geïllustreer en dit as Alice’s Adventures under Ground as Kersgeskenk vir haar gegee. Ek het op ´n faksimilee daarvan in ´n tweedehandse-boekwinkel afgekom. Dis nogal merkwaardig om die oorspronklike, eenmalige, handgeskrewe boekie wat die kind Alice meer as ´n eeu gelede gekry het, in my hand te hou. Of dan ´n afdruk daarvan. Soos ´n mens op die foto kan sien, het sy heeltemal anders as die ikoniese illustrasie van sir John Tenniel gelyk, waarop sy lang, blonde hare het. Die kunstenaar het opsetlik sy verbeelding gebruik en wou na geen foto’s van die regte Alice kyk nie. Carroll was ontevrede dat haar voet so klein en haar kop so groot is!
Vriende wat die handgeskrewe boekie gelees het, het Dodgson aangemoedig om dit te publiseer. Hy het toe´n klompie bykomende stories uitgedink, soos die Mad Hatter’s tea party, die Cheshire cat en die Ugly Duchess, en dis op 4 Julie 1865 gepubliseer, op die dag drie jaar ná die “golden afternoon” toe die storie ontstaan het. Alice in Wonderland, soos dit van toe af genoem word, was sedertdien nog nooit uit druk nie.
Dit was inderdaad só gewild dat hy ´n vervolg geskryf het, Alice through the looking-glass, waarin sy wiskundige agtergrond deurskemer: die verhaal is as ´n skaakspel gekonsipieer, met die karakters as skaakfigure. Dit was nie so gewild soos Wonderland nie, en net sommige episodes daaruit is algemeen bekend. Dis nie so spontaan soos sy voorganger nie; dit doen meer “uitgedink” aan en is minder speels.
Volgens André P Brink het Carroll se vloed van lagwekkende, groteske en sinlose stories en sy gebruik van woord- en gedagtespeletjies ´n groot invloed op wêreldletterkunde gehad. Hy was eintlik in vele opsigte ´n voorloper van die postmodernisme, soos byvoorbeeld in die toneel in Looking-glass waar Alice op die slapende swart koning afkom. Sy wil hom wakker maak, maar Tweedledum en Tweedledee waarsku haar dat “you’re only one of the things in his dream. You know very well you’re not real.”
Indirek het ´n gedig soos “Jabberwocky” ook tot die woordverwringings in Peter Blum se gedig “Man wat mal word” gelei.
MAN WAT MAL WORD
Onbepeilboor die dag, maar die bewoespyn dààr
dat al-lis beslote is en slags ék oop
vir enige skerf nael, skermloos teen die oog
wat drin die werwel noulet, fynynig vaam
tort in die klier. War-om? Alluin ´n kwik haat
het hierdie verstrooide pynpuin in kontrole
nog somgehou. Waarvuur? Maar tussen gus knook
en wrig het die endtwoord in duisdelike taal
eindelig hoopgebron: Wie só uitgedeel
aan die al is, het die al in hom begryp –
en dit ís liefde: kán dus in die greep
van één drong woord kraal wat alle enkelheid
ophef, mág met kloktong die warreld vry, móét preek
wat voldoen om juble te vrymaak: WOKNAKWYF!
Margot is Vrouekeur se taalversorger. Sy lees baie boeke, het baie boeke en is baie omgewingsvriendelik!